book-icon Uitgawe November 2018

Rubriek: Die son, ’n Speedo... en ’n nuwe besluit

akkreditasie
Die ding van teëspoed is dat dit nooit oor jou pad kom wanneer dit geleë is nie. ’n Mens moet egter altyd probeer om ’n lewensles te leer wanneer jy die wind van voor kry, sê Christie Gerber.
Skets Fred Mouton

Ben en Tas spring vroegoggend uit Eshowe weg en druk die Hilux se neus in die rigting van die Goedertrouwdam in die Nkwalenivallei. Dié dam op die Mhlatuzerivier is een van die grootstes in KwaZulu-Natal en jy sukkel nie om ’n grootbekswartbaars aan jou hoek te kry nie. Jou kanse is egter soveel beter as jy vroeg al langs die water is, en daarom is Ben en Tas kort ná halfvyf al in die pad.

Die Toyota het Ben se boot, Ntombazane, op die haak, maar die pad is nog stil en die kilometers flits verby die twee kranige vissermanne.

By die dam soek die twee ’n kampplek uit waar hulle ’n redelike mate van privaatheid het. Elke hengelaar het immers sy eie geheime resep en manier waarmee hy die grote gaan inkatrol, en hoe minder oë hoe beter.

Tas is geklee in ’n gewone swembroek, maar Ben besluit om die dag in sy oranje Speedo deur te bring. Hy wil sommer van die geleentheid gebruik maak om sy 120 kg ’n bietjie kleur te gee. Meisie het vroeër gewaarsku hy moet hom insmeer, en Ben se lyf glinster behoorlik nadat hy homself getakel het met al wat ’n olie en sonroom is.

’n Rukkie later vaar hulle die dam op. Dit is ’n snikhete dag in die vallei en op die water. Die twee het hulle visgerei vooraf gereed gemaak en die lyne plons in die water. Nou is dit tyd vir geduld… en stilte.

’n Uur later is daar nog nie ’n teken van ’n vis wat belang stel nie. Trouens, die enigste byt waarop die twee vriende kan aanspraak maak, is dié van die son. “Kom ons vaar nog so ’n ent verder,” stel Tas voor. Hulle katrol in, Ben skakel Ntombazane aan en die twee trek met ’n sierlike boog weg.

Hulle vaar nog ’n redelike ent in die dam op, maar die volgende oomblik sny die enjin uit. “En nou?” vra Tas terwyl die momentum van die boot hulle in stilte ’n entjie verder neem. “Ek weet nie,” antwoord Ben. Tas leun oor sy vriend se skouer en loer na die instrumentepaneel.

“Die brandstof is op,” verklaar hy. “Waar is jou spaartenk?”

Ben bly ’n oomblik stil. “By die huis, in die garage,” erken hy verleë.

Tas byt op sy onderlip. “Goed, kry jou noodfakkel. Ons kan hom maar met gemoedsrus aftrek, want hier is baie manne op die dam vandag. Ek is seker iemand sal hom sien en ons kom help.”

Ben trap ongemaklik rond en sukkel om sy woorde uit te kry. “Man,” sê hy uiteindelik. “Ek het nie sulke goed op die boot nie.”

Tas bedwing hom vir ’n rukkie, maar dan klim hy behoorlik in. Die son brand soos hy net in Februarie in dié deel van die wêreld kan, en die sweet tap hom behoorlik af. “My vriend, besef jy ons is amper in die middel van die dam? Ons kan skaars die oewer sien! En skree gaan nie help nie – ons is te ver. G’n mens gaan ons hoor nie.”

Besef jy ons is amper in die middel van die dam? Ons kan skaars die oewer sien! En skree gaan nie help nie – ons is te ver. G’n mens gaan ons hoor nie.

Nadat hy effens bedaar het, laat Tas van hom hoor: “Daar’s net een uitweg: Ons gaan oewer toe moet roei.”

Ben vergeet vir ’n oomblik dit is hy, die eienaar van die boot, wat moes seker maak al die noodtoerusting is aan boord, en vra ewe parmantig met watter spane Tas wil roei, want dié is ook nie op die boot nie. Die kyk in Tas se oë laat hom gou weer in sy dop kruip.

“Ek en jy gaan nou weerskante van die boot in die water klim, ons een arm om die boot se rand haak en met die ander roei. Dis die enigste oplossing,” verklaar Tas.

