
Ek en my vrou, Sophia, het ons eie toergroepie wat ons Die Lookarounds noem. Ons is ses pare wat so gereeld as moontlik toer en het al oorgrensplekke soos Botswana, Namibië, Zimbabwe, Mosambiek en Angola besoek.
Sedert 2004 het ons die wêreld platgery met ons Land Cruiser 4.5 EFI. Ek het ook meer as een model gehad en ná 420 000 km nooit enige probleme gehad nie.
Op ’n besoek in 2014 aan die Krugerwildtuin het Sophia malaria opgedoen, en dit was die einde van die rondryery.
Intussen het ons ons rygoed afgeskaal. Ek het ’n paar jaar terug ’n nuwe Chevrolet Utility 1800-bakkie gekoop waarvoor ek R168 000 betaal het.
Ons het ook ’n 2014 Bushy Executive-boswa aangeskaf – dié was nog in ’n puik toestand. Sedertdien hou ons binne die land se grense, maar probeer op soveel moontlik grondpad ry.
Uiteraard is die bakkie se brandstofverbruik wonderlik vergeleke met dié van die Cruiser.
Hy gee 9,1 km/l met die wa en 11,9 km/l daarsonder. Vergelyk dit nou met die Cruiser se 5,4 km/l...
Die bakkie is sterk genoeg vir sleep met sy bypassende ratverhouding. Die waentjie is met inloopremme toegerus en ons geniet hom terdeë.
Hierdie artikel het oorspronklik in September 2018 verskyn. Feite en geite kon intussen verander het – laat weet gerus by digitaal@weg.co.za as jy iets raaksien.