Deel

Aftrekplek: Saal af by Alte Kalköfen

akkreditasie
Sam Reinders
Hier, langs die B4 wat van Keetmanshoop af Lüderitz toe loop – halfpad tussen Seeheim en Goageb – het Frikkie en Hilde Mouton ’n oase raakgeboor.

Kom eet ontbyt of middagete op die koel restaurantstoep, die eertydse ou plaashuis van die Simplonplaas. Bestel dan Hilde se appeltert vir nagereg, kyk hoe die stoomtrein verbykom... en wens jy kan sommer ’n paar dae net hier bly sit.

Wel, jy kan – die lodge het 12 huisies, elk met ’n uitsig oor ’n watergat waar gemsbokke en koedoes saans kom suip. (Twee van die huisies is selfsorgeenhede). 

Hier’s ook ’n swembad waarin jy kan duik.

Die Moutons het ’n verstommende versameling beeskloutjies of lewende stene (lithops) – vra vir Frikkie om vir jou die kwekery te wys.

Op die plaas is die oudste twee kalkoonde in Namibië, een van hierdie oonde is aan die einde van die 1800's gebou en die ander oond in 1906. (Nou weet jy wat waar dié lodge sy naam van gekry het).

Waar? Halfpad tussen Seeheim en Goageb, op die D462, 2 km wes van die aansluiting met die B4. 

Kontak: 00 264 63 683 415; altekalkofen.com