M y getroue paar stapstewels se sole is deurgeloop. Met elke tree voel ek presies watter beentjie in my voet van die pyn kreun. Dis laatmiddag en ons stap al van sesuur vanoggend af. Maar niemand gaan nou tou opgooi nie, want daar’s nog net sowat 5 km van die Baviaans Camino oor.
Ek kan al die wit huisies van Nguniland, waar ons vier dae gelede ons voertuie gelos het, in die verte sien. Gewoonlik sal ’n mens seker die aanskoue van ’n stukkie beskawing verwelkom nadat jy twee bergreekse te voet oor is.
Maar my moeë lyf ten spyt is ek nog nie heeltemal gereed om die stille majesteit van hierdie plek vaarwel te roep nie. Ek verslap my pas toe ons in die laaste valleitjie afdaal, en dink terug oor wat dit geverg het om tot hier te kom…