book-icon Uitgawe Maart 2018

My wiele: Perde wat kán galop

akkreditasie
Party mense is sommer dadelik in hulle noppies met hulle ry- en sleepgoed, terwyl ander ’n ander plan moes maak. Hoe ook al, dié drie lesers is gaande oor hulle karre en waens.

Tawwe Toyota

2015 Toyota Fortuner 3.0 D-4D

Hy gaan nog ’n paar jaar moet wag voor hy ’n Prado in die motorhuis kan trek, maar vir nou is Johann van der Merwe van Schweizer-Reneke doodtevrede met sy foutlose Fortuner.

"’n Goeie sleepvoertuig moet sterk genoeg wees om nie met die woonwa te sukkel nie. Nadat ek die Ford Ranger oorweeg het, het ek besluit op dié tweedehandse Fortuner wat ek vir R320 000 gekoop het. Ek sleep my 1986-model Jurgens Fleetline XL met Toyota se standaardsleepstang en het nog nie enige probleme ervaar nie.

Al wat effens pla, is die feit dat hy nie spoedbeheer het nie en my regtervoet moet deurgaans werk wanneer ek sleep.

Die Jurgens is nou wel ’n ouer model, maar wat betref gemak en ruimte staan hy nie ’n tree terug vir moderne modelle nie.

Die Fortuner sleep moeiteloos teen 120 km/h en met die wa op die haak kyk ek na brandstofverbruik van sowat 10,5 l/100 km. Sonder die Jurgens daal die syfer maklik tot by 8,3 l/100 km.

Ons gunstelingbestemming wat ons al met dié sleepkombinasie besoek het, is die Rietspruitdam-vakansieoord naby Ventersdorp. Dit is lekker intiem en die oord het ’n verhitte swembad."


Sedan staan sy man

2010 Chevrolet Cruze 2.0D LT

Baie mense is onder die indruk jy het ’n groot bakkie of sportnutsvoertuig nodig om gemaklik te sleep. Maar daar is heelwat sedanmotors wat meer as opgewasse is, sê Danie Snyman van Roodepoort.

"Ek het voorheen my 2006 Sprite Splash met ’n 2011-model Hyundai Santa Fe gesleep, maar omdat ek met ’n handratmotor leer bestuur het, kon ek net nooit gewoond raak aan die outomatiese ratkas nie. Ná twee kort reise, elkeen van sowat 140 km, het ek begin soek vir ’n plaasvervanger. Ek wou iets hê met genoeg wringkrag sodat ek nie die enjin in die rooi hoef te druk nie. Dit was ook belangrik dat ons die ryding vir alledaagse gebruik kan inspan sonder dat hy te dors is.

Vier jaar gelede het ek dié tweedehandse Chevrolet Cruze vir R160 000 gekoop. Ek het ander dieselopsies soos die Ford Focus 2.0 TDCi en Volkswagen Jetta 1.9 TDI ook oorweeg. Omdat ek so baie van dieselenjins hou, is my droommotor ’n Volvo S90 D5.

Die Cruze is ruim, sterk gebou en stewig op die pad, en die afwerking binne is van uitstaande gehalte. Ek vind ook sy vierde rat het ’n besonderse goeie verhouding vir sleep en ek moet baie selde na ’n laer rat verwissel. Die Cruze is op sy gelukkigste op die ooppad en sleep maklik teen 110-120 km/h. Die brandstofverbruik is in die omgewing van 4,3-6,7 l/100 km afhangende of ons op die snelweg of in die stad ry. Met die Sprite op die haak gee hy my 10,7 l/100 km. Ek sleep met ’n Yellow Blade-stabiliseerder.

ATKV-Buffelspoort bly een van ons gunstelingkampplekke. Die oordbestuur se hande staan vir niks verkeerd nie, en die plek is skoon met genoeg swembaddens vir almal."


Stofpadvreter

2006 Jeep Cherokee 2.8

Hoewel hulle BMW 316 al die luukshede gehad het waarvoor ’n mens kan vra, kon hy nie oral ry waar Christo en Alida Laing van die Paarl wou gaan nie.

"Ons het vyf jaar lank uitsluitlik met ’n sedan gery en toe besluit ons het iets taaiers nodig vir wanneer ons die teerpad vir die grondpad wil verruil. Ons het ‘Smurfie’ ses jaar terug vir R145 000 gekoop en dit was nog net ’n plesier. Hy is betroubaar en hy sorg vir ’n gemaklike ry-ervaring. Alles wat ons wil hê.

Ek moes wel die bande verander en het besluit op ’n handelsnaam wat makliker beskikbaar is as die oorspronklikes wat op hom was. Andersins is hy presies nog nét soos hy van die vervaardiger se produksielyn af gekom het. Daar is egter een ding wat my irriteer, en dit is die agterdeur wat skud wanneer ons op ’n slegte grondpad ry.

As ek nou ’n los R10 000 gehad het, sou ek hom toerus met nuwe vering om sy grondvryhoogte te lig. Die Jeep het meer as genoeg krag vir al ons reise, maar ons betaal daarvoor by die vulstasie. Smurfie gee ons gemiddeld 11,7 l/100 km op teer, maar as ons 4x4-roetes aandurf, styg dit lag-lag tot by 20 l/100 km.

Ons gunstelingreis met die Jeep was ons maand lange toer na Namibië. Dis ’n pragtige land met vriendelike en gasvrye mense. Ons was onder meer in Etosha, Damaraland en die Skedelkus."