Pret in die Noord-Kaap se stof

akkreditasie
Foto: Verskaf.
Foto: Verskaf.
Kom geniet Vanwyksvlei se gasvryheid, die reuk van petrol, olie en stof, ou karre, goeie musiek en sommer baie ander woeste, wilde dinge (en mense) by vanjaar se Bull Run.

Die Weg Ry & Sleep Bull Run sak van 6 tot 8 Oktober vanjaar weer op die Noord-Kaapse dorpie Vanwyksvlei toe… en ouder gewoonte beloof dit om weer ’n naweek vol aksie te wees.

Die Weg Ry & Sleep Bull Run is ’n byeenkoms wat sy gelyke in Suid-Afrika nie ken nie. Nagenoeg 150 spanne van reg oor die land lê aan die einde van die kort skoolvakansie vanjaar tussen hulle etlike duisende kilometers af om by Vanwyksvlei met hulle rygoed te kom speel in die stof. Die reëls om in te skryf is eenvoudig: Jou kar moet ouer as ’n 1985-model wees en hy mag nie meer as R30 000 kos nie.

Dan kry jy vir jou ’n klompie spanmaats bymekaar – dis raadsaam om minstens één te kies wat verstaan wat onder ’n motor se enjinkap aangaan – nooi ’n klomp ondersteuners en kom skop jou skoene uit. En dan beleef jy ’n paar dae lank dié jaarlikse kleurryke byeenkoms. 

Danksy die sukses van die byeenkoms is die Bull Run die eerste ding wat by ’n mens opkom wanneer jy aan Vanwyksvlei dink. En dié dorp sit in ’n spesiale deel van elke Bull Runner se hart, want dis nie aldag dat ’n mens gasvryheid soos nét die Noord-Kapenaars dit kan opdis teëkom nie.

Ons sien uit om weer vanjaar in die oortreffende trap te kuier en hoewel daar nie meer plek vir deelnemers is nie, nooi ons jou graag uit om as toeskouer die Bull Run by te woon, saam te kuier en hierdie ongelooflike atmosfeer in te drink.

Nader aan die aksie kan jy beswaarlik en as jy ooit gewens het om die gees te beleef wat ’n mens net by die Bull Run ervaar is dit nou jou kans.

Daar is nog beperkte toeskouerkaartjies beskikbaar, maar jy moet gou spring voor jy jou kans verbeur.

Besoek Quicket om jou kaartjie te koop, kom deel in die pret en maak herinneringe wat jou ’n leeftyd gaan hou. Of ten minste tot volgende jaar, want as jy eers by ’n Bull Run was, kom jy sommer gou weer terug.

Die Noord-Kaap is ywerig om jou te ontvang en gasheer te speel vir ’n belewenis wat jou vir baie lank gaan bybly

Die Weg Ry & Sleep Bullrun word ondersteun deur Leatherman as hoofborg en Stanley en Noord-Kaap Toerisme as addisionele borge.