Die dag toe Dood ’n slurp gedra het

akkreditasie
Die laaste foto wat Erns van die olifantbul geneem het.
Die laaste foto wat Erns van die olifantbul geneem het.
Uit die argief: In November 2012 het Erns Grundling op reis vir Weg in Zimbabwe gevaarlik naby met ’n olifantbul oogkontak gemaak...

“Ah, it’s the housekeeper!” sê Dave McFarland toe die 5 ton-olifantbul na ons aangestap kom. Ek en die gids Douwe Vlok sit hier by Dave se tentkamp in die Manapoele- nasionale park in Zimbabwe.

Ons sit in die oopte, om ’n tafel. Die olifant is 20 meter weg, geruisloos (jy hoor hulle mos nie stap nie) op pad na ons toe.

“Oh, it’s not the housekeeper...” sê Dave byna binnensmonds, oomblikke later. Nie wat jy wil hoor nie. 10 meter.

“No sudden movements,” maan hy, darem steeds rustig. Dave is die tipe ou wat al alles gesien het in die bos. Hy’s waarskynlik ’n vryskut-olifantfluisteraar.

Douwe staan versigtig op en pirouette tot digby Dave. Ek sit aan die oorkant – die olifant se kant, bygesê – van die tafel en skiet video met die Nikon.

5 meter. Nou mik die bul eers na ’n ander tafel langs ons.

Hy kom eerder nuuskierig oor as aggressief, probeer ek myself paai.

Dan stamp hy die suikerpotjie minagtend om met sy tamaai slurp. Soos ’n skoolboelie wat tydens eerste pouse op ’n strooptog gaan deur bewende klasmaats se kosblikke.  

Sy tande is weerskante van my ore. As hy nou net sy slurp beweeg of sy kop draai – wat nog te sê vorentoe beweeg – is dit klaarpraat met Kees.

Die bul draai na my. 4 meter. Ek sien nét olifant op die wyehoeklens. In 2010 het ek reeds ’n Weg-kamera in die Goukammarivier afgeskryf, so ek laat sak die Nikon stadig. Ek wil niks tussen my en die bul hê nie, netnou dink hy dis ’n wapen of iets.

Douwe het die afgelope twee dae soos ’n drilsersant vir my aanhou sê: “As ’n wilde dier naby is, moenie beweeg nie. Bly net doodstil. En moet nooit hardloop nie.” 4 meter tot 30 sentimeter. Die olifant peil reg op my af. Ek sien geen tonnel of wit lig nie.

Daar is nie tyd vir 32 jaar se lewe om verby te flits nie. Ek sit net tjoepstil, sonder enige emosie, met die poker face van iemand met ’n wenhand in Vegas.

Die bul stop, dalk is briek ’n beter woord. Voor my, en ek praat nou van ’n liniaallengte weg (twee getuies sal dit bevestig) sien ek nét skurwe slurp. Sy tande is weerskante van my ore.

As hy nou net sy slurp beweeg of sy kop draai – wat nog te sê vorentoe beweeg – is dit klaarpraat met Kees. Ek sit stiller as Oom Paul se standbeeld op Kerkplein. Tyd maak al lank nie meer saak nie.

Die bul tree terug en stap digby my verby. Dave en Douwe is albei bleek om die kiewe.

My hand is só stewig om die kamera geklem dat Douwe my vingers een-een moet loswring. Dan skop die adrenalien in. Ek begin bewe.

Erns nog in skok na die olifant weggestap het.

“In all of my experience I have never seen such a close mock charge,” sê Dave. “But you did right.”

Dit is nou al jare ná die insident, maar ek kan nie ophou wonder nie.

Het die olifant aangevoel ek is skadeloos? Het ons in daardie oomblik ’n psigiese konneksie gehad? Of is ek net vrek gelukkig om nog hier te kan sit en tik?  

Ek verkies deesdae om te dink dit was die dag toe Dood ’n slurp gedra het. Hy was nie vreesaanjaend of aspris nie.

Ons het mekaar in die oë gekyk en die konsensus was: “Eendag, ja, maar nie vandag nie...”


Hierdie artikel het oorspronklik in Weg #100 (Februarie 2013) verskyn. Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite en geite kon intussen verander het – laat weet gerus by digitaal@weg.co.za as jy iets raaksien.