Die Vergete Grootpad | Gister se Grootpad

akkreditasie
In die 1800’s het honderde transportryers kortpad gevat deur die Karoo tussen Ceres en Kimberley. Deesdae, het Matt Covarr agtergekom, het jy die Vergete Grootpad egter heeltemal vir jouself.

In die Karoopoort voel dit of die tyd stilstaan. Dié prentjiemooi kloof 43 km oos van Ceres klief deur die Swartruggensberg langs die R355.

Ek stop langs ’n ou witgekalkte gebou langs die pad. Hoenders skrop in die stof naby my Landie en ek klim uit om rond te kyk.

“Ken jy die gebou se geskiedenis?” vra ek ’n ou man wat in die skaduwee van ’n kolossale eikeboom sit en pyp rook. Hy trek sy oë op skrefies asof hy diep dink en kyk op na die boom. “Hmm, nee meneer, ek het nou al vergeet, maar ek weet hy’s baie oud.”

Sy antwoord verklap iets van wat die volgende twee dae voorlê op my omswerwinge langs ’n roete wat al deur Cecil John Rhodes en verkenners soos François Levaillant en David Livingstone deurkruis is.

Dis die einste roete wat honderde hoopvolle diamantdelwers en -spekulante saam met hulle voorraad na Kimberley gevolg het nadat diamante in die vroeë 1870’s ontdek is.

Langs dié 400 km grondpad kan jy van Ceres af deur die Tankwa-Karoo tot in die Groot-Karoo ry en net ’n handjievol voertuie sien.

Dorpe soos Sutherland, Fraserburg en Loxton het ontstaan, en die boere langs die pad het hulle deure oopgemaak vir tam transportryers en poskoetse wat noordoos na die Kaapse binneland gery het. Ongelukkig het die bedrywigheid getaan.

Daar is begin met bouwerk aan ’n treinspoor van die Kaap af en teen die 1870’s het dit tot by Touwsrivier gevorder.

Dít, en die uitbreek van die Boereoorlog, het die vooruitgang kortgeknip. Nou is die kortste roete tussen Kaapstad en Johannesburg lang, uitgestrekte stukke grondpad deur stil Karoo-dorpies.

Hulle was dalk bestem vir die kollig, maar daar het niks van gekom nie. Ek en die ou pyproker sit ’n ruk in stilte onder die eikeboom. Ek probeer my indink hoe volgelaaide transportwaens, partykeer tot dertig, 150 jaar gelede deur die Karoopoort moes gekreun het terwyl die geklap van swepe deur die diep kloof eggo.

Ek steek die gasstoof aan vir ’n vroegoggend koppie koffie en staar na die uitgestrekte ruimte voor my.

Die lug is groot, die November-oggend het ’n byt. Terwyl ek die warm koffie drink, hoor ek hoe ’n windpomp aan die gang knars toe ’n windvlagie hom skep.

Volgende afsaalplek: Sutherland

Om op die Vergete Grootpad, ’n grondpad, te kom ry jy vir 40 km noordoos uit Ceres op die R46-teerpad en draai links op die R355 noordwaarts. Wanneer jy deur die Karoopoort is, vat jy die eerste afdraai na regs.

Eskom-kragdrade staan wag in die Karoopoort nes jy die Bokkeveld-Karoo binnery en op die grondpad na nêrens beland. Dis natuurlik nie regtig nêrens nie, want die pad loop tot in Sutherland. Maar eers moet jy 120 km grondpad aflê voor jy by die Komsberg kom en die bult na die Groot-Karoo-dorp aanpak.

My plan is om twee dae deur te bring op ’n deel van die Vergete Grootpad wat die ou transportryersroete deur die Tankwa-Karoo na Sutherland volg. Daar sal ek ’n kort ent op die R356 na Fraserburg ry voor ek my op die Rantepad begewe, wat al om die Nuweveldberg na Fraserburg loop.

Van daar ry jy grondpad suid en parallel met die R353 na Leeu-Gamka, waar jy by die N1 uitkom. Dis die einste pad wat vandag die hoofroete tussen Kaapstad en Johannesburg is. Kort hierna vleg ek oor die vlaktes, verby die hekke van plase soos Pretoriuskraal, Hangklip en Bizantsgat.

Die verweerde rotsmassa van Hangkliprots, ’n bekende baken en eens ’n oornagplek vir transportryers, kyk uit oor die Vergete Grootpad.

