Renosters op die dak van die wêreld

akkreditasie
Uit die argief: Vyftien Suid-Afrikaners het in 2013 na die Everest-basiskamp getrek – van hulle ewe met renosterpakke aan!

In ’n poging om te help met die stryd teen renosterstropery het 15 Suid-Afrikaners in September 2013 na die Everest-basiskamp getrek – van hulle ewe met renosterpakke aan! Michael Smit was ’n lid van die ekspedisie.

Geen YouTube-video kon my voorberei op hoe dit voel om in Lukla, Nepal, op die kort halfkilometer-aanloopbaan te land nie. Van waar ons in ’n klein vliegtuigie aangevlieg kom, sien ek net ’n afgrond, dán eers die aanloopbaan en op sy verste punt ’n klipmuur waarteen die landingstrook doodloop. 

Die loods druk die vliegtuig se neus ondertoe, ek trek my maag in en hoop ons maak dit... gelukkig het die ouens wat hierheen vlieg hope ervaring – ons land netjies, rem betyds en kom vinnig tot ’n stilstad. Wat ’n ondervinding!

Op die klein lughawe heers dieselfde chaos wat ons groep van vyftien gister in Katmandu beleef het. Ons kla oor taxi’s en verkeer in Johannesburg maar oral waar ek gekyk het, was mense, karre en motorfietse. Ek kon nie gewoond raak aan die ewige getoeter nie totdat ek die orde in al die chaos begin raaksien: Een toet beteken: “Ek is net agter jou,” twee beteken “Kom uit die pad uit,” en een lange sê “Koes en klou vas! Ons gaan bots!” 

Lukla is net so ’n warboel. En was dit nie vir die bekwame toergids nie, sou ons sweerlik die vlug hierheen verpas het. Met die opklimslag kon ek ook nie kop of stert uitmaak nie en sou sweerlik met verlepte senuwees in Lukla aangekom het as hy ons nie gehelp het nie. 

Maar nou’s ons hier – duiselig van die berglug en opgewonde oor ons groot trek wat voorlê!

Af, af, en op!

Een van die vreemdste dinge van die trek was dat dit nie alles opdraand is soos wat ek my voorgestel het nie. Die eerste dag se skof na die klein sjerpa-dorpie Phakding (2 610 m) neem ons nie langer as drie uur nie en dis meestal afdraand. 

Dié aand om etenstafel is ons gemoedere hoog en ons verduidelik – met die hulp van Thamal die hoof-sjerpa wat as tolk optree – aan ons span draers wat die doel agter die renosterklim is. 

Oor die volgende twee weke het ek die noodsaaklikheid van sjerpas in die Himalajas terdeë besef: Hulle speel ’n integrale rol om stappers tot by die basiskamp te kry, en natuurlik ook van daar af hoër op teen Everestpiek uit. Van die jakdrywer tot die spanleier – elke man staan sentraal in die sukses van ’n ekspedisie. 

Die volgende oggend volg ons ’n roete langs die melkerige wit water van die Dudh Koshi-rivier langs. Vandag is die langste skof tot by die dorpie Namche Bazaar (3 440 m). Ná middagete begin ons met ’n klim van 800 m wat ons ’n volle vier uur neem om te voltooi. 

Ons kruis ’n hangbrug wat enige voriges waaroor ons tot hier gestap het, heeltemal verdwerg. Die brug is sowat 200 m lank en ook ’n goeie 200 m hoog. Ek skuifel treetjie vir treetjie oor, my hande stewig om die kabels aan weerskante van my gevou en probeer om nie af te kyk nie. 

Die paar van ons wat die renosterpakke van pluisstof haan het, tjop af. Die son bak neer en nes my klere soos ’n oond begin voel, trek dit genadiglik toe en Namche Bazaar is ook nie meer ver nie.

Namche is die grootste sjerpa-dorp op die Everest-roete, met huise en groentetuine wat in terasse teen die berghang uitgelê is. Dis ’n bedrywige plek, met honderde jak-aflewerings wat daagliks van Lukla en ander dorpe en lodges in die omgewing arriveer. 

Ons bly vir twee nagte hier om te akklimatiseer en besluit in dié dae dat ’n krieketwedstryd op die landingstrook, 3 800 m bo seespieël, mos nou lekker sal wees. ’n Klip word staangemaak vir paaltjies en ’n stuk PVC-pyp is ons kolf – verbygangers het hulle omtrent vergaap aan die “renosters” wat lopies hardloop! 

Pasop vir die jak

Die volgende oggend word ek gewek deur die basuin van Tibetaanse monnikke wat op tradisionele horings blaas. Met nuwe ywer pak ons die pad na Tengboche (3 860 m) – een van die wêreld se bekendste en mooiste kloosters.

