Lees dan hier en maak seker jy verstaan alles mooi.
1. Datum: 5- 8 Oktober 2017. Dit is die tweede naweek van die skoolvakansie.
2. Plek: Die WegRy Bull Run vind in Van Wyksvlei plaas. Dit is ’n klein dorpie in die Noord-Kaap tussen Prieska, Kenhardt, Brandvlei en Carnarvon.
3. Inskrywings open: Ons beoog om die inskrywings voor die einde van Februarie oop te maak. Geen vroeë inskrywings sal aanvaar word nie.
4. Koste: Die koste vir deelname beloop R2100 per persoon en R1250 per voertuig. Die koste vir ondersteuners is R800 per persoon.
5. Dit is baie belangrik dat alle ondersteuningspanne en -voertuie ook vir die byeenkoms registreer, anders sal hulle nie toegang tot die pan of skougronde/kamp kry nie.
6. Elke deelnemer en passasier in die voertuig moet ’n geldige rybewys hê en dus ouer as 18 jaar wees.
7. As jy instem om deel te neem aan die WegRy Bull Run, stem jy in dat dit ’n uitstappie vol pret is en dat die klem nie noodwendig op mededinging val nie, maar eerder op hoeveel jy dit geniet. Die pret van die WegRy Bull Run kom van die deelnemers, nie die organiseerders nie.
8. Die toekenning van pryse gaan hierdie jaar op ’n gelukkige trekking gedoen word – behalwe die hoofprys vir die algehele wenner. Die res wen ‘bragging rights’.
9. Daar sal ook weer hierdie jaar ’n tentedorp wees wat opgeslaan word sodat deelnemers slegs ’n slaapsak en ’n kussing hoef te bring Die koste vir hierdie tente is:
a. Basiese tweemantent met twee matrasse op die vloer – R1300 vir die naweek.
b. Luukse tweemantent met beddens, beddegoed, bedkassie en twee stoele – R2500 vir die naweek
c. Premuim tweemantent met twee beddens, beddegoed, bedkassie, twee stoele en ’n private stort- en toilet-hokkie as deel van die tent – R6600 vir die naweek.
10. Die rygoed: Om die byeenkoms meer by die oorspronklike idee te hou moet die rygoed ouer as 1980 (1980 ingesluit) wees en minder as R25 000 kos. Dit sluit alle uitgawes in van herstelwerk tot registrasiefooie.
a. Voorkeur sal aan vierdeursedans gegee word.
b. Alle voertuie moet veiligheidsgordels vir ALLE insittendes hê. Indien veiligheidsgordels aangebring moet word, kan dit gedoen word sonder om die koste van die voertuig vir deelname (R25 000) te beïnvloed.
c. Waar moontlik word deelnemers gevra om valhelms te dra, veral tydens die items op die pan tydens die Bull Run.
d. Dit bly die reg van die organiseerders om inskrywings wat nie by die reëls hou nie af te keur.
e. Al manier hoe ’n voertuig wat buite die spesifikasies val toegelaat sal word, sal wees indien die voertuig al voorheen aan die Bull Run deelgeneem het, nie die span nie. In buitengewone gevalle kan ’n uitsondering ook aan hierdie reël gemaak word.
f. Vir ’n voertuig om deel te neem moet dit op eie stoom in Van Wyksvlei aankom. Indien ’n voertuig op pad breek, kan dit op ’n sleepwa tot by die kampterrein gesleep word vir herstelwerk. Die idee bly dat voertuie self tot in Van Wyksvlei ry en self op eie stoom deelneem. Dit is deel van die ervaring.
g. Elke voertuig wat deelneem moet padwaardig wees en bewys van registrasie moet gelewer kan word as die organiseerders dit sou versoek.
11. Die voorgee-stelsel sal baie strenger toegepas word. Dit bepaal hoeveel persent van die span se punte wat hulle verwerf gaan tel vir hul finale punt. Die maksimum gaan 100 voorgeepunte wees, so persoon sal dus 100% van sy punte kry. Hoe laer jou voorgee, hoe minder punte kry jy. Niemand se voorgee sal egter 0% wees nie. Maar om seker te maak jy kry die beste moontlike voorgee, moet jy ook sekermaak jy neem deel in die gees van die Bull Run. Dit beteken jou span en jou voertuig is volgens ’n tema versier, jy is reg vir ’n rally en reg vir pret. Die ouderdom van die voertuig, enjingrootte en waarde word ook hierby in berekening gebring.
12. Deelnemers word versoek om alle insittendes se naam op die kar te skryf onder die venster waar die persoon gaan sit. Die voertuig se ouderdom moet ook op die kar geplak word (voorste modderskerm aan die bestuurderskant) en ook die waarde van die voertuig. Indien jy dus die waarde van jou voertuig uit jou duim uit suig, sal ander deelnemers dit gou agterkom. Dit sal steeds ook jou voorgee negatief beïnvloed.
13. Drankgebruik ten tyde van deelname word ten sterkste afgekeur en spanne wat skuldig gevind word sal gediskwalifiseer word. Deur te drink en bestuur oortree jy nie net die wet nie, maar stel jou ook eie lewe en die van ander deelnemers, ondersteuners en toeskouers in gevaar. Daar sal sporadiese alkoholtoetse gedoen word.
14. Die besluit van die organiseerders oor enige aspek van die WegRy Bull Run, in oorleg met die redakteur van WegRy, die uitgewer en Media24, is finaal en geen gesprekke sal daaroor gevoer word nie.
15. Weens die inherente risiko van so baie deelnemende voertuie is dit belangrik dat alle deelnemers tydens die WegRy Bull Run die aanwysings en opdragte van die organiseerders en beamptes gehoorsaam.
16. As jy jou inskrywing wil kanselleer, moet jy die versoek skriftelik aan die organiseerders rig ten minste 30 dae voor die aanvang van die byeenkoms. In so ’n geval sal jy 50% van jou inskrywingsgeld terugkry. Indien dit minder as 30 voor die tyd gekanselleer word, sal jy jou inskrywingsgeld verbeur.