LUCAS MEINTJES van die plaas Quagga’s Kirk naby Dundee vertel: Die Fort Mistake-motel lê reg langs my grond. Dis genoem na die fort wat in die 1880’s deur die Engelse gebou is en vandag op my grond staan*. Die motel is in 1952 tot 1953 gebou en was die heel eerste motel in Suid-Afrika – dis presies halfpad tussen Johannesburg en Durban, ’n goeie oornagplek dus.
Die ou nasionale pad tussen Durban en Johannesburg het reg voor my huis verby geloop. Vandag is dit die N11. Die N11 is ná die Tweede Wêreldoorlog gebou en werkers moes ’n gruisgat grawe om klip te kry vir die pad.
Toe die pad klaar is, sit my pa, Charles Meintjes, met ’n gruisgat op sy voorstoep... Hy maak toe ’n afspraak met een van die grootkoppe wat betrokke was by die pad. Die man daag later op met ’n baie smart kar – iets ongewoons in daai tyd. My pa verduidelik dat die gat vir hom onaanvaarbaar is, maar die man was nie tegemoetkomend nie. “Mnr. Meintjes, dit doen tog niks aan jou boerdery nie?”