book-icon Uitgawe Desember 2020-Januarie 2021
Deel

Leser vertel: Kamp-kamp Kaap toe

akkreditasie
In die Karoo- nasionale park.
In die Karoo- nasionale park.
Uit die argief: Jy hoef nie in een skof van Gauteng af Kaap toe te ry nie; ’n mens kan so kamp-kamp afry see toe én dan sommer ook ’n draai maak by goeie vriende, vertel Kenny de Bie van Pretoria.

Kenny en sy vrou, Elaine, het laasjaar al besluit hulle wil vroeg vanjaar ’n draai in die Kaap gaan maak om by hulle vriende Magda en Lionel Robinson te gaan kuier. Lionel het kort tevore ’n beroerte gehad en dit het nie goed gegaan met hom nie.

Op 20 Februarie spring Kenny-hulle douvoordag weg. Hulle kampwaentjie, ’n Venter met ’n daktent bo-op, draf saam. Hulle het ’n paar oogmerke met die reis: Behalwe die Robinsons wil hulle ook ander ou vriende sien; Sutherland is op die lysie; én dalk maak hulle ’n draai in die Richtersveld. Hulle paspoorte gaan saam, want ’n mens weet nooit nie... en geen besprekings word gemaak nie. Hulle is dus nie gebind aan tyd nie. Kenny vertel.

"Ná 360 km trek ons by Winburg af en maak ’n draai by van die dorp se mooi kerke en die Voortrekkermonument. Dit is besonderse geboue, maar ons mik nou wes in die rigting van Orania waar ons die eerste aand wil kamp. Dis net meer as 300 km tot by die Aan-die-oewer-kampplek. Dit lê teenaan die Oranjerivier en is baie netjies. Die personeel is nie net vriendelik nie, maar ook baie behulpsaam.

Die plan is om die tweede aand in die Karoo- nasionale park te slaap. Dis net anderkant Beaufort-Wes en ’n raps meer as 400 km se sleep. Maar natuurlik wil ons ook die NG kerk op Britstown sien, en doen eers hier aan.

Ons was al voorheen by dié kampplek, maar sedert ons vorige besoek het dinge verander. Die staanplekke het plaveisel gekry en die park self is pragtig. Die Klipspringerpas is net anderkant die kampterrein en iets om te sien: Die smal teerpad met sy klipgestapelde kante wurm teen die berg uit. Vanaand slaap ons by Arnold Albrecht en Werda Biesenbach.

Hulle plaas is aan die voet van die Robertsonpas net voor Mosselbaai. Dis ’n raps meer as twee uur se ry, maar ons sorg dat ons deur die pragtige Meiringspoort ry. Die Outeniquapas is ook ’n besonderse gesig; hier trek ons af by een van die watervalle langs die pad waar ons iets eet vóór ons aanstaltes maak. Vir die volgende paar dae geniet ons Arnold-hulle se gasvryheid.

Hartenbos digby Mosselbaai is nou net om die draai. Hier ry jy nié verby sonder om by die ATKV-oord te oornag nie. Ons kry ’n netjiese uitsig oor die see en besluit om sommer ’n paar nagte oor te staan. Ons verken die omgewing en skiet ’n ent die binneland in oor die Montagupas. Ons trek af by Die Smitswinkel aan die buitewyke van Oudtshoorn en keer met die Robertsonpas terug. Hier loer ons in by ons vriende Hennie en Mariette Zwart op die dorp en braai ook die aand by hulle.

Kaapstad is nog sowat 350 km verder. Op pad koop ons kaas op Bonnievale en kom uiteindelik aan by die Van Zyl’s Rus- woonwapark aan die buitewyke van Kaapstad. Die plek is geweldig netjies en ek let op hier is heelwat kampeerders wat amper lyk of hulle voltyds hulle staan gekry het.

Die tyd breek aan om Lionel-hulle en ons ander vriende Johnny en Max Herbst te sien – albei dié egpare woon skaars 2 km van ons kampplek af.

In die NG kerk op Britstown
Elaine buite Oudtshoorn.
Petrolpompe in gelid op Matjiesfontein.
Kenny in die Pofadder by Babylonstoren.
Die Sterland-kampplek op Sutherland.
Die Vloedmuseum op Laingsburg is ’n aangrypende plek.

Terwyl ons in die Kaap is, speel ons heerlik toeris. Ons gaan maak ’n draai by Kaappunt – waar die wind omtrent vir Elaine omwaai – en ry oor Chapmanspiek terug. Anderkant Klapmuts draai ons vinnig af by Babylonstoren om na die interessante groente- en vrugteboorde te kyk. En natuurlik besoek ons ook Tafelberg.

Die volgende paar dae vertoef ons in ’n gastehuis op Hermanus. Op pad soontoe pik ons ons vriendin Corrie Huygen op Somerset-Wes op – sy kom saam kuier.

