Kamp hier: Suikerbossie, Sederberg

akkreditasie
Kom sit agteroor en kyk hoe die Sederberg se rotsformasies oranje-pienk-pers word wanneer die dag uitloop...

Kap jou tentpenne in op die wal van die Tweerivier op die plaas Suikerbossie in die suidelike voetheuwels van die Sederberg. 

Hier het jy alles wat jy nodig het: groen grasperke, skaduwee (elkeen van die 18 staanplekke het ’n rietlapa) en ruim, skoon ablusieblokke. Elke staanplek het ’n braaidrom, een het selfs ’n toegeruste kombuis. Die staanplekke kan elkeen verskillende aantal mense huisves. 

Daarsy, nou kan jy agteroor sit en kyk hoe die Sederberg se rotsformasies oranje-pienk-pers word wanneer die dag uitloop...

Wat doen ’n mens hier? Suikerbossie is ’n vrugteplaas, maar hier word op net 30 van die 1400 ha geboer. Die res is joune om te verken.

 Ry ’n 4x4-roete, stap, ry bergfiets, staan onder ’n waterval, bekyk rotstekeninge, gaan op ’n donkiekarrit...

Ongelukkig word geen dagbesoekers toegelaat nie. 

En die beste is… Die kampplek is teenaan ’n kuil in die rivier wat heel jaar vol water is. Jy kan swem en lyn natmaak (jy hoor nou en dan ’n honger vis wat ’n gogga probeer hap). Of net heeldag met ’n tou oor die kuil swaai en karplaks in die water val. Huur ’n binneband of ’n kano as die kleinspan moeg Tarzan-en-Jane gespeel is.

Waar? Dis op die R303 sowat 29 km suid van Citrusdal en 85 km noord van Ceres. 

GPS S32.67580, E19.21043 (afdraai)

Kontak suikerbossieguestfarm.co.za; Facebook: Suikerbossie Guest Farm; 022 921 3537 (Karin)