Ek hou stil by ’n verlate klipgebou naby die plaas Bizantsgat. In die veld kom ek af op die oorblyfsels van ’n ossewa wat onderstebo lê.

Ek wonder waar dit gebou is en of dit deel was van die swaar verkeer wat eens deur Bizantsgat gestroom het. Kort nadat ek weer in die pad geval het, begin ek uiteindelik die lang klim deur die voetheuwels van die Komsberg.

In die noorde sien jy die pieke van die Roggeveld-bergreeks. My Discovery se ou dieselenjin kletter teen die steil hange uit en nou het ek ’n heel ander uitsig oor die rotsagtige landskap.

Die roete kronkel deur Thuyshoogte waarna dit jou in die Hantamdistrik uitspoeg.

’n Klein teken by ’n beeskraal gee te kenne dat jy nou in die Karoo-Hoogland is.

By Marigold Heights/Kosmoshoogte maak die uitsig oop en lê die nimmereindigende vlaktes uitgestrek oor die Roggeveld in die rigting van Sutherland.

Dis laatmiddag teen die tyd dat ek net suid van Verlatekloof weer op teerpad beland. Ek was heeldag op grondpad en nou sien ek die eerste keer ’n ander voertuig, ’n ou Isuzu-plaasbakkie wat Verlatekloof se kronkelpad na Sutherland uitsukkel.

Stiltetyd

Sutherland se helder naglug was nog altyd dié dorp se grootste aantrekking.

Op weeksdae gaan hier maar min aan, maar naweke lok die Suid-Afrikaanse Sterrewagsentrum (SAAO) ’n hele klompie besoekers.

Dis Maandagaand en met verblyfbordjies op die hoek van omtrent elke stofstraat, kan ek kies waar ek wil bly… of so het ek gedink.

“Maandae is eintlik vakansiedae hier,” lag Adrian Jerome, eienaar van The White House Backpacker’s Lodge, blykbaar die enigste oornagplek wat oop is.

“Dié plek kom heeltemal tot stilstand op Maandae – en wanneer dit Sewende Laan is.”

Sutherland het in die 1850’s ontstaan toe die NG Kerk die plaas De List gekoop het. Dié grond is in 50 erwe verdeel en die dorp is genoem na ds. Henry Sutherland, ’n boorling van Worcester.

Die volgende oggend drentel ek deur die stil strate verby vervalle voorstoepe en die Moederkerk, die hart van die dorp. Sutherland was die tuisdorp van die digterbroers N.P. van Wyk Louw en W.E.G. Louw, wie se huis in Jubileestraat deesdae die dorpsmuseum is.

Ek maak die Discovery vol by die enigste dieselpomp in die buitewyke van die dorp. Die petroljoggie dra nog een van daai leerheupsakke met ’n paar gleuwe vir muntstukke, iets wat ek onthou uit my kinderdae – en ek skat toe ’n mens nog met muntstukke vir ’n tenk brandstof kon betaal.

Kort voor lank is ek terug op grondpad, en ek besluit om met die Rantepad Fraserburg toe te ry. Hoewel dié pad nie regtig deel is van die Vergete Grootpad nie, het die destydse transportryers dit beslis gebruik en het dit eens ook deel uitgemaak van die poskoetsroete tussen Sutherland en Beaufort-Wes.

Bowendien is die versoeking van ’n selfs meer afgeleë pad as die hoofgrondpad tussen Sutherland en Fraserburg net te groot.

Die Rantepad is ’n 100 km lange ruwe grondpad wat al langs die Nuweveld-platorand loop.

Dit begin sowat 20 km oos van Sutherland waar jy van die R356 afdraai, en terwyl jy ooswaarts ry, verkyk jy jou aan die Groot-Karoo en uitsigte heelpad tot by die Swartberg in die suide.

Die Rantepad oorrompel my vinnig. Dit loop deur maanlandskappe, tuimel af in klowe en kronkel op na hooggeleë vlaktes. Ek stop by Kobus en Anna-Marie Olivier se plaashuis – en die driester Rhenoster Valley-gasteplaas.

Dis 60 km van Sutherland af; jy ry dus nie sommer gou terug dorp toe as jy vergeet het om melk te koop nie. Ons raak aan die gesels oor die lewe op dié afgeleë plaas langs die Rantepad.

“Hier het ons nie internet of selfoonontvangs nie,” vertel Anna-Marie. Sowat 2 km van die huis af het hulle ’n ou kothuis vir besoekers gerestoureer, kompleet met ’n Aga-antrasietstoof.

