Boerderygewys is dit seker die swakste deel in Suid-Afrika dié. As jy nou die Vrystaat vat – ’n ou sit die ploeg hiér in en dan raak die trekker weg dóér anderkant.
Maar hier by ons is net kolletjies werkbare grond. Dan’s dit klip, dan’s dit klei… En ons temperature is geweldig hoog in die somer.
“Voor die droogte het ons seker 400 ha onder rooibos gehad, nou’s daar sowat 100 oor. Laasjaar het hier fonteine opgedroog waaruit boere lewenslank hulle drinkwater gery het. Die ondergrondse water is klaar.” Só vertel Haffie Strauss my een namiddag in April 2018 op hulle plaas Traveller’s Rest terwyl sy skreefoog deur haar Land Cruiser se voorruit oor ’n teeland tuur.