
In byna elke buitelewetydskrif sien ’n mens foto’s of artikels of briewe oor voëls en voëlskyk. Maar niemand dink ooit aan die voëlkyker se maat, wat nie noodwendig dié passie deel nie.
My liewe vrou is al 16 jaar ’n vöelkyker en ek dink ek het goeie raad vir wederhelftes oor hoe om steeds lief te bly vir die voëlkyker in hulle lewe, selfs al het hulle nog nie probleme nie. Dalk help dit ’n paar mense…
Die eerste simptome. Jy sal agterkom jou vrou (vorentoe beteken dit ook man, maat, vriend...) begin “anders” word. As sy die sosiale soort is, raak sy al hoe meer asosiaal, en, vreemd genoeg, as sy asosiaal is, raak sy meer sosiaal.
Sy sal vriende maak met vreemdelinge.
E-posse, SMS’e en oproepe vlieg heen en weer oor ’n nuwe geveerde wat sy gesien het, en waar die ander een ’n skaars avis gesien het.
Sy wil skielik meer stap. Oupa se verkyker is nie meer goed genoeg nie, en klein boekies word aangeskaf vir “boodskappe” (wat later blyk voëllysies is). Vroeër het sy dalk nie haar oog in ’n boek gesit nie, maar in die mall beur sy nou in by al wat ’n boekwinkel is.
En dis net die begin – die ergste lê voor…
Nuwewoorde en taalgebruik. In gesprekke sal jy dikwels name soos “Roberts”, “Newman” “Burger” en “Sasol” hoor. Dit is nie skelmpies se naam nie, en sy het nie begin speel op die aandelemark nie – dis die naam van die skrywer of uitgewer van voëlbybels.
Jy sal ook ’n nuwe taal moet aanleer. Die volgende is ’n voorbeeld van voëlkykerstaal: “Wa! Top! Hy hieki tug! Hieki voonto! Top! Heg so.” In Afrikaans beteken dit: “Wag! Stop! Ry ’n bietjie terug! ’n Bietjie vorentoe! Stop! Reg so.”
Jy sal dié nuwe taal die vinnigste aanleer as jy jou dogter vra om ’n potlood dwars in haar mond te sit, weg te kyk van jou af – effens opwaarts naby aan ’n ruit – en dan te praat.
Vra haar ná die tyd wat sy gesê het. Jy kan self ook met ’n potlood in die mond in jou huis rondloop en met jouself praat as die kinders onwillig is.
Dit is ’n belangrike aspek, want dit kan tot ernstige gevoelens lei as jy nie jou vrou verstaan nie, en nie stop as sy ’n voël sien nie.
Vakansies. Hartenbos, Stilbaai en Hermanus, selfs Oupa en Ouma-hulle, is uit vir Desember.
Sy sal jou vertel hoe mooi dit is op plekke soos Pafuri, Ndumo, Chobe, Sobengu en ander plekke wat sy vroeër nie eens kon uitspreek nie. Soos ’n mot na ’n kers beur sy juis na die hitte toe, want dis glo die tyd wanneer die geveerdes uit Europa en Rusland land.
Ek het nie raad hiervoor nie. Miskien sal dit help om solank in ’n tent op die grasperk te oefen om in die somer sonder lugreëling te slaap. Of begin beoefen ’n somersport soos swem of lees (draf in die wildtuin is ’n bietjie gevaarlik).
Die Groot Inpak. Kos en tasse sal nie meer voor in die inpakry staan nie. Wees gereed vir hope boeke (die Newman, Roberts en Burger waarvan ek vroeër gepraat het) en ’n klomp Africa Birds- en Birding-tydskrifte. En kaarte, al het jy ’n GPS.
Moenie dink jy kan dit in die waentjie of agter in die kar pak nie. Nee, dit moet alles binne ’n halwe armlengte van haar af wees.
Gewoonlik op die handrem, onder by haar voete (waar die koffie en padkos altyd gestaan het), onder jou voete, op die dashboard…
Maak vrede, broer, maak vrede. Moenie aanstoot neem as jy moet ry met ’n boek op jou skoot nie. ’n Outomatiese ratkas help baie, want dit sukkel dikwels om die rathefboom te kry onder die Newman en Roberts.
As jy jou gholfstokke wil saamneem, beveel ek aan jy versteek dit die vorige aand, nadat sy gaan slaap het, onder die tent in die waentjie.
O ja, en maak maar self seker daar word ook ’n boks met kos ingepak.
Op pad. Moenie die fout maak om te dink sy begin voëlskyk as julle eers by julle bestemming aankom nie. Dis niks ongewoons om teen 120km/h op die ooppad, wanneer jy gereed is vir die nuushooftrekke, skielik “Tô-ôôp!” te hoor nie. Teen hierdie tyd behoort jy te weet dit beteken: “Stop dadelik, anders is daar moeilikheid! Ek het ’n voël gesien.”