“In die middel van die winter is dit die perfekte oornagplek,” sê Anna-Marie.

Danksy die ligging bo-op die Nuweveld-platorand is dié wêreld in die somer heelwat koeler as die Karoo se laaggeleë dele. In die winter word dit egter bibberkoud. Trouens, vir die Oliviers is dit tweede natuur om in die sneeu met hulle plaaswerk voort te gaan.

Van die Rietrivier af kronkel die pad deur ruwe klowe en riwwe van die Nuweveldberg, waarna dit jou op die Groot-Karoo se vlaktes uitspoeg. Hier raak die landskap meer gelyk en doer ver sit plat berge soos spikkels op die horison.

Ek groet vir oulaas die besondere uitsig agter my toe die Landie die platorand uitkreun tot waar die laaste stuk grondpad my na die “grootstad” Fraserburg neem.

Vriesburg

Fraserburg is ’n dorp sonder aanstellerigheid. Jy kan kitskos kry by die Meerkat-kafee, bier by die Nuweveld-drankwinkel, brandstof by Mans Motors en plaasimplemente by die Fraserburg-Koöp.

As jy enigiets anders wil hê, moet jy dit saampiekel of daarsonder klaarkom.

Laataand kom ek hier aan en ry deur die verlate strate. Nes die eerste dag, toe ek nie ’n enkele motor op die lang grondpad teëgekom het nie, gaan ek nou weer deur die dorp ry tot by die Outuin Country Lodge sonder om dié rekord te breek.

Maxie Boshoff waai die ganse uit die pad toe ek opry na die lodge toe.

“Dis darem nie te koud dié tyd van die jaar nie, maar daar is wolkomberse as jy dit nodig kry,” stel Maxie my gerus nadat ek my moeë lyf uit die kar gesleep het.

Bo ons vonkel die eerste sterre al. “Jy móét die spore sien,” babbel sy verder.

Een van Fraserburg se besoekplekke is die versteende Bradysaurus-spore buite die dorp. Dié soogdieragtige reptiel het glo voor die dinosaurusse in die middelste deel van die superkontinent Gondwana voorgekom.

Dís al wat ek nodig het om my die volgende oggend vroeg uit die vere te kry sodat ek eers die dorp kan verken en dan saam met ’n gids van die plaaslike museum na die spore kan gaan kyk.

In die Hoofstraat haak ek egter vas by Trompie Boshoff, wat na ’n olielek kyk onder sy ou Land Rover Series 3-bakkie.

“Hulle kry dit nog steeds nie reg nie,” sê hy. Ek lag toe ons mekaar langs die straat groet.

Ek dink aan my Discovery wat sy gebruiklike oornag-oliekol in die oprit van die Outuin Country Lodge gelos het.

Trompie vat my vir ’n draai en ons ry uit na ’n ou Britse buskruitstoor uit die tyd van die Boereoorlog.

“Ja, die Vergete Grootpad,” mymer Trompie toe ek hom vertel van die pad wat ek gery het. “Daar is nog vragmotors wat hierdeur kortpad vat Kaap toe. Dit is maar die kortste roete.”

Die gevolg hiervan is dat die grondpaaie na Loxton en Victoria-Wes soms in ’n haglike toestand is.

Hy vertel my van ’n perlemoensmokkelaar wat in 2009 gereken het hy sal met die Vergete Grondpad ry om “onnodige aandag” te vermy. Toe hy egter laatnag oor ’n stopstraat in Fraserburg glip, het die polisie hom agternagesit.

In sy haas om weg te kom het die smokkelaar in die Voortrekkergedenkteken onder in Voortrekkerstraat vasgejaag. Hy is net daar in hegtenis geneem, sy kar is afgeskryf en die gedenkteken moes herstel word.

Ná my uitstappie na die Bradysaurus-voetspore – iets wat beslis die moeite werd is – mik ek suid uit Fraserburg na Leeu-Gamka en die N1.

Die laaste ent van die Vergete Grootpad moet maar oorstaan vir ’n ander agterpad-avontuur.

Op my kaart sien ek ’n groen spikkellyn suid van Fraserburg al langs die R353-teerpad. Ek kan dit nie weerstaan nie – nog ’n paar stil ure weg van die teerpad en sy verkeer is mos heelwat beter as ’n uitmergelende rit op die N1 terug Kaapstad toe.

