Jou heel eerste verkyker sluit ’n nuwe wêreld oop. Dis soos om ’n bril te kry nadat jy hoe lank halfblind deur die lewe gestrompel het. Maar op ’n dag bevind jy jou waar jy – verkyker ten spyt! – in ’n voëlskuiling sit en skreefogies trek om uit te maak wat daai waserige gevleueldes in die verte is.
Jy kan nét nie goed genoeg sien nie. Wanneer die ou hier neffens jou met die teleskoop dan die voëls wat hý met gemak sien begin aframmel, weet jy dis tyd vir ’n opgradering. Die meeste verkykers vergroot dít waarna jy kyk agt- of tienvoudig; ’n teleskoop se vergroting is 20 tot 60 keer! As tiener het ek my ouers op ’n keer oortuig dat ek op ’n naweekvoëlkyktoer (uit Gauteng!) na die Weskus kon gaan.
Dit was ’n warrelwind-trippie om die minste te sê! In daardie stadium het ek nog nooit vantevore met ’n tele-skoop voëls gekyk nie, maar ’n spanmaat het een saamgebring en dit was onontbeerlik! Danksy dié stuk toerusting kon ons die bitterskaars bontstrandloper (waarom die uitstappie eintlik gedraai het) in sy vergrote glorie aanskou.