Tom Dreyer gesels oor sy nuwe roman Dorado

akkreditasie
’n Karoo-road trip, kleindorpse kroeë, ’n dinosouruspark, ’n tronkvoël-trio wat musiek maak en ’n hoofkarakter met eienaardige visioene... Tom Dreyer gesels oor reis, road trips en sy nuwe roman.


’n Karoo-road trip, kleindorpse kroeë, ’n dinosouruspark, ’n tronkvoël-trio wat musiek maak en ’n hoofkarakter met eienaardige visioene... Tom Dreyer gesels oor reis, road trips en sy nuwe roman.



In Dorado (in Engels as The Long Wave) volg die hoofkarakter, Gilbert du Toit, vreemde visoene van lig en vlietende skole visse deur die wye Karoovlaktes, onderweg Kaap toe. Dit is uitgegee deur Penguin Random House Suid-Afrika en is Tom Dreyer se vierde roman.

Die boek het wonderlike filmagtige elemente en die karakters is die tipe ouens wat ek graag op ’n road trip in die Karoo sal wil raakloop. Dorado is ’n boeiende boek wat ’n mens nie sommer los nie. Dit behoort lesers te inspireer om self koers te kies Karoo toe.


Ek het vir Tom ’n paar vrae aangestuur:


Hoe het die idee vir jou nuwe roman ontstaan? Speel reis en omswerwinge dikwels ’n rol in jou skryfwerk?


Jare gelede, in ’n Londense kroeg, vertel ’n vrou my van ’n eienaardige gebeurtenis. Sy het skynbaar kort vantevore haar huismaat (of eerder bootmaat, want hulle het op ’n boot op die Thames gewoon) in ’n staat van vervoering op die kaai aangetref, arms uitgestrek, gesig na bo. Toe sy liggies aan hom skud, prewel hy verwonderd: “Can you see the fish flying by?” Hierdie was die ontstaansoomblik van Dorado.

In die agtergrond van die roman praat ’n  kindertydse besoek aan die wonderlike dinosouruspark by die Sudwala-grotte ook saam. So, ja, reise – en die stories en ervaringe wat hulle oplewer – was nog altyd ’n invloed op my skryfwerk. Equatoria is deels ’n verwerking van my eie gevoelens en gewaarwordinge terwyl ek (vir ’n kort rukkie) in ’n Tanzaniese bos verdwaal was. En die naam van my eerste roman, Erdvarkfontein, het letterlik vanaf die dak van ’n Noord-Kaapse pakhuis na my toe teruggekaats in groot wit letters: ERDVARK-PLOEG-FABRIEK.


Waarom het jy op die Karoo besluit as die ruimte waarbinne ’n groot deel van Dorado plaasvind?


Dit was nie soseer ’n bewustelike besluit nie, eerder asof die Karoo hom- of haarself bloot vir diens aangemeld het (is die Karoo ’n hy of ’n sy?). My ma het op ’n skaapplaas in die Cradock-distrik grootgeword, so miskien is ’n liefde vir hierdie landstreek in my gene. Van my vroegste herinneringe is Karoo-herinneringe, en my spore neem my dikwels terug soontoe. Wetenskaplikes het glo al bewys dat verdwaaldes, wanneer hulle op hulle eie instinkte vertrou, geneig is om in sirkels te loop. Dalk is dieselfde waar van die psigiese reise wat skryfwerk onderlê, en was dit onafwendbaar dat ek weer sou terugneig Karoo toe. Maar ook, daar is iets aan die gestrooptheid en ongenaakbaarheid van daardie landskap wat die stories wat daarteen afspeel vir my helderder en lewendiger laat voel.


Wat was die lekkerste én grootste uitdaging van die road trip-tonele skryf?


In ’n sin is die meganika van reis so eenvoudig daar is ’n gevaar dat dit eenselwig kan begin klink – die oorskakeling van ratte, klein verstellings aan die stuurwiel, ’n kar wat meedoënloos op ’n smal pad voortbeweeg. Om hierdie dinge op vars maniere uit te druk was vir my ’n lekker uitdaging. Maar ’n nog groter en lekkerder uitdaging was om ’n mens se gevoelens tydens ’n lang motorrit te probeer vasvat. Daar is ’n interessante wisselwerking tussen luim en landskap, ’n soort dubbele proses: Jou bui word beïnvloed deur die aard van die landskap waardeur jy ry, maar hoe jy daardie landskap sien word ook gekleur deur jou bui of die bui in die kajuit. En hoe langer ’n rit voortduur, hoe meer is daar ’n versmelting van hierdie twee ryke sodat dit later amper voel asof jy en die landskap nie meer ten volle van mekaar te onderskei is nie. Hierdie is ’n glibberige ding om te probeer verwoord. Nietzsche het eenkeer gesê at as jy in die afgrond in tuur, dan tuur die afgrond ook in jou in. Ek dink nie jy kan ure lank edeur die Karoo ry en dieselfde anderkant uitkom nie.


