In elkeen van dié drie nasionale parke is daar 4x4-roetes – sommige is verspotmaklik en jy sal hulle in ’n gewone tweewielaangedrewe bakkie of sportnuts kan baasraak, terwyl ander vierwielaandrywing en ’n bietjie kopkrap verg.
Die roete begin 50 km suid van Kimberley in die Noord-Kaap, langs die Rietrivier in die Mokala- nasionale park waar die 4x4-paaie betreklik mak is.
Van hier af ry ons tot in die Marakele- nasionale park waar die paaie effens meer uitdagend raak, maar steeds geen rede tot kommer nie. Laastens baan ons ’n weg deur die Bosveld tot by die Mapungubwe- nasionale park met ’n paar 4x4-roetes waar jy inderdaad die kortkierie moet tokkel.