Die dorpie Ceres word nie deur berge omring nie, eerder omsingel. Nes jy oor die Michellspas gery kom, lê dié dorp se lappieskombers van boorde, landerye en damme voor jou. Die Skurwe-, Waboom-, Witzen- én Hexrivierberg hou wag oor die vredige toneel.
Dis juis vanweë dié berge dat hier vir lank min mense in dié vrugbare vallei kom draai het. Dit was eers nadat Andrew Bain die Michellspas deur die Witzenberg in 1848 voltooi het dat dinge hier begin woel het. Die eerste Europese setlaars het met vee en koring geboer, maar deesdae is hier ’n leërskare peer-, appel-, perske-, pruim-, appelkoos- en kersieboorde. Die dorp is juis genoem na Ceres, die Romeinse godin van landbou en vrugbaarheid.
Wintermaande is die bergspitse spierwit, maar vandag bewe die grys kolosse dynserig op die horison. Ja-nee, dis Novembermaand en wárm in die Warm-Bokkeveld. (Die streek is glo destyds so gedoop deur die eerste veeboere vanweë die groot troppe springbokke, wildebeeste en sebras wat in die lente hier deurgetrek het.)