Het jy self al deur die Karoo gereis? Was dit deel van jou navorsing of kon jy put uit jou eie herinneringe van dié landskap en sy karakters?


Ek het ’n poel herinneringe om uit te skep, ja, maar het ook gefokusde besoeke onderneem – ’n mens sou dit seker navorsingsreise kon noem – na plekke soos Leeu-Gamka, Beaufort-Wes, Aberdeen of Nieu-Bethesda. Laasgenoemde kom nie fisies in Dorado voor nie, maar daar is beslis iets van die Uilhuis se gees in hierdie boek vaardig. Die fossielmuseum op Nieu-Bethesda het ook waardevolle agtergrondinligting oor die oerreptiele van die Karoo verskaf – hulle speel ’n  taamlike byrol in die roman.


Willem Anker sê jou boek lees asof David Lynch en Wim Wenders saam ’n road movie geskryf het. As die boek ’n fliek sou word, wie sal jy graag in rol van Gilbert wil sien?


Joaquin Phoenix.  Dalk ’n jong Ewan McGregor. Enigiemand behalwe Colin Farrell.


Daar is al in die verlede verwys na die “filmiese aksie” in jou skryfwerk. Is dit iets wat jy in gedagte hou wanneer jy skryf?


Dit voel vir my gevaarlik om bewustelik sulke effekte na te jaag – dit kan te maklik in mooiskrywery ontaard. Eintlik voel ek dat ’n mens maar skryf soos jy skryf, vanweë die manier waarop jy aanmekaargesit is en vanweë die dinge wat jou interesseer. Die werking van die oog, die maniere wat lig breek, die wyse waarop voorwerpe of landskappe verander saam met die hoek waaruit jy hulle besigtig – hierdie tipe ding het my nog altyd gefassineer, en ek is seker dit slaan in my skryfwerk deur.


Jy skryf oor ’n tronkvoël-trio, die Howlers, in Dorado. Enige bands wat as inspirasie vir die kêrels gedien het?


Die belangrikste inspirasie – ofskoon fiktief – was die Soggy Bottom Boys in die Coen-broers se meesleurende fliek Oh, brother, where art thou? Ek skat daar is ook elemente van Johnny Cash in hierdie kêrels. Dalk Nick Cave of Tom Waits op ’n dag wanneer sy mooi woorde hom ’n bietjie in die steek laat. Maar eintlik is die Howlers nie veronderstel om soos enigiemand te wees nie. Om die roman self aan te haal: Hulle “musiek is moeilik om te kategoriseer. Dis deels rock ’n roll, deels folk, maar merendeels onvergelykbaar met enigiets wat Gilbert nog ooit gehoor het.”
Van musiek gepraat, watter padmusiek luister jy graag op die langpad? En watter songs sal jy graag wil hoor op ’n Dorado-klankbaan?
 
Tom Waits, veral Swordfishtrombones of Closing Time, sy eerste en mees melodieuse album. Bruce Springsteen en dan nog Bruce Springsteen. Penguin Café Orchestra. Suzanne Vega. Texas. En vir die tye wanneer die skaduwees lank raak en die vibrasies eienaardig, Pink Floyd of selfs ’n bietjie Philip Glass.


Was jy al tevore by iets soos die fiktiewe Groot Karoo Padstal en Fossielpark?


Die saadjie vir die Groot Karoo Padstal en Fossielpark is deur bogenoemde besoek aan die Sudwala-dinosouruspark geplant. Dit was in die middel-tagtigerjare, voor die era van seepgladde special effects, toe fliekdinosourusse nog rubbermaaksels was of doodeenvoudig regte akkedisse of likkewane wat vanuit eienaardige hoeke verfilm is sodat hulle enorm lyk in vergelyking met die akteurs. Vir ’n onberese snuiter was Sudwala se sementreuse iets uit ’n ander wêreld, ’n deurbreek van die eksotiese en fantastiese in ’n lewe wat meestal maar uit skooltasse, rugby en tweede pouses bestaan het.


Jy het ’n interessante samewerking met Tracks4Africa, waarskynlik die eerste vir ‘n Suid-Afrikaanse roman. Vertel ’n bietjie meer hiervan.


Ek werk bedags as rekenaarprogrammeerder, deur die jare meestal vir finansiële of ingenieursfirmas. Ek en die eienaar van Tracks4Africa is ou vriende en was al saam by ’n paar projekte betrokke, mees onlangs ’n app wat kaarte en bestemmingsinligting vir die ganse Afrika  offline  beskikbaar maak.

