Hier bo van die koppie af lê die landskap oop soos ’n kaart: links, om die Singkoppe, kom die Carnarvonpad in; van oorkant die dorp af die Fraserburgpad. Doer loop een van Calvinia af, en die een aan die voet van die koppie, dis die Brandvleipad.
Die son se eerste strale streel saggies oor die kerktoring en hier langs my flikker die groot neonkruis ’n paar keer, en doof dan uit. ’n Vragmotor dreun uit die noorde nader – die voorloper van ’n hele stroom wat vandag sal verbykom. Williston se hoenderhane word wakker, en in die koshuis se eetsaal gaan die ligte aan. Dit herinner my: ontbyt.
Aan tafel by Die Ark-restaurant wil Sam, die African Grey-papegaai, net nie my koffiebeker uitlos nie. Dié restaurant en gastehuis doen sy naam gestand – hier’s óral diere: “Honde, visse, katte, budjies en ook my skoonma,” grap die eienaar Pieter Naudé. Hy en sy vrou, Elmarie, is kunstenaars wat hulle hier kom vestig het en daarmee saam ook ’n helder kleurspatsel op Williston afgedruk het.