Dit lyk asof die see nie van Hondeklipbaai hou nie. Sy stuur haar grootste en grysste golwe om teen dié plekkie se rotse vas te spoel. Asof sy dit wil terugdwing, sommer diep Namakwaland in.
Jy kan hoor hoe sy deur die wit skuim sis: “Hou jou voete uit my water uit.” Op die vaal sandbultjie aan die rand van die dorp is ’n begraafplaas waar jy kan gaan kyk hoeveel lewens sy al ingesluk het.
Net stene met name het sy laat agterbly. Lang lyste. Soms vyf met dieselfde van. Pa, seuns, ooms saam in die koue, donker, soutpoel afgetrek.