Deel

15 ongewone kamp-truuks

akkreditasie
Kyk, ons leef nie meer in grotte soos oermense nie, maar mense hou nog van rof vakansie hou, van kamp. Ja, sommige verkies dit wilder as die wildtuin, maar ander hou van dinge makliker maak. Hier is ’n paar idees om dít reg te kry.

1. Beskerm die witgoud! Neem ’n plastiekemmer, sny ’n gleuf in die kant, sit jou toiletpapier binne die emmer en trek die papier deur dié gleuf. Só bly dit droog en skoon. 

2. Laat daar lig wees! Maak ’n ou twee liter-melkkan vol water en sit jou koplig daarom vas, met die lig wat na binne wys. Op dié wyse kry jy stemmingslig sonder dat die straal jou verblind.

3. Wees ’n recce. Dis nie net recces wat met gloeistokkie kan speel nie. Neem ’n bottel Mountain Dew (of iets soortgelyk). Drink driekwart van die bottel. Meng nou sowat 30 ml opwasseep daarmee. Gooi dan ’n teelepel koeksoda en drie koppies waterstofperoksied by. Gloeistok! 

4. Maak jou eie luidspreker. Ja, niemand hou van iemand wat na 10 nm. sy Kurt Darren-liedjies pomp op Hartenbos se Terrein E sodat niemand kan slaap nie. Maar jy kán verantwoordelik musiek luister. Sit jou selfoon in ’n koffiebeker – dit sal jou musiek veel beter laat klink sonder om die bure te laat kontempleer hoe hulle jou gaan vermoor.

5. Mis-skiet. Gooi salie in jou vuur – die walms sal die musiekete weghou. En dit ruik beter as meeste muskietweermiddels… 

6. Rye en rye speserye. As jy ekonomies moet pak, probeer die: sit jou speserye in ou Tic-Tac-houertjies. Dis genoeg om jou ’n naweek te hou, dit sal droog en vars bly én dit neem veel minder plek in. 

7. Hou die klere warm. Dit raak koud in die Drakensberg. Maak die volgende dag se klere warm deur dit onder jou slaapsak te sit terwyl jy slaap. ’n Paar kreukels is vir seker beter as ’n paar yskoue onties. 

8. Maak vuur met…skyfies. As jy net ’n handvol vuurhoutjies oor het en ’n lekker sak sopnat hout by die naaste garage gekoop het, kan jy Doritos op ’n opgefrommelde stuk toiletpapier gooi en dit dan brand steek. Die vlam sal dan lank genoeg brand om die skyfies aan te steek. Wat dit oor Doritos se voedingswaarde sê, wil ons liefs nie spekuleer nie… 

9. My lewe vir ’n koppie koffie! Neem ’n papierfilter (die soort wat jy met ’n koffieperkuleerder gebruik). Skep jou koffie daarin, en knoop dit toe – sommer met tandvlos. Nou kan jy dit soos ’n teesakkie gebruik.

10. Minder seep Niemand hou daarvan om ’n koekie Lux saam te vat om te gaan kamp nie. Jy gaan dit noodwendig nie opgebruik nie, of jy gaan dit verloor. Sny vir jou vooraf skaafsels seep, sommer met ’n aartappelskiller. Een skaafsel is rofweg genoeg vir een bad of stort. 

11. Zzzzzzip! Sit ’n sleutelhouerringetjie aan jou ritssluiters – dan kan jy hulle makliker raakvat op koue oggende of aande. 

12. Maak jou eie Blitz. Smeer ’n bol watte met Vaseline, en draai dit toe in tinfoelie. Wanner jy dan wil vuurmaak, sny ’n X in die foelie, trek ’n bietjie watte uit, draai dit in ’n pit en steek aan.

13. Bou jou eie wasmasjien. Sny ’n sirkel in die deksel van ’n groot, plastiekemmer. Gooi water en wasmiddel in genoemde emmer. Druk nou ’n dompelaar (plunger) in die gat. Gooi dan jou klere in, en begin pomp, pappa. 

14. Red jou sleutels van verdrinking. Maak ’n ou wynkurkprop aan jou sleutels vas – hulle eie lewensreddingbaadjie. Dis min of meer noodsaaklik as jy gaan roei! 

15. Vooraf-plaatkoekies. Maak jou beslag vooraf aan – met melk, suiker, eiers, die lot. Gooi dié nou in Ziploc-sakkies en vries. Nie net kan jy dit sommer vinnig-vinnig bak as dit ontdooi het nie, jy kan dit tot dan as addissionele yspakke gebruik!