Leser vertel: 7 bergpasse in 4 dae

akkreditasie
Uit die agief: Toe die idee om ’n string bergpasse in die Noordoos-Kaap die een na die ander te ry wéér om ’n braaivuur bespreek word, het Mico en Christine Troskie besluit dis uiteindelik tyd.

Lady Grey, Barkly-Oos, Elliot, Ugie en Maclear… ons almal ken dié name, maar hoeveel mense weet hoe mooi dit daar is?

Toe my man, Mico, een aand weer dié vraag vra, het ek besluit ons moet nou ophou daaroor praat, in ons rygoed klim en gaan kyk hoe die wêreld daar lyk.

Vier dae later was die uitstappie gereël en ’n klompie vriende saam met wie ons al deur Botswana, Namibië en Zimbabwe getoer het, was ook van plan om saam te ry. 

Vir die sewe passe op ons beplande roete het jy ’n 4x4 en ’n ervare bestuurder nodig – ses van die passe is grondpad en dit kan goed nat raak hier. ’n GPS kan ook nie skade doen nie – daar’s nie baie aanwysers langs die paaie nie en as jy iewers tussen die berge verkeerd ry, gaan jy sukkel om weer op koers te kom. 

Dag 1

Ons maak litte los

Buiten my suster, Marie Griesel, en haar man, Boelie, wat buite Bloemfontein boer, woon die res van ons almal op Burgersdorp. Die konvooi kry mekaar in Aliwal-Noord en ons vertrek net ná middagete. 

Vandag wil ons die Joubertspas ry en om daar uit te kom volg ons die R58 oos in Lady Grey se rigting. 

Die roete neem ons verby die dorpsdam tot in die Witteberg. Ons ry verby ’n plek met ’n mooi naam, Perskedraai, en nog een – Windpunt. Ek wonder waar hulle aan hulle naam kom. 

Die Joubertspas se steiltes klim al hoe skerper boontoe en uiteindelik trek ons bo-op ’n plato af. Van hier af kan jy Lady Grey doer in die weste sien. 

Die berge is mooi en tot hier was die pas in ’n goeie, rybare toestand hoewel dit meestal maar net ’n tweespoorpaadjie is. 

Met die afryslag is die bestuurders maar versigtig en ná sowat drie uur op die Joubertspas kronkel ons konvooi tussen plase deur en oor driffies met name soos Kar Wegspoeldrif en Car Sump Drift. 

Waar die pad weer by die R58 Barkly-Oos toe aansluit, draai ons terug in Lady Grey se rigting om die aand op Ian Cloete se plaas by Karnmelkspruit River Resort (051 603 7036) te kamp. 

Die kampterrein is goed ingerig en hier’s ’n swemplek in die spruit skaars ’n klipgooi van waar ons tente staan. Ons eerste aand op reis eindig op ’n gesellige noot.

Joubertspas

Lengte 10,7 km

Hoogste punt 2 234 m

Beginpunt S30.71089 E27.22641

Eindpunt S30.71359 E27.29126

Dag 2

Nóú raak dinge 4x4-rof

Dié oggend gaan maak ons eers ’n draai by die broeikolonie Kaapse kransaasvoëls wat in ’n ravyn op die plaas hou. ’n Mens kan maklik vir ure sit en kyk hoe die voëls op die lugstrome ronddryf, maar ons moet aanstaltes maak: Vandag het ons drie passe om te ry. 

Ons mik oos in Barkly-Oos se rigting en net toe ons oor die Kraairivierbrug gery het, draai ons regs weg op die R369 na Clifford en volg die roete na die Otto du Plessispas. 

Die pas is ’n mooi grondpad wat tussen die berge deur kronkel. Dit het ’n paar dae gelede gereën en ons trek af by ’n driffie en drentel in die koel bergwater rond. 

Teen 11 vm. se kant knaag die honger. Ons soek ’n uitspanplekkie langs die pad en gou staan die gasbraai en sis met ’n skottel vol spek en worsies.

Rondom ons strek die groen heuwels skynbaar sonder einde in alle rigtings tot op die horison. En toe ons verder ry, is daar elke nou en dan ’n waterval wat sterk loop en eers deur die verkykers bekyk word.

Ons volg die pad onder die bergrand langs, met die Tsomovallei wat hier onder ons uitstrek tot by Elliot. Hier draai ons noord weg op die R58 – Barklypas. 

Hierdie is die enigste teerpadpas op ons roete en hy gooi sulke lang, slap draaie. Rondom ons in die groen veld stulp oral knoetserige sandsteenformasies uit en die tonele raak al hoe mooier.

Heel bo in die pas trek ons by die Mountain Shadows-hotel af om ietsie te drink en seker te maak ons weet hoe om verder te ry.

’n Entjie verder moet ons wegdraai na die Bastervoetslaanpad, ook bekend as die L.A.P.A. Munnikpas (genoem na die minister van gesondheid in 1979).

Met ’n moeilikheidsgraad wat wissel tussen 3 en 5 is hierdie pas nie speletjies nie. Die begin van die pas kan ’n mens maklik ’n ander storie vertel, want om jou lê mooi skaapplase en die pad styg en daal nie te kwaai nie.

Maar skaars 8 km anderkant Mountain Shadows draai ons regs weg op ’n grondpad en tóé is ons in vir ’n ding!

