Die afgelope twee weke was nogal opwindend vir die uwe. In die eerste week het ons die Makgadikgadipanne in Botswana oorkruis en ek het dié reis met my toegeruste Ford Ranger Wildtrak 4x4 aangedurf. Dis ’n ordentlike bostrok vir ’n oorlandreis.
Die volgende week was ek op die vliegtuig op pad na Melbourne, Australië, vir ons jaarlikse Ironman 4x4-raadsvergadering. Die geleentheid om vinnig agter die stuur van die nuwe Ranger Raptor in te klim het hom voorgedoen en ek het nie op my laat wag nie. Albei was wonderlike ervarings, en omdat ek so kort ná mekaar met albei bakkies gery het, was dit ’n goeie kans om ’n paar vergelykings tussen die twee te tref.
Albei van hulle is natuurlik ’n Ford Ranger, en hoewel daar ’n klomp ooreenkomste is, is daar ook merkbare verskille wat ’n mens nie raaksien voor jy hulle langs mekaar parkeer nie.