
Dié groot geel gebou op Lizette en Jan van Brakel se plaas, Springerskuil, is reeds drie geslagte ’n baken hier in die Overberg. “Ja, toe ek nog ’n kind was, was hierdie ou Jan se algemene handelaar. Ons het soggens hier gewag vir die skoolbus Jongensklip toe,” onthou die huidige bestuurder, Ounooi van Straaten.
“Jy kon enige ding hier koop – van meel, suiker, sokkies en hemde tot draad en droppers. Hier agter was nog ’n werkswinkel waar die boere hulle bakkies laat diens het. En ou Jan het ’n slaghuis gehad. Hier was tot ’n tafeltjie waarby die manne sit en kaart speel het!”
Heelwat van dié ou kenmerke het behoue gebly: die glasvertoonkas, die ou kasregister, ’n winkelboek waarin die inkopies van die distrik se families in netjiese loopskrif opgeteken is...Kyk ’n bietjie rond: die rakke staan nog gestapel met die oorspronklike boksies waarin alles van ’n das tot ’n safaripak verkoop is, en op die ou toonbank sit daar nog ’n kopermaatband vasgeskroef vir die afmeet van materiaal.
Deesdae kan ’n mens tuisgebak en ingelegde produkte hier aanskaf en die stoor het ook ’n proelokaal met van die omgewing se beste kontreiwyne soos Raka, Slowine, Lomond en South Hill. Maar die eintlike lokaas is die tuisgekookte maaltye: ’n plaasontbyt (R40-R65), bobotie, afval (R120-R180), pasteie, burgers (R70), geroosterde toebroodjies, quiche (R70-R80)...
En jy kan my mos in ’n wip vang met ’n bord waterblommetjiebredie!
Die blommetjies word in die Kleinrivier geoes wat oor Ounooi-hulle se plaas, Hillside, loop, en dan voorgesit met rys, pampoenkoekies en beetslaai.
Vir nagereg kan jy kies tussen kaaskoek (R45), appeltert, ’n melkskommel of selfs twee koeksisters (R25). En onthou ’n paar pakke koekies en ’n fles konfyt.
Waar? Tussen Caledon en Napier waar die R316 en die R326 kruis.
Oop: Weeksdae van 8.30 vm.-4.30 nm., Sa. sluit die stoor om 2.30 nm. en op So. is die ure 9.30 vm.-2.30 nm.
Kontak: 028 212 2214; vanbrakelstoor.co.za; ounooi@twk.co.za