Hier is nog ’n paar nuttige oppadwenke:
- Jou GPS se funksie wat jou ’n idee gee van hoe laat jy kan verwag om by jou bestemming te wees, is nutteloos. Die nuwe formule is veel ingewikkelder as die een wat Graeme Smith gebruik as hy moet besluit wanneer om die beurt te sluit. Afhangende van die voëldigtheid in die omgewing (nog ’n formule), jou vrou se voëltelling, die weer, en nog ’n paar dinge kan jy rofweg die verwagte reistyd verdubbel, en dan nóg 10 minute bytel vir elke voëlstop. Van een ding kan jy baie seker wees – jy gaan nie vóór daardie tyd by jou bestemming kom nie.
- Sit die aand voor julle vertrek reeds die “Ons kyk voëls”-bordjie in die kar se agterruit (al is dit nie “ons” nie). En maak seker jou motor is verseker – veral sy agterkant.
- Maak besprekings eerder vir ’n dag later, en verander haar “verwag ons vir middagete” na “aandete”.
- As jy nie ’n outomatiese motor het nie, laat versien jou kar se eerste en trurat, en skryf die onderdelenommers neer vir ’n moontlike vervanging. ’n Paar ekstra remblokke kan ook handig te pas kom. En gooi sommer ’n koppelaar ook in.Maak seker jou kar het elektriese vensters, behalwe as jy ’n behoefte het aan sterk (linkerén regter-) armspiere. Sy skiet met daai verkyker ewe gemaklik links as regs, en die ruite moet oop vir beter sien. En ’n mens kan glo nie ’n venster oopdraai as jy ’n verkyker by jou het nie.
- Haal voor die tyd jou sitplek se nekstut af en oefen in jou oprit totdat jy jou kar binne 30 sekondes van 40km/h tot stilstand kan bring, dan 15m terugstoot, stop, weer 4m vorentoe en 1 m terug, al twee kante se ruit afdraai, stilsit sodat die kar nie roer nie, en dan gereed wees om te hoor: “O, dis net ’n tortelduif.”
- Dit sal beslis help as jy die potloodtaalbevele kan opneem en dit luister terwyl jy oefen. Dié oefening kan ’n huwelik maak of breek.
- As dit kom by jou begroting vir brandstof, werk die gewone berekenings ongelukkig nie. Jy sal by jou dierbare moet uitvind hoeveel nuwe voëls sy beplan om te sien.
Dan werk jy op nuwe voëls per tenk (nv/t).Aanvanklik behoort jy ’n goeie klompie nv/t te kry, maar Broer, as sy oor die 300-merk gaan, kan dit maklik verander na t/nv (tenk per nuwe voël).
Sosiaal. Gewoonlik is die Vereklub se lede nie juis saamkuiermense nie. Nie-vöelkykers voel dikwels in die pad. Sê dankie daarvoor.
Maar dit mag dalk net gebeur dat jy jou op ’n aand tussen verkykermense bevind. As jy ’n vriendelike mens is, gaan dit baie moeilik wees, maar hou jou mond so styf as moontlik toe. Plaas ’n bataljon wagte voor hom en vervang hulle gereeld.
Maar as dit dalk gebeur dat jy iets noem oor ’n voël wat jy per ongeluk gesien het, en hulle kyk jou vraend met arendsoë aan, met hulle hande op hulle voëlbybel (gereed om op te soek), dan het jy net twee kanse om met behoud van jou selfbeeld deur te glip.
Memoriseer hierdie twee antwoorde:
- “O, ek is nie heeltemal seker nie; die roofvoëls maak my mal. Hulle het mos altyd verskillende kleure”. Dan bly jy stil.
- “Die son was agter die voël en dit was nog ’n juvenile (jong ene) ook – baie moeilik om hom te kon eien.” En maak dan asof jy jou selfoon hoor lui.
Ek sou seker nog ’n paar ander dinge in hierdie verband kon sê, maar as jy die basiese dinge bemeester het, kan jy dalk net eendag hoor: “Ag, my ou man, jy is dierbaar. Wat wil jy die vakansie doen en waarheen wil jy gaan?”
Net ’n laaste waarskuwing – onthou wat geskryf staan: “Daarom, wie meen dat hy staan, moet oppas dat hy nie val nie.”
Ek het pas ’n maand saam met my dierbare vrou in die Krugerwildtuin gekamp, agter voëls aan, en nou voel dit vir my al asof ek ’n effense sagtheid teenoor die diertjies begin ontwikkel. Ek is effens bekommerd…