Teen ’n steil pad kom ons ’n groep Britse klimmers teë en raak net lekker aan die gesels toe ons skielik ’n geskree van voor af hoor. ’n Yslike jak kom om die draai gestorm, met ’n 15 kg gasbottel op sy rug! Ek duik instinktief uit die pad en beland in ’n bos met die dier wat rakelings by my verbysit. Ondertoe sien ek net mense links en regs uit die pad spring. 

Een van ons spanlede, Elmien Janse van Rensburg, is nog ’n entjie laer af teen die bult en hoor die geskreeu, maar kan nie sien wat aangaan nie. Die volgende oomblik is die jak óp haar. Elmien probeer padgee, maar gly en slaan neer met die jak wat bo-oor haar storm.

Ek haas my tot by haar en verwag om bloed en trane aan te tref, maar Elmien het wonderbaarlik die dier se horings en hoewe (én die gasbottel) vrygespring. Haar enkel is egter baie sleg geswik. (Terug in Suid-Afrika het sy uitgevind dat haar voet eintlik op twee plekke gebreek is!)

Elmien is vasberade om die trek te voltooi en kort voor lank sit sy op ’n perd se rug – renosterpakkie en al!

Vir die volgende twee dae vat ons dinge stadiger en akklimatiseer weer vir ’n dag in Dingboche (4 410m). Ons gaan klim die 5 100 m hoë piek naby die dorp uit en vir die eerste keer voel ek daardie traagheid weens die dun lug aan my lyf. Terug by die kamp is dit hoog tyd vir ’n diep middagslapie.

Die hooglande

Buite Dingboche raak die landskap kaler en dadelik kry die koue wind ’n houvas op ons. Die nag in Luboche (4 910 m) is ysig, daarna volg ’n nag by Gorak Shep (5 140 m) – ons laaste stop voor die klim tot by die Everest-basiskamp in die Khumba-vallei.


Die Berg is nou al in sig, maar slegs die sneeubedekte piek steek uit – die twee aangrensende bergspitse, Lhotse en Nuptse, verbloem groot dele van Everest.

In Gorak Shep haal die tamheid my in, die min suurstof eis sy tol. Maar volgens Thamal moet ons nog later dieselfde dag tot by die basiskamp klim, en môreoggend tot bo-op Kala Patthar, ’n bergrug net noord van Gorak Shep wat bekend staan as “Die dak van die Wêreld.” 

Ons trek al ons warm klere aan, renosterpakke heel buite. Hier’s dit nou – die laaste skof en eintlik rede vir ons verre reis Nepal toe. Ons stap op die rand van die Kumba-gletser langs en ek kan nie help om te dink dat die sjerpa Tensing Norgay en sir Edmund Hilary en so baie ander bergklimlegendes se voetspore ook hier lê nie. 

Uiteindelik begin ons dofweg tente doer voor uitmaak – die basiskamp! Ek begin vinniger stap, maar my eie gehyg na suurstof dwing my sommer gou om weer by die ander se pas in te val. 

Ons stap oor die gletser tot by die berugte Khumbu-ysval wat al so baie klimmers se einde beteken het. By die basiskamp aangekom, is daar nie veel om oor huis toe te skryf nie. Dis ’n klomp tente waartussen stringe gebedsvlaggies wapper. Ons neem ’n paar foto’s en draai dan terug Gorak Shep toe.

Renosters raak hoog

Dis 3 vm. en die trek na Kala Patthar begin. Met sonsopkoms wil ons bo wees.

Dit het die nag gesneeu en ons ploeg teen die berghang uit met hortende asems en vingers en tone wat begin gevoel verloor.
Niemand praat nie, om my hoor ek net ’n gehyg. Tot ons ’n geweldige gebrul aan die suidekant van die vallei opklink. Met knipperende oë ons deur die donker– dis ’n sneeustorting teen Lhotse. 

Stomgeslaan beur ons verder boontoe. In die weste verkleur die hoogste pieke pienk van die alpengloed en teen die tyd dat ons met bewende koplampies Kala Patthar se bopunt bereik, kom die son net mooi agter Everest op.

Ons het dit gedoen! Van die vyftien wat die trek begin het, kon twaalf van ons tot op die dak van die wêreld klim, insluitend drie renosters. Die skenkers wat iets vir bewaring gegee het, se bydrae was elke sent werd. My bene is vrekseer, maar my hart klop met trots!


Hierdie artikel het in September 2017 op Weg se webtuiste verskyn. Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite en geite kon intussen verander het – laat weet gerus as jy so iets raaksien.