Die Biyamiti-bosveldkamp is soos daai uitskieter op hoërskool wat goed was in alles: rugby, krieket, atletiek, skaak én bolplante verkoop... Daar is soveel dinge wat in dié bosveldkamp se guns tel, dis g’n wonder dis byna heeljaar volbespreek nie.
“Volgens die statistiek van April laasjaar af was die kamp 98% vol; dis die naashoogste syfer in Sanparke,” vertel Surprise Hlatshwayo, wat sedert 2017 die gasvryheidsbestuurder is.
Wat maak dié bosveldkamp so gewild? Dis die enigste een met ’n stuk private pad (18 km) waar jy die Groot Vyf kan sien én ’n uitkykpunt waar jy kan uitklim en vroegoggend warm fleskoffie kan drink terwyl die kwêvoëls en blouapies in die takke baljaar.