“Wat van krokodille?” vra Ben benoud, maar Tas hou voet by stuk. “As ons nie roei nie, gaan ons hier dryf tot die engel Gabriël op die ramshoring blaas.”

Die twee manne spring in die water, kry die neus van die boot na waar dit lyk die oewer die naaste is en begin gelykluidend skop en roei. Die watertrappery vorder stadig, want dis moeisame werk. Tien minute later vra Ben of hulle ’n bietjie kan rus, maar Tas wil nie besgee nie. “Ons sal moet vasbyt en roei, anders is ons vanaand nog hier.”

So roei en skop hulle. Roei en skop. En uiteindelik, ná wat soos ’n leeftyd voel, voel hulle die klippe en gruis op die dambodem onder hulle voete. Hulle stoot die boot die laaste paar meter uit die water en val uitgeput langs Ntombazane neer.

Ben is die eerste een wat tot verhaal kom. Ná ’n ruk haal hy ’n koeldrank uit die ysboks en drink dit met drie teue leeg. Tas kyk hom met ’n droë uitdrukking aan. “Luister, my liewe vriend, jy moet die bakkie en sleepwa gaan haal en ek sal hier bly om die boot op te pas.”

Die blote gedagte aan ’n kilometer of twee se stap in die bloedige hitte, met niks meer as sy oranje Speedo aan sy lyf nie, maak Ben van voor af moeg. Hy het egter nie ’n keuse nie en trek sy plakkies aan (wat genadiglik op die boot was). Met groot moeite stap hy tussen die rotse en klippe deur na die aangrensende grondpad toe. Kortasem en moeg strompel hy in die grondpad af. Die plakkies help nie juis teen die skerp klippies nie en sy voete ontgeld dit.

’n Entjie verder sit twee mans in die koelte van ’n groot platkroonboom en kyk na die figuur wat met die stofpad aangeloop kom. “Indoda emhlope izohambolani nqunu elangeni?” vra die een. Ben is Zoeloe magtig en hy verstaan die man wil weet hoekom hy so kaal in die warm son stap.

Hy besluit om die kommentaar te ignoreer en hom eerder toe te spits op die geluid van ’n aankomende voertuig. Instinktief gooi hy duim.

Die bakkie hou langs hom stil, en soos die duiwel dit wil hê, is dit twee vroue. “Waarheen is jy op pad met daai twee rooigebrande boudjies,” vra die bestuurder, ’n aanvallige rooikop met ’n ondeunde glimlag.

“Dis ’n lang storie,” probeer Ben die gesprek in ’n ander rigting stuur. “Kan julle my tot by die kampterrein vat, asseblief?”

Die twee stem in en Ben klim dankbaar agterop die bakkie. ’n Kilometer verder laai hulle hom by die kampplek af en die rooikop raai hom aan om room op sy boude te smeer voor hy vanaand gaan slaap.

Ben kyk hulle ietwat verleë en selfbewus agterna voor hy by die kampplek vir hom ’n kortbroek en T-hemp aantrek. Hy kry ’n klompie kampbure wat hom help om die sleepwa te haak.

Terwyl hy ry om vir Tas te gaan haal, sit hy eers op die een boud en dan op die ander een.

Hy kry vir Tas waar hy rustig langs die vlak water staan, visstok in die hand. Eenkant langs die boot lê ’n kneuwel van ’n grootbekswartbaars. “En dié?” vra Ben.

“Ek moes die tyd verwyl en toe kry ek dié meneer,” spog Tas met ’n breë glimlag.

Toe hulle die boot uiteindelik stewig op die sleepwa vas het, wil Ben weet of daar dalk nog ’n koue bier oor is. Tas knik instemmend en Ben teug te dankbaar aan die welkome lafenis. Dit sorg selfs vir ’n traan in sy oog.

Met die leë blikkie in sy hand kyk hy Tas ondersoekend aan. “Ek het ’n ou pêl wat sê elke mens skep sy eie probleme,” verklaar hy. “En gedagtig daaraan het ek vandag, hier langs hierdie Goedertrouwdam, twee besluite geneem: Ek gaan die boot verkoop, vir my ’n woonwa aanskaf en voortaan eerder langs die water kamp. Dis baie geriefliker om van die wal af te hengel, soos jy nou self ondervind het.”

“En jou tweede besluit?” wil Tas weet.

“Wanneer ons netnou by die huis kom, gooi ek my Speedo in die drom.”


Hierdie rubriek het in November 2018 in Weg Ry & Sleep verskyn.