Ná die verskyning van Dorado / The Long Wave was hy opgewonde dat so ’n boek deur “iemand in hul stal” geskryf is, en ons het besluit om ’n custom kaart te bou van plekke wat die hoofkarakter, Gilbert du Toit, tydens sy reise besoek. Tracks4Africa sal hierdie kaart binnekort aan hul gebruikers beskikbaar maak, saam met ’n opmerking of twee oor die roman. ’n Tydelike Google Maps-weergawe van Gilbert se omswerwinge is hier  te vinde.


Hoe lank het jy aan die roman gewerk? Het jy dit eers in Engels en daarna in Afrikaans geskryf? Is daar interessante verskille tussen die twee boeke?


Sedert die eerste oomblik van inspirasie tot die tik van die laaste woord, het ver meer as ’n dekade verloop, maar die skrywery het maar in rukke en stote gebeur en allerlei ompaaie gevolg. Die roman is gebaseer op ’n Afrikaanse kortverhaal wat in 2007 in my bundel Polaroid verskyn het. Daarna het ek besluit dat dit ’n  volwaardige roman regverdig, wat ek toe in Engels aangepak het. Maar gou het die Engelse en Afrikaanse weergawes in parallel ontwikkel, so ek voel nie dat die een die oorspronklike en die ander die vertaling is nie. Daar is klein verskilletjies tussen die weergawes, ja, maar niks wesenlik nie. En tog vóél die boeke vir my verskillend. Dis moeilik om te verduidelik, maar dis asof die Afrikaanse en Engelse boeke op verskillende manier in die wêreld “inpas”.


Wie behoort Dorado te geniet?


Enigiemand wat van die ooppad hou. Enigiemand wat daarvan hou om te lag, en soms ook ’n bietjie te huil.


Noem ’n paar van jou gunstelingreisboeke en/of -reisskrywers.


Nou wel nie ’n boek nie, maar moontlik bo aan my lys is Werner Herzog se lieflike dokumentêre film, Encounters at the End of the World, waarin hy na Antarktika reis om die uitsonderlike landskappe en nog meer uitsonderlike mense wat hy daar teëkom vas te lê. Ou staatmakers soos Bruce Chatwin se Songlines of In Patagonia, en die werk van Paul Theroux. Ook John Steinbeck se Travels with Charley, wat na al die jare steeds een van my gunsteling reisboeke bly.


Waarheen reis jy graag wanneer jy die geleentheid kry?


Vanweë ’n sameloop van omstandighede kon ek al wyd en syd deur Amerika reis. Stede soos New York, Chicago of San Francisco is natuurlik iets om te sien,  maar die kleiner, meer tragiese plekkies het dikwels vir my ’n groter bekoring: die wuiwende mielielande van Iowa, Shotgun Alley in Alaska waar grysaards letterlik met dubbellope op hul skote sit en wag, of die eetplek in Okarche, Oklahoma, waar al die gaste hul diepgebraaide hoender of okra van dieselfde hoop in die middel van die tafel af pik. En hoe sal ek ooit Route 66 vergeet, die pad waar die road side attraction gebore is, en waar die vlieënde pierings en dinosourusse my weer soos die knapie van destyds laat voel het?

Verder het ek en my lewensmaat al heelwat deur Europa gereis en soveel wondelike goed gesien en ervaar dat ’n mens dit onmoontlik in ‘n enkele antwoord kan saamvat. Maar die strakheid van plekke soos Namibië lok my ook keer op keer terug. Ek sal nooit moeg raak vir die brul van ’n Kalahari-leeu nie, en ek moet darem nog een keer die soet lug van Zanzibar inasem voor ek sterf.


Wat is die beste skrywersadvies wat jy al gekry of raakgelees het?


’n Vriend het een keer, betreffende visvang, die volgende te sê gehad: As jy wonder of jy ’n byt gehad het, dan was dit net die golwe of dalk het jou lyn iemand anders s’n gekruis. Want as ’n vis byt, dan wéét jy ‘n vis het gebyt. Hierdie was nie in die eerste plek (of enigsins) as skrywersadvies bedoel nie, maar dit voel tog vir my gepas. As jy moet wonder of ’n woord of ’n sin of ’n roman-idee reg is, is jy klaar op wankelrige grond. Want as die regte idee kom, dan lóóp dit met jou. Die katrol skree en jy weet dat jy nie weer rus vir jou siel sal hê voor jy daai idee tot op die wal gestoei het nie.

•    Dorado en The Long Wave word uitgegee deur Penguin Random House Suid-Afrika en kos R220 in boekwinkels. Bestel by * takealot.com