book-icon Uitgawe Januarie 2019

RUBRIEK: Voel vere vir wintie skokbrekers

akkreditasie
Ford Ranger Raptor
Ford Ranger Raptor
As dit by jou veldryvoertuig se skokbrekers kom, is spoggerig nie altyd beter nie, sê Mic van Zyl.

Ek het al heel liries geraak oor die Ford Ranger Raptor se vering. Hoewel dit lekker werk wanneer jy haastig oor die aarde wil skeer, is dit nie geskik vir oorgrensekspedisies met al jou kampgoed agterop die bak nie.

Die twee belangrikste komponente wat bepaal of jou veldryer in staat is om oor ruwe terrein te ry is die vering (wat uit skokbrekers en vere bestaan) en bande. Eenvoudig gestel hou die vere jou voertuig op die regte hoogte terwyl dit terselfdertyd die gewig van jou voertuig én al jou bybehore en toerusting moet dra.

Skokbrekers beheer die beweging van die vere en derhalwe ook jou voertuig. Die keuse van watter vere jy moet aanbring, is eenvoudig: Dit word bepaal deur jou behoeftes, soos hoe hoog jou voertuig van die grond af moet staan en hoeveel bybehore jy gaan aanbring.

Hoe stywer die vering, hoe meer gewig kan jy laai. Té styf en die rit raak ongemaklik en jou voertuig staan dalk só hoog dat die aandrywingstelsel beskadig word; te pap en die vering stamp deur.

As dit kom by skokbrekers, is daar selfs meer keuses met ’n reeks eienskappe. Verskillende soorte skokbrekers kan eenderse reaksies hê as dit by wielbeheer en asbeweging kom, maar hulle verskil dalk hemelsbreed as jy dit oor die lang duur in die veld meet.

Een van die faktore wat die meeste tot dié verskille bydra, is oliekapasiteit. ’n Klein skokbreker met min olie kan maklik oorverhit as jy hom oor lang tydperke hard druk. Die warm olie, veral as dit met lug meng, raak té dun en vloei té maklik deur die kleppe in die skokbreker. Dit veroorsaak dat hy minder doeltreffend werk. Deur met spesiale gasse ekstra druk op die olie te plaas kan die werkverrigting verbeter word, maar net tot op ’n punt.

Skokbrekers beheer die beweging van die vere en derhalwe ook jou voertuig. Die keuse van watter vere jy moet aanbring, is eenvoudig.

Aanhoudende oorverhitting sal uiteindelik permanente skade aanrig. Groter skokbrekers met meer olie sal beter vaar omdat dit langer neem om warm te word. ’n Beter keuse vir uiterste toestande is skuimselskokbrekers (foam cell). Dié skokbrekers gebruik nie gasse saam met die olie nie; hulle is eerder propvol olie en die oppervlak van die skokbreker werk soos ’n soort verkoeler om van die warm olie se hitte ontslae te raak.

Met ’n gasskokbreker is die boonste derde van die skokbreker gevul met gas, en die skokbreker kan nie hitte hier weglei nie. Slegs die onderste twee derdes van die skokbreker raak aan die warm olie en daarom neem dit langer om van die hitte ontslae te raak deur middel van lug wat verbyvloei.

Skokbrekers het óf ’n dubbel- of enkelbuisontwerp. Gewilde voorbeelde van die dubbelbuistipe sluit in hidrouliese-, gas- en skuimselskokbrekers. Die enkelbuistipe is gewoonlik met gas gevul of het ’n aparte gassilinder buite die buis.

Dubbelbuisgasskokbrekers is die algemeenste in moderne voertuie. Opgegradeerde weergawes van dié skokbrekers is algemeen verkrygbaar as ’n naverkopeproduk vir jou veldryer.

Skuimselskokbrekers met ’n hoë oliekapasiteit raak ook toenemend gewild vir hardebaard veldryvoertuie.

Hoëdruk-enkelbuisgasskokbrekers werk lekker in renmotors, maar nie so lekker op tegniese terrein nie omdat hulle vatbaar is vir skade wat klippe soms aanrig.

Skokbrekers met aparte olietenks is die meeste geskik vir ekstreme veldryvoertuie omdat die tenk uit die pad van moontlike skade geplaas kan word en nie die wielbeweging gaan belemmer nie. Die tenk help ook om die skokbreker vinniger af te koel. Dié soort skokbreker is egter nie geskik vir oorlandekspedisies nie, want dit is soms moeilik om die reservoir naby genoeg aan die skokbreker te monteer. Én dan is die beweegafstand van die vering in dié soort voertuie beperk.

Volgens my ondervinding bied dubbelwandskuimselskokbrekers die beste waarde vir geld en hulle sal op die lang duur die beste resultate lewer as jou trokkie ingerig is vir ekspedisies. Die hoë oliekapasiteit sorg vir ’n koeler skokbreker wat langer sal hou, en die dubbelwand is bestand teen skade. Spoggerige tegnologie is in hierdie geval nie noodwendig beter nie.

Mic van Zyl is direkteur van Ironman 4x4 Africa, die eksklusiewe invoerder en verspreider van die volledige reeks Ironman 4x4-produkte. Besoek ironman4x4.co.za.