Dié pad is nie altyd begaanbaar nie – ná ’n swaar reënbui kan dit baie modderig wees. Gaan hoor liefs vooraf by die hotel of ’n mens kan verder aanry.

Ons stamp en bons oor die grondpad en is dan uiteindelik bo. Hier is twee gedenkplate opgerig: Een van L.A.P.A. Munnik en nog een vir Nic de Bruin wie die westelike deel van die pas gebou het.

Die helling aan die oostekant lyk drasties anders as die stuk pad wat ons tot hier gery het – regte 4x4-wêreld! 

Die vyf voertuie daal aan die ander kant met die Bastervoetslaanpad langs af en toe ons by ’n piekniekplek kom, besluit ons om net daar te kamp vir die aand.

Daar’s ’n watergat naby en almal kan die dag se sweet gaan afspoel. 

Otto du Plessispas

Lengte 10,3 km

Hoogste punt 2115 m

Beginpunt S31.20118 E27.50348

Eindpunt S31.25533 E27.53443

Barklypas

Lengte 12 km

Hoogste punt 2018 m

Beginpunt S31.26908 E27.82581

Eindpunt S31.21179 E27.84195

Bastervoetslaanpas

Lengte 23,6 km

Hoogste punt 2236 m

Beginpunt S31.15826 E27.92105

Eindpunt S31.20578 E28.18967

Dag 3

Ver in die wêreld, Kitty

Toe die bergpad die derde oggend by die R56 aansluit, draai ons eers terug in Elliot toe om brandstof in te gooi en by die supermark in te draf. Daarna ry ons voort, oor Ugie tot by Maclear. 

Op vandag se spyskaart: die Potrivierpas en Naudésnek noord van Maclear. Dis redelike stil paaie wat meestal net deur die distrik se boere gebruik word. 

Eers slinger die R396 noord van Maclear deur plantasies en dan, sodra ons die Potrivier op ’n draai in die stroom gekruis het, begin dit teen ’n stewige helling na bo te loop.

Sover as wat ons ry, bly die rivier aan die westekant van ’n bergrug terwyl die pad vir groot dele aan die oostekant langs loop.

Net voor ons weer aftrek vir brunch rondom die gasbraaier, sirkel daar ’n klomp aasvoëls bo ons koppe. Umm… weet hulle dalk iets wat ons nie weet nie? 

Op die hoogste punt van die berg ry ons verby ’n spits genaamd Tentkop en met die afryslag sien ons vir Elandshoogte – ’n polisiestasie hier in die middel van die berg.

Van hier af slinger die pad in ’n algemene noordoostelike rigting tot waar dit by die prins van Suid-Afrikaanse grondpadbergpasse aansluit: Naudésnek. 

Dié bergpas lag alle ander paaie met haardnaalddraaie uit. Ons vat dit baíe stadig en heel bo gekom, is die klipgeboue van die Tenahead Mountain Lodge ’n welkome gesig. Ietsie vir die keel sal nou aangenaam wees!

Die laaste skof van die dag ry ons deur die Bellriviervallei tot by ’n plaas. Die ou plaashuis is omskep in ’n gastehuis met ’n lekker kaggel.

Voor die huis loop ’n rivier verby en dis nie hoe lank nie, toe sit ons almal in die water – party sommer in kampstoele. ’n Mens kan hier vlieghengel, maar ons het ’n ander aktiwiteit in gedagte: Waatlemoen eet!

Potrivierpas

Lengte 5,9 km

Hoogste punt 1781 m

Beginpunt S30.94889 E28.23384

Eindpunt S30.91419 E28.20536

Naudésnek

Lengte 32,5 km

Hoogste punt 2587 m

Beginpunt S30.76385 E28.05664

Eindpunt S30.79901  E28.22900

Dag 4

Op die rand van die land

Vroegoggend drink ons koffie by die Rhodes-hotel en ry dan oos tot by Moshesh’s Ford waar ons noord wegdraai op die R393 om met die Wartrail-pad langs oor Landeansnek te ry.

Ons ry in digte mis in die rigting van die Lesotho-grens. Hier is baie informele nedersettinkies langs die pad en in ’n stadium ry ons deur ’n polisiehek. Hier is ook ’n polisiestasie, grotendeels om veediefstal in dié afgeleë hoekie van die land te bekamp.

Gans te gou is ons by die Tellebrug-grenspos en van hier af het ons nog sowat 65 km aangery tot by vriende op Zastron wat met middagete reggestaan het. En daar het die groep se paaie geskei – Marie en Boelie is via Wepener en Dewetsdorp terug Bloemfontein toe en die res van ons het oor Rouxville en Aliwal-Noord koers gekies huis toe.

In vier dae het ons sowat 600 km deur die mooiste berglandskap gery. Nou’t ons soveel nuwe dinge om saans om die braaivuur oor te praat!

Lundeansnek

Lengte 8,8 km

Hoogste punt 2170 m

Beginpunt S30.68002 E27.72999

Eindpunt S30.63467 E27.72525

Bron mountainpassessouthafrica.co.za


Hierdie artikel het oorspronklik in Weg #113 (Maart 2014) verskyn. Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite en geite kon intussen verander het – laat weet gerus by digitaal@weg.co.za as jy iets raaksien.