book-icon Uitgawe Maart 2018

Daar doer in Rustenburg se wêreld...

akkreditasie
Pak jou visgerei en mik Swartruggensdam toe waar jy karp, baber, kurper of swartbaars aan jou hoek kan kry.

SWARTRUGGENSDAM

’n Buffet van vis

As Jan die Bosveldbul iewers sou bly, sou dit op Swartruggens wees. En as hy ’n visstok gehad het, sou die bielie van die Bosveld sy tent teenaan die water van die Swartruggensdam opslaan.

Dié dorpie lê tussen Rustenburg en die Botswana-grens, en die kampplek laat ’n mens dink aan die munisipale oorde van ouds.

Maar dis gewis nie munisipaal nie en Dawie Vorster bestuur die plek al die afgelope 18 jaar. Só agtermekaar hou hy dinge dat ’n mens nie net een keer hier kom kamp nie.

Te oordeel na hoe besig dit raak oor langnaweke, moet jy spring om ’n staanplek teen die water te kry. Hierdie staanplekke is op ’n lieflike groen grasmat waar wilgerbome jare terug al wortel geskiet het. Trouens, Dawie het die bome self geplant.

Destyds toe hy oorgeneem het, was hier net twee staanplekke, en geen krag, bome of gras nie. Hy het die wilde gras uitgeroei en die moerasgedeeltes teenaan die water in die netjiese staanplekke omskep.

Die staanplekke weg van die water af is teen ’n effense helling. Dis digby die kantoor en onder ’n plat laning bome op ’n lekker stuk gelyk gras. Kragpunte (die gewone huissok) staan lukraak rond en dieselfde geld vir die geplante staalbraaiplekke en krane.

Die badkamers is op die teenoorgestelde punt van die ontvangsgebou. Oorkant die storte staan elke wasbak in sy eie hokkie met ’n hoë muur tussen elkeen. Hier is wel nie ’n opwasplek nie; jy moet ’n kraan of die skotteltjie by jou woonwa gebruik. Die vier algemeenste varswaterspesies hou almal in die dam: karp, baber kurper en swartbaars – laasgenoemde sal jy by die damwal of die sloep raakloop. Onthou net: Wat jy ook al vang, die outjies moet weer terug in die water gegooi word.

Kortliks | Swartruggensdam

Vis Karp, kurper, baber en swartbaars.

Kampplek Staanplek vir 30-40 woonwaens – omtrent die helfte met koelte.

Ablusiegeriewe Oud, maar netjies en nie te ver nie.

Aankoms- en vertrektyd Geen vasgestelde tye nie.

Kontak vorsterdawie775@gmail.com; 072 172 8646; Swartruggens Dam & Karavaanpark op Facebook

Naaste dorp Swartruggens 1,5 km.

Hoe lyk die pad? Die laaste 360 m is ’n skaflike grondpad.

GPS S25.662491 E26.691184

Weg Ry & Sleep ’n Karp van 8 kg is in Desember laasjaar hier uitgetrek.

Varkie

Pomadasys olivaceus

Die varkie is inderdaad ’n vis en kom wydverspreid in die Indiese Oseaan voor. Jy sien hom van die noorde van Madagaskar en die ganse kus van Oos-Afrika tot in Valsbaai. In Engels heet hy die “olive grunter” of “piggy” en is deel van die Haemulidae-familie.

Hy is silwerolyfkleurig en het as jongeling geel vinne wat dan donkerder raak soos hulle ouer word. Die naam “varkie” verwys na die snorkgeluid wat hy maak wanneer ’n mens hom vang.

Grootte en biologie Die varkie is een van die kleinste knorders en word tot 31 cm lank. Hulle leef tot 10 jaar en is teen 3 jaar geslagsryp. Broeityd is die hele jaar teen die kus van KwaZulu-Natal en die Oos-Kaap.

Habitat Die varkie kom in skole voor wat groot getalle teen die kus insluit. Die jonges hou by riviermondings van strandmere, in die branders én in sand en klipperige gebiede tot 10 m diep. Soos hulle ouer word, soek hulle dieper waters op. ’n Mens sien die volwassenes op riwwe weg van die strand bo of naby sandgedeeltes van 10-90 m diep.

Kry hulle hier ’n Mens vang die varkie van die strand af en teen die kus van KwaZulu-Natal en die Oos-Kaap. Die vis is ook ’n toevallige vangs van die garnaaltreilvissery in KwaZulu-Natal. Omdat hulle so klein is, vang hengelaars hulle gewoonlik as aas.

Dis ’n rekord 400 g (swaarste geweegde varkie).

SASSI-status Geen, want die vis se getalle is nie in die gedrang nie. Jy mag tot 10 per dag vang en huis toe vat.

Teks Dr. Nikki James Skets Elaine Heemstra © Suider-Afrikaanse Instituut vir Akwatiese Biodiversiteit (SAIAB)