Leser vertel: ’n Ywerige voëlkyker se groot jaar

akkreditasie
Terwyl sy klasmaats tuiswerk doen en toets skryf, het die 16 jaar oue Josh Crickmay die wêreld platgereis om te sien hoeveel voëls hy op sy lysie kan aftik. Hier is sy storie (dit het in November 2013 in Weg verskyn).

Hallo, my naam is Josh en ek is 16 jaar oud. Ek is soos die meeste tieners, maar ek ly aan Asperger-sindroom. Dit beteken dis vir my moeilik om nuwe goed te leer en om met mense oor die weg te kom.

Ek was byna heeltyd depressief op skool en dit was vir my moeilik om soggens uit die bed op te staan. Ek het heeltyd gedink aan wat ek eendag gaan doen en wat van my gaan word.

Toe het my ouers met ’n plan vorendag gekom. My pa, Andrew, het dit reggekry dat ek vir ’n volle jaar nie skool toe hoef te gaan nie. My plan was om soos Jack Black, Owen Wilson en Steve Martin in die fliek Big Year vir ’n jaar lank te reis. Ek wou so veel as moontlik voëlspesies sien; of hoor.

Gelukkig het ek nie soos in die fliek enige kompetisie gehad nie. Ek moes net teen myself meeding. Dit was ook nie belangrik hoeveel voëls ek sien nie. My pa het net gehoop dat die reis en skryf oor iets waaroor ek passievol is, my uit my depressie sou skud.

Teen die negende maand van my Big Year was ek in Namibië, Botswana, Zimbabwe, Ecuador en baie dele in Suid-Afrika. Ek was die meeste oggende letterlik saam met die voëls op. Ek het 20 000 km per bus of motor afgelê, 10 grensposte oorgesteek en meer as 60 uur in die lug deurgebring; en ek haat dit om te vlieg.

Ek het my swaar toerusting in die bloedige woestynson en modderige oerwoud saamgesukkel. Altesame het ek 50 000 foto’s geneem, wat ek agterna self geredigeer en ’n indeks voor saamgestel het.

En steeds is daar nog voëls om te sien!

Hoekom voëls? My oupa is ’n voëlkyker en ’n belangrike rolmodel. Dis deur hom dat die voëlkykgogga my gebyt het.Deur my reise het ek baie goeie kontakte opgebou, soos Jonathan Rossouw van Johannesburg, wat al ’n hele paar Big Years agter die rug het. Hy het al meer as 8 000 voëlspesies gesien

.Ek het ook die Suid-Afrikaanse fotograaf Murray Cooper ontmoet wat in Ecuador woon. Murray het my ’n paar baie nuttige fotografiewenke geleer; maar die belangrikste hoeveel toewyding dit verg om ’n voëlfotograaf te wees.

Watter voël het jou asem weggeslaan? ’n Bergreënboogvoël in ’n wolkewoud in Ecuador. Die woud het my verstom: Aan elke boom het bolle mos gehang en honderde blommende bromeliads wat aan elke tak vasklou.

Josh op 'n staalbrug by Sacha Lodge, Ecuador.

’n Mens sou dink dat só ’n plek hemel op aarde moet wees vir enige fotograaf, maar dis nie kinderspeletjies nie. Die lig was swak en daar was altyd ’n tak of twee tussen my en die voël wat ek wou afneem. Veral die reënboogvoëls hou daarvan om wegkruipertjie te speel.

Ek het op my eerste dag in die woud een gesien; maar net skrams. Ek het maar gehoop ek sou later een van naderby sien. Die mense van ’n lodge in die omgewing het vir ons vertel dat ’n sekere plant op die erf in blom was, en die reënboogvoëls lief was vir dié happie.

Die moontlikheid om een van dié voëls te sien het my byna koorsig gehad en my pa het ingestem dat ek nog een aand in die lodge oorbly.

Gedurende die nag het ek heeltyd geluide diep uit die bos gehoor en kon amper nie slaap nie so opgewonde was ek. Vroegoggend is ek wakker gemaak deur ’n baie harde kraaa! Die reënboogvoëls het opgedaag!

Ek het waarskynlik ’n paar van my beste ure ooit saam met hulle deurgebring.