Hoewel dié grondpad van 140 km uitstekend is, neem ek ’n paar uur om dit kaf te draf – hoofsaaklik omdat ek gereeld stilhou en uitklim om die rotsformasies en kronkels te verken van die Oukloofpas, wat grasieus deur die Nuweland-platorand glip.

Die pas is in die 1870’s gebou as deel van die pad wat Fraserburg en Leeu-Gamka verbind. Eers toe Thomas Bain later die Teekloofpas hier naby op die R353 gebou het – deesdae ’n teerpad – het die Oukloofpas nog ’n vergete kortpad geword.

Ek ry verby verlate kliphuise, windpompe en die geroeste wrakke van motors wat Leeu-Gamka nooit bereik het nie. En net soos met al die ander grondpaaie wat ek die afgelope twee dae gery het, is ek heeltemal op my eentjie.

Viva plastiek?

Uiteindelik sluit die pad aan by die R353, sowat 20 km noord van die N1. Nie lank daarna nie is ek op die breë teerpad wat die landskap in twee verdeel.

Ek ry in by die bedrywige Ultra City, ’n geel plastiekhopie in die Karoo-landskap. Hier is meer as tien petrolpompe; die joggies staan omtrent bont om al die garagekaarte deur die kaartlesers te trek.

Hulle sal beslis vir die ouens met die leerheupsakke op Sutherland lag.

Die einste treinspoor wat die eens belangrike roete van sy status beroof het, lê voor my in die middagson uitgestrek, waar dit noordoos mik na Kimberley en suidwes na Kaapstad.

Dis nogal ironies dat die treinspoor nou in dieselfde bootjie is as die Vergete Grootpad. In die 1920’s is voorspel dat selfs al het die treinspoor die transportryers se reise kortgeknip en Suid-Afrika se kortste noord-suid-roete in onbruik laat verval, sou die koms van die motor vir ’n oplewing sorg.

Maar teen die 1940’s het bouwerk aan die Du Toitskloofpas begin en het Suid-Afrika ’n nuwe noord-suid-roete gehad.

Ek wonder hoe sou Fraserburg of Sutherland vandag gelyk het as die N1 deur hulle sou loop. Of hoe die wye, oop landskap van die Tankwa-Karoo en die Roggeveld sou lyk met vulstasies, padkafees en haastige verkeer.

En hoeveel plekke daar nog is waar jy 400 km se grondpad kan verken sonder om ’n enkele ander voertuig teë te kom. Gelukkig het min langs die Vergete Grootpad verander.

Dís die pad wat jy moet ry as jy kortpad wil vat tussen Kaapstad en Kimberley, of bloot ’n eens bedrywige roete wat stil geraak het, wil verken.

Ek wil ook gaan!

Wat kan ek daar sien en doen? Ry dele van die Vergete Grootpad, die oorspronklike roete van Kaapstad na die binneland voordat die treinspoor of die N1 gebou is. Verken honderde kilometers grondpad tussen die Tankwa-Karoo, die Roggeveld en die Groot-Karoo.

Hoe lyk die pad? Al die grondpaaie is in ’n goeie toestand. Die Oukloofpas tussen Leeu-Gamka en Fraserburg is plek-plek verspoel.

Moet ek ’n 4x4 hê? Jy sal dit met ’n 4x2-bakkie met ’n hoë grondvryhoogte kan ry.

Is daar vulstasies? Jy kan volmaak op Ceres, Sutherland, Fraserburg en Leeu-Gamka. Tussen die dorpe is daar nie vulstasies nie.

Wat moet ek saamneem? Jy ry ver tussen dorpe. Neem baie water en kos, want jy kan tot ’n dag lank van dorp tot dorp ry as jy af en toe stilhou. Neem twee noodwiele. Die pad looi jou bande en jy kan dit nie sommer op die dorpe langs die pad vervang nie.

Waar kan ek bly, en wat kos dit? Al die dorpe het selfsorgverblyf en gastehuise.

Nog inligting? discoversutherland.co.za; fraserburg.co.za

Vinnige feite Beste tyd: Dié wêreld lyk die mooiste in die herfs of lente. Die wintersdae is bibberkoud en dit sneeu gereeld. Die somer is bloedig warm.

Bly minstens Twee nagte en drie volle dae is meer as genoeg om die roete te verken.

Afstand van Kaapstad na Ceres: 121 km, Johannesburg na Ceres: 1 353 km.

Klink soos ’n boffin Die Roggeveld is genoem ná wilderog (roggen in Nederlands) wat destyds volop was in die omgewing, maar amper heeltemal uitgewis is deur vee wat hier gewei het.