book-icon Uitgawe November 2019

Slanggeite: Die ware Jakob

akkreditasie
Geen slang dwing soveel gesag af soos die swartmamba nie.

’n Mens hoor dikwels hulle is aggressief en dodelik met gif wat ’n volwassene binne sekondes kan doodmaak, maar eintlik is hulle redelik skugter en ontwykende diere wat net byt as hulle in ’n hoek vasgekeer word of bedreig voel. En hulle jaag beslis nie mense nie!

Die swartmamba is die langste giftige slang in Afrika – van hulle kan tot 3,8 m word. Dit blyk hulle was in die verlede nóg langer: In geskiedkundige geskrifte is daar slange van tot 4,5 m opgeteken!

Dié slang se gif is geweldig neurotoksies en laat die menslike liggaam redelik verswak. Die lippe word eerste aangetas en die gevoel is soortgelyk aan wanneer jou voet slaap. Die tong voel verlam, en dan word die slagoffer naar en begin hewig sweet. Die ooglede val toe, die pupille rek wyd en spiertrekkings vind plaas voordat die slagoffer sukkel om asem te haal – dis nie ’n aangename gesig nie.

In uiterste gevalle kan slagoffers binne ’n uur en ’n half uur sterf. Soms, veral wanneer ’n jong kind gebyt word, kan die slagoffer binne 30 minute sukkel om asem te kry.

...eintlik is hulle redelik skugter en ontwykende diere wat net byt as hulle in ’n hoek vasgekeer word of bedreig voel. En hulle jaag beslis nie mense nie!

Die swartmamba is ’n wakker en aktiewe jagter wat meestal klein soogdiere soos eekhorings en dassies uitsoek, maar die slang sal nie die kans laat verbygaan om muise, rotte en voëls te vang nie. Hoewel hulle grotendeels op die grond rondbeweeg, is hulle ewe tuis in struike en bome.

Soos baie ander slange hou die swartmamba daarvan om ’n permanente tuiste in ’n miershoop of rotshoop te maak. Hoewel die slang alleen jag, sal hy partykeer ’n tuiste met ’n maat deel.

Mannetjies stoei met mekaar in paartyd wanneer hulle ál vlegtend mekaar grond toe probeer dwing. Wyfies lê tussen 6 en 17 sagtedopeiers, en die babaslangetjies is amper ’n halwe meter lank.

Wanneer ’n swartmamba bedreig voel, lig die slang ’n derde van sy lyf in die lug en maak sy bek wyd oop sodat die swart binnekant duidelik gesien kan word terwyl om sy kop ’n hals vorm. Die slang sal eerder wegseil as om te byt, maar as sy ontsnaproete afgesper word, sal hy geredelik en herhaaldelik aanval.

Die beste ding wat jy kan doen, is om versigtig te wees. En die ergste? Moenie ’n slang bedreig nie.