Is jy elke keer opgewonde as jy ’n voël sien? Nie elke liewe keer nie, maar soms het selfs die algemeenste voëls ook ’n lekker storie. Ek was byvoorbeeld vir ’n rukkie by my neef Cameron in Kaapstad en hy het gesê die beste plek om ’n Kaapse suikervoël te sien is op Tafelberg. Ons ouers het gesê dis te duur om die kabelkar te vat, en ons moes bergop klim.

Ek en Cameron het ons vriend Kar saamgesleep en een oggend, nog voor die hordes Japanse toeriste kon gesig wys, Tafelberg toe gemik terwyl Kar reeds oor die gure weer en verstuite enkels begin kla.

In die parkeerterrein terwyl ons ons stapstewels vasmaak, soek Kar steeds verskonings om nie te klim nie. En toe ewe skielik het hy die beste verskoning moontlik: “Daar is hy, Josh! Ons kan nou maar huis toe gaan!” Net daar in die parkeerterrein was ’n Kaapse suikervoël.

Ongelukkig het ons ouers steeds daarop aangedring dat ons in elk geval die berg klim.

Na watter plek sal jy weer wil teruggaan? Die Caprivi – Ngepi-kamp en Mamili-wildreservaat. Ngepi is waarskynlik die lekkerste kampplek in Namibië. Die kampplekke is oortrek met groen gras en sanderige paadjies wat deur die rivierwoud kronkel tot by die oewers van die Kavangorivier.

Dis ’n lekker kort stappie deur die kampplek en jy kan maklik ’n Afrikaanse wielewaal, gestreepte vleiloerie en die swerm inwonende witkruiskatlagters raakloop.

Daar is ook ’n groot poel in die rivier  – eintlik ’n groot hok – dus kan jy gaan swem sonder om jou te bekommer dat ’n seekoei jou aan die hakskeen gaan hap. Bring ’n snorkelbril om te sien wat of wie verby jou swem.

Die Mamili-wildreservaat was ook ’n lekker ervaring. Jy ry al langs ’n smal grondpaadjie in die middel van nêrens en oral duik hindernisse op. Dan kom jy uit by ’n eenman-kantoortjie wat versier is met die skedels van verskillende diere en die oorblyfsels van 2x4-voertuie wat langs die pad gesneuwel het.

Daar is ’n bordjie met net een instruksie: “Volg die paadjie. Draai links by die olifantbene.”Daar is nie ’n amptelike kampplek nie; dus het ons kamp opgeslaan waar ons wou. Ons het ’n heining opgesit en liefs verby die paadjie gekyk wat die seekoeie daar naby uitgetrap het.

Ook het ons die aasvoëls bo in die lug geïgnoreer – later sou ons uitvind hulle het ’n olifantkarkas in die oog gehad.

Daai nag was ek bang maar vreeslik opgewonde. Ons het heelnag ’n vuur laat brand om die gevaar weg te hou. Die volgende oggend het my pa besluit dis die regte tyd vir my eerste skeer – net daar omring deur die aasvoëls.

Watter voël wil jy nog baie graag sien? ’n Bosloerie. Dis byna elke Suid-Afrikaanse voëlkyker se droom omdat hy so min gesien word.

Hoevoeel voëlsoorte het jy tot dusver gesien? 530 in Suider-Afrika en 501 in Ecuador; dis dus 1 031 in totaal. Ons het nou byna al ons geld op dié avontuur spandeer en ek sal gelukkig wees om nog 100 spesies teen die einde van die jaar te sien.

Wat het jy in dié jaar geleer? Ek het meer van voëls en fotografie geleer as wat ek gedink het is moontlik. Maar ek kan myself nog lank nie ’n kundige noem nie. Wanneer jy voëls kyk, is daar altyd een of ander struikelblok wat jou herinner dat jy nie alles weet nie en ook nooit sal nie.

Voor dié jaar kon ek glad nie sien wat in my toekoms lê nie. Skoolgaan was ’n nagmerrie en ek was bang ek sou grootword sonder enige opleiding. Maar met my ouers se hulp is my ou belangstelling in die natuur weer aangewakker.

En nou sien ek dat daar wel ’n plek in die lewe is vir iemand soos ek. Ek het nuwe selfvertroue en hoop. En my oë is altyd oop: Op soek na voëls.

Josh by Jeffreysbaai.

Lees meer oor Josh se verhaal by joshcrickmay.com.