Deel

Toe en nou: Meiringspoort, 161 jaar later

akkreditasie
Uit die argief: Hierdie pas in die Swartberg staan bekend vir sy vloede, driwwe, unieke landskap en legendes.

Meiringspoort in die Klein Karoo verbind Klaarstroom in die noorde met De Rust in die suide, oor die indrukwekkende Swartberg. Deesdae kan jy selfs per fiets deur Meiringspoort ry. Hou by die inligtingsentrum stil en gaan kyk na die waterval, 200 m van die pad af.

Die pad deur Meiringspoort is amptelik op 3 Maart 1858 geopen. Meiringspoort is nog een van Thomas Bain se meesterwerke.

Die ou foto is in ongeveer 1925 geneem. Weg het destyds dié plek gaan soek (dit is by Laastedrif aan Klaarstroom se kant van die poort).

Bron: MEIRINGSPOORT-INLIGTINGSENTRUM
Foto: BUN BOOYENS

Die pad kruis die Grootrivier 25 keer. Soos Langenhoven dit gestel het: “In elke drif is daar ’n draai, en om elke draai is daar ’n drif.”

Elk van die driwwe het ’n storie. By Spookdrif is glo ’n bonatuurlike lig “in die vorm van ’n bol vuur” gesien.

By Steweldrif het die skoene van Petrus Meiring, na wie die poort genoem is, volgens oorlewering weggespoel, by Witperdedrif het ’n Joodse rabbi glo met sy kar en perde weggespoel, en by Wadrif het ’n aantal waens in die slag gebly.

By Ontploffingsdrif het ’n wa vol dinamiet só op die ou grondpad geskud, dat dit ontplof het.

Ons soek jou kiekies!
Het jy ou foto’s wat die stories van toeka se toere, gesinsvakansies of avonture vertel? Stuur dit gerus na kyra.tarr@media24.com.


Hierdie artikel het oorspronklik in Maart 2017 verskyn. Feite en geite kon intussen verander het – laat weet gerus by digitaal@weg.co.za as jy iets raaksien.