Nadat ’n mens Marloth Park besoek het, wonder jy hoekom die res van die land nie ook so kan wees nie: Die plek is 45 jaar gelede tot vakansiedorp geproklameer en daardie vakansie het tot vandag toe geen einde nie.
As jy nog nie daar was nie, het jy waarskynlik al daarvan gehoor. Mense beskou dit as ’n soort tyddeel of private sekerheidsdorp, maar hulle slaan die bal heeltemal mis.
Marloth Park val soos enige ander dorp in die land onder die bestuur van ’n munisipaliteit, met een groot verskil: Hier deel mens en dier dieselfde omgewing – ’n harmonie wat jy nie andersins met geld kan koop nie.