book-icon Uitgawe Desember 2020-Januarie 2021
Deel

Woodbourne-vakansieoord: ’n Welkome ontvlugting

akkreditasie
Uit die argief: ’n Mens kan seker sê hulle is al aandeelhouers by die Woodbourne-vakansieoord buite Knysna, só gereeld kom kamp hulle hier, sê Magda Ferreira van Oudtshoorn.

"Ek en my man, Russouw, kom kamp gereeld by Woodbourne, skaars 5 km buite Knysna. Nee, nie gereeld nie... ons kom kamp báie hier. Trouens, Russouw kamp al sedert sy kinderjare hier en ek dink die feit dat ons weer en weer terugkom, getuig van hoe agtermekaar die plek is. Dit help natuurlik ook dat dit minder as twee uur se ry is vir ons.

Hoe lyk die kampterrein?

’n Mens voel omtrent bederf wanneer jy hier is, of jy nou ’n natuurliefhebber is of ’n ouer of oupa en ouma wat die kinders wil besig hou. Hier is see en bosse, jy sit in jou kampstoel en ontspan in die skaduwee van digte melkhoutbome, en dit is ’n paradys vir voëlkykers – veral diegene wat nog nie die knysnaloerie in hulle Roberts-gids afgemerk het nie.

Die kampterrein is netjies en in twee gedeel. Die nuwer gedeelte is regs van jou soos jy inry en die ouer deel lê teen ’n vlei. Dié staanplekke het die beter uitsig. Al die staanplekke – en daar’s meer as 60 van hulle – is met gras oortrek en hier is hope koelte.

Was julle tevrede met die ablusiegeriewe?

Dit is van die beste ablusiegeriewe wat ons al teëgekom het. Ek dink hoeka dit was julle tydskrif wat jare gelede gesê het die badkamers lyk of dit in ’n vyfsterhotel hoort. Dit is inderdaad die geval. Dis skoon en modern en hier is altyd warm water.

Wat is hier om mense besig te hou?

Hier is ’n swembad en ’n speelparkie en hope baljaarplek vir kinders. Ons bring gereeld ons kleinkinders hierheen en dit is altyd vir hulle ’n fees. En dan is Knysna – en die res van die Tuinroete met al sy besienswaardighede – op jou voorstoep en jy kan heerlike daguitstappies beplan.

Woodbourne-vakansieoord
Woodbourne-vakansieoord
Woodbourne-vakansieoord
Woodbourne-vakansieoord

Is hier ’n oordwinkel?

Nee, maar jy is darem nie ver van die dorp af nie. Jy kan dus sommer vinnig jou benodighede gaan koop.

Wat kos dit om hier te kamp?

R300-R650 per staanplek vir 2 mense, afhangende van wanneer jy kamp. Alle bykomende kampeerders betaal dan R100-R150. Kinders jonger as 1 jaar kamp gratis en daar is spesiale tariewe vir pensioentrekkers.


Hierdie artikel het oorspronklik in November 2020 verskyn. Feite en geite kon intussen verander het – laat weet gerus by digitaal@weg.co.za as jy iets raaksien.