
Kom sit aan in die blinknuwe proelokaal en kyk eers die proespyskaart goed deur – hier’s keuses in oorvloed: Die vier neefs het omtrent gewoeker. Deesdae maak hulle – buiten wyn en vonkelwyn – ook boetiekbier (Boet-bier) én whiskey. Die Zari-reeks nie-alkoholiese wyn is ook hier te koop.
Die proekombinasies van wyn, whiskey, bier... en allerlei versnaperinge is te prettig – van biltong en olywe tot Turkse lekkers en Zoo-koekies! Hier’s ook ’n proekombinasie vir kinders, met druiwesap en jellielekkers (R35).
Daarna kan julle aanstap na die restaurant vir ’n alkoholiese melkskommel – ’n Marshmallow Pop (R45) of Cookies & Cream (R45) – en pizzas, hamburgers, wraps, slaaie, steak, calamari... glo my, almal aan die tafel se kos lyk ewe smaaklik!
Sit binne of buite onder groot koeltebome terwyl die kinders op klimrame en ’n John Deere-trekker speel. Ná ete bring die kelnerin saam met die rekening ’n glasie rooi muskadel – op die huis!
Oop
Proelokaal:
Weeksdae: 08:30-17:30
Saterdae en openbare vakansiedae: 09:30-16:00
Sondae: 11:00-15:00
Restaurant:
Weeksdae: 08:30-21:30
Saterdae en openbare vakansiedae: 09:30-21:30
Sondae: 08:30-17:30
Kontak 023 615 1505; info@fourcousins.co.za; fourcousins.co.za