Ons Tshipise-vriende Andy en Alet le Roux nooi ons vir middagete, en ons ry die volgende dag weer in die omgewing rond. Ons draai op L’Agulhas, besoek nog ’n kerk op Bredasdorp en gaan kyk hoe lyk sake op Waenhuiskrans. Op pad terug gastehuis toe koop ons heerlike vars vye langs die pad.

Corrie moet terug huis toe en ons kies koers na Sutherland. Op Matjiesfontein besef ek ek gaan nie brandstof kry nie en mik Laingsburg toe. Terwyl ons dan hier moet draai, gaan kyk ons na die Vloedmuseum wat ’n mens ’n terugblik gee op die erge oorstromings van byna 40 jaar gelede.

Uiteraard besoek ons Sutherland se wêreldbekende Sterrewag, maar die aand kamp ons by Sterland net buite die dorp. Dit behoort aan Jurg Wagener en hy is bekend vir sy sterrekyksessies. Sy kampplek is netjies en elkeen van die staanplekke het aan die rug- en sykante bome wat jou afsonder van ander.

Die Tankwa Karoo- nasionale park is net 100 km van hier af en ons besluit om te gaan kyk. Die paaie is in ’n slegte toestand, ons sien omtrent geen diere nie – ná dese is ons nie regtig beïndruk nie.

Dis 160 km grondpad tot op Calvinia, en die mense van die omgewing sê die pad is nié in ’n goeie toestand nie. Dit jaag skoon my senuwees op hol en ek hou vier uur opsy vir die rit. Maar ons was verniet bekommerd – ná net twee uur is ons daar.

Op Nieuwoudtville bewonder ons ’n volgende mooi kerkgebou, maar terwyl ons brandstof ingooi op die dorp, besluit ons om eerder nie Clanwilliam aan te doen nie. Ons kies om eerder noord te ry tot by Springbok. Die dorpie se woonwapark is aan die ou kant, maar dis stil en netjies, en die badkamers is oorgedoen sedert ons laas daar was.

Hier is ons by die ingang van die Richtersveld-park.
Die Akkedispas... en op pad Namibië toe.

Die Richtersveld is volgende, en ’n goeie 300 km lê voor. Maar eers vul ons proviand aan op Springbok en ek maak digby die park op Port Nolloth die brandstoftenk vol. Ons verken groot dele van die Richtersveld en kry nêrens teëspoed met ons tweewielaangedrewe Toyota Fortuner nie. Ons kamp by Sendelingsdrift, en hoewel dit alles mooi en skoon is, pla die ongelyk staanplekke. Die nabye oopgroef-diamantmyn is ook raserig, maar die kampplek se vriendelike personeel vergoed hiervoor.

Dis tyd om ons paspoorte uit te haal, want ons besluit om met die pont die Oranjerivier na Namibië oor te steek. Bedrywighede by die pont begin om agtuur soggens en ons is die eerste voertuig oor die rivier. Aan die Namibiese kant deursoek polisiebeamptes ons baie deeglik – selfs Elaine se beursie word nie oorgeslaan nie. Ek vra die een beampte waarna hy soek. “Diamante...” Ons is nou in die oorgrensgedeelte van die Ai-Ais-Richtersveldpark en gaan slaan kamp op by Hobas, sowat 200 km van Sendelingsdrift af. Die Visriviercanyon is ook hier, en daar is net een beskrywing vir dié natuurverskynsel: Ongelooflik!

Kenny by die Hand van God.

Mariental is net minder as 400 km noord hiervandaan as jy oor Keetmanshoop ry. Ons bespreek ’n kampplek by Hardap, maar vir ’n huisie kan ons afslag kry, en dan net R66 meer betaal. Ons bly alte heerlik in die huisie. Dis tyd om terug te keer na Suid-Afrika en ons pak die 300 km tot by die Mata-Mata-kamp in die Kgalagadi-oorgrenspark.

Dis koffietyd op pad na die Visriviercanyon

Ons slaap twee aande op Twee Rivieren, en in die kort tydjie daar sien ons heelwat wild. Hier is min koeltebome in die kampplek, en as jy laat opdaag, is die son beslis jou voorland.

Die teerpaaie is terug en ons ry tot op Kathu, ’n stootjie van ’n goeie 500 km. Ons groet nog ’n ou vriend, Barend Coetzee, en slaap oor in ’n gastehuis.

Pretoria is nou net ses uur weg, en ná 7 000 km, waarvan 1 000 km grondpad – is ons weer veilig in die Jakarandastad. Ons het nie soveel as ’n pap band gehad nie, maar ongelukkig is Lionel ’n rukkie later – in Junie – oorlede. Ons is dankbaar ons kon hom ’n laaste keer sien."

LW

Hierdie artikel het oorspronklik in Desember 2020 verskyn. Feite en geite kon intussen verander het – laat weet gerus by digitaal@weg.co.za as jy iets raaksien.