Waar begin ’n mens? Die beplanning vir ’n lang reis deur Afrika is makliker as wat jy dink en die kanse is goed dat al die toerusting wat jy nodig het – van ’n voertuig tot kampgoed – reeds in jou motorhuis staan.
In verlede maand se tydskrif (Weg #166) het ons ’n paar lesers se wenke gedeel oor hoe om só ’n reis aan te pak. In hierdie artikel stel ons ’n 70 dae lange reisplan voor, met voorgestelde oornagplekke (meestal kamp) waarmee jy van Suid-Afrika deur Botswana en Namibië na Zambië kan ry.
Daarvandaan mik jy na Tanzanië en Rwanda, waar jy omdraai en terug huis toe ry deur Malawi, ’n stukkie Mosambiek en Zimbabwe.