book-icon Uitgawe Desember 2019

Die storie van staanplek nr. 83A

akkreditasie
Sy onderwyservriend kry deur die jaar nie veel kans om weg te breek nie, en daarom verdien hy in Desember sy jaarlikse uittog see toe, sê Neels van Heerden.

My vriend gaan hou elke jaar in die KwaZulu-Natalse Suidkus vakansie. Hy is ’n onderwyser in Pretoria en kan net twee weke in Desember sy tentpenne inkap by sy gunstelingkampplek 60 km suid van Durban.

Deur die jaar moet hy omtrent elke naweek ’n sportbyeenkoms bywoon en daarom is kort wegbreke hom en sy gesin nie beskore nie. In die somer is dit krieket en atletiek en in die winter rugby en hokkie, en tussendeur moet hy voorseisoense oefenkampe reël of slypskole vir skoleafrigters bywoon. Hy het dus net ’n klein vensterperiode aan die einde van die jaar om iewers uit te span.

Plekke soos die ATKV-Hartenbos is vir hom te ver; dis te moeilik om ’n staanplek bespreek te kry; en hy sien nie kans om met sy hele pakkaas iewers langs die pad oor te slaap nie. ’n Ander rede hoekom hy eerder in KwaZulu-Natal se rigting mik, is omdat hy heeltyd op ’n dubbelpad kan sleep.

Daar is ook meer as genoeg aftrekplekke op die N3-roete. Sulke kuipe is ’n onontbeerlike deel van sleep. Om see toe te jaag is vermoeiend en my vriend se sleepfilosofie is dat jou vakansie begin sodra jy jou huis se deur agter jou toetrek. Dit help nie jy kom moeg by jou bestemming aan nie.

My vriend pleit elke jaar by sy mense om lig te pak, maar hy kon dit nog nooit regkry dat almal se bagasie met gemak inpas nie. Hy weet maar te goed woonwapak is ’n amperse wetenskap en hy doen sy bes om by die basiese beginsels te hou, maar sy woonwa mag net 150 kg ekstra dra. Sy staanplek kos vanjaar meer as R1 200 p.n. omdat die oordtarief ’n basisprys vir vier mense hef. Hy spaar deur die jaar vir tolgeld deur R5-munte in die koekblik onder sy bed te druk.

Sy uitgebreide familie voeg ’n aardige bedraggie by die kampkoste. Dis alles vir hom die geld werd.

Met ekstra wiskundeklasse saans spaar hy geld vir brandstof en die kamptarief, omdat die bykomende kampeerders in sy uitgebreide familie ’n aardige bedraggie by die kampkoste voeg.

Dis alles vir hom die geld werd. Sy familie is tevrede en geholpe, en met die vakansie bespreek hy vir hom ’n gesonde skeut vrede én hy waarborg familie-ervarings wat hom en sy mense nog lank al bybly.

Die oordreëls by sy geliefkoosde oord bepaal dat jy elke jaar aan die einde van Desember moet herbespreek, anders kry iemand anders op ’n lang waglys dit.

Dit het juis vyftien jaar se geduld gekos voordat hy dit kon regkry om staanplek nr. 83A te bespreek. Hierdie staanplek het ’n uitsig oor die see, koelte in die middag en is ’n hanetree van die naaste ablusieblok af.

Hier is ’n hele paar rotspoele reg voor sy woonwa waar hy hom op ’n plastiekstoel met kort pootjies kan tuismaak. Wanneer hy dors raak of ’n draai moet loop, kos dit net ’n paar minute en dan is hy terug op sy stoel.

In hierdie rotspoele kry hy dan kans om ’n paar boeke te lees en hy kan vergeet van skoolsport, onhebbelike kinders en ouers wat dink hulle bloedjies met twee linkervoete moet kaptein van die eerste span wees.

Die rotspoele is ver van die hoofstrand af, wat beteken rus en vrede is oorvloedig. As ek die bestuurder of eienaar van hierdie oord was, sou ek ’n reël instel dat onderwysers soos my vriend gratis kan kampeer of individuele afslag kry.

Dit sou my manier wees om my respek vir hom te verklaar deur hom in staat te stel om effens goedkoper saam met sy gesin te kan vakansie hou. Dieselfde reël sou natuurlik geld vir verpleegpersoneel, paramedici, brandweer- en polisiebeamptes.