book-icon Uitgawe April 2018

Oor die Ou Posroete

akkreditasie
’n Mens sou dink iemand sal hul huweliksherdenking met ’n kersligete by ’n deftige restaurant vier, maar Johan en Elmare van Staden van Parow doen dinge effens anders: Hulle durf eerder saam ’n 4x4 roete aan.
Johan en Elmare het dié artikel in die April 2014-uitgawe van WegRy gelees en die lus het hulle beetgepak om ook die Ou Posroete met hulle Isuzu aan te durf. Op hulle 42ste huweliksherdenking het hulle gepak, in die bakkie geklim en in die pad geval. Die plan was om by die Enjo-gasteplaas in die Biedouwvallei te kamp en die Ou Posroete tot in die Tankwa-Karoo te ry.

Dit is 27 September en die herdenking van die Van Stadens se troudag. Ná 42 jaar en ’n hele hoop sakke sout dink hulle teen dié tyd heel eenders oor die meeste dinge. Daarom vergeet hulle van uiteet en besluit om eerder hulle huweliksherdenking in die kajuit van hulle 4x4 te vier.

Gewapen met die ou WegRy #59 uit hulle versameling druk hulle die Isuzu se neus in die pad.

Saadjie van twyfel geplant

Ons het in die ou WegRy oor die Ou Posroete gelees en besluit dit is iets wat ons ook wil beleef. Ter viering van ons spesiale dag beplan ons om by die Enjo-gasteplaas in die Biedouwvallei te kamp en dan die Ou Posroete na die Tankwa-Karoo te ry.

Ons stop eers by die Florida-padstal voor Wellington en eet ’n smaaklike ontbyt. Ek moet sê, die groot verskeidenheid tuisgebakte brode en pasteie lyk baie aanloklik, maar ons het tuis reeds ons eie proviand vir die volgende twee dae gepak.

Ons ry na die handdoekfabriek op die dorp waar Elmare eers gou inkopies doen en kruie dan al geselsend oor ons gunstelingroete, die mooie Bainskloofpas. Op Ceres stop ons gou om die Isuzu se tenk vol te maak.

Ons vorder fluks deur Prince Alfred Hamlet en oor die Gydopas, en ry tot by Op-die-Berg, waar ons regs draai in die rigting van die Katbakkiespas.

Ondanks die droogte is die wêreld verbasend groen en die vrugtebome se bloeisels skouspelagtig. By die afdraai na Katbakkies draai ons egter nie weer regs af nie, maar volg die goeie grondpad verby Mount Ceder en oor die Grootrivierhoogte. Ons gesels by die Cederberg Oasis met Gerrit Karsten, die vriendelike eienaar, en hy raai ons ten sterkste af om alleen die Ou Posroete aan te durf.

Ons ry verder, en by Matjiesrivier draai ons regs weg na Wupperthal. Ons kruie deur die mooi sandsteenformasies, maar groot dele van die pragtige plantegroei is in veldbrande verwoes. Die laaste entjie van Eselbank af is die pad ook erg verwaarloos en die Isuzu raak die steil afdraandes na Wupperthal stadig maar sonder protes baas.

Op die dorp koop ons van die rooibosprodukte en klim dan die steiltes uit en oor die laaste berghang voor die Biedouwvallei. Pas nadat ons regs gedraai het in die vallei op pad na Enjo, sien ons die hek en afdraai na die Ou Posroete, asook die steil opdraandes waarmee die roete begin. Volgens die artikel in WegRy kan dit die Kraaibergpas wees.

Sowat 11 km verder is ons by ons bestemming. Die vriendelike mense van Enjo verwelkom ons en neem ons na ons kampplek toe. Hulle is nie vertroud met die Ou Posroete nie, maar onderneem om navraag te doen.

Ons slaan ons tent op onder pragtige doringbome, met ’n kragpunt, kraan en opwasgeriewe byderhand. Die ablusiegeriewe is baie basies, maar skoon en heeltemal voldoende vir ons behoeftes. Ondanks die droogte vloei daar ook steeds ’n stroompie in die Biedouwrivier verby die kampplek.

Hier sing die paddas saans vrolik terwyl hulle opsit. Hulle het geen kers of liggie nodig nie, want die sterretjies skyn ongelooflik helder.

Wie nie waag nie, wen nie

Die volgende oggend is ons steeds onseker of ons wel die Ou Posroete sal kan ry. Ons besluit om terug te mik in die rigting van die Wupperthalpad en dan by die plaaseienaars raad te vra.

Die vriendelike Van der Merwe-boere naby die T-aansluiting gee ons die versekering die pad is heel rybaar. Hulle sê hulle gebruik dit gereeld om by hulle teelanderye op die plato uit te kom. Hulle verwys ons ook na hulle bure op die plato, die Bakkers, en sê ons moet daar gaan vra oor die toeganklikheid van die roete.

Die klowe en landskap is onbeskryflik mooi, en selfs die beste foto sukkel om reg te laat geskied aan dié stukkie natuurskoon.

Ons besluit om te ry so ver as wat die pad ons toelaat en dan om te draai indien nodig. Ons klim die steil pad tot op die platorand taamlik vinnig en verlustig ons in die uitsigte.

Die pad loop verby goedversorgde teelanderye en deur verskeie hekke tot by die Bakkers se netjiese opstal. Ondanks die ongekende droogte is hulle positief besig om die nuwe teeaanplantings te bewerk en planne te maak om die besproeiing daarvan verder uit te brei.

Die Bakkers stel ons ook gerus: Die pad, sê hulle, is heel begaanbaar. Hulle nooi ons vriendelik in, maar ons besluit om eerder voort te gaan op ons onbekende roete en avontuur.

Dit is hartseer om te sien hoeveel van die groot wabome en ander plante weens die droogte verdor, maar nogtans stop ons weer op ’n hoogte by ’n baken en geniet ’n rondomuitsig oor die pragtige landskap.

Ons ry verder. Dis nie lank nie, of ons sien die diep klowe van die Doringrivier nader kom. Die Karretjiespas is iets vir die oog en nie so rof as wat ons verwag het nie. Ons stop op die pas om ’n foto te neem in dieselfde posisie as dié waarin WegRy se Navara afgeneem is.

Die klowe en landskap is onbeskryflik mooi, en selfs die beste foto sukkel om reg te laat geskied aan dié stukkie natuurskoon. By tye is die pad goed klipperig en dit klink amper soos porselein wat onder die wiele breek, maar ek het volle vertroue in die ou Wrangler RT/SA-bande.

Hulle het immers al meer as een toer deur die Richtersveld, die Baviaans, Lesotho, Namibië – en, bowenal, vele ritte in die Tankwa – oorleef. Ons bakkie is egter sonder vrag. Die bande is effens afgeblaas en by enkele plekke waar ons taamlike steil trappe moet klim, sluit ons die ewenaar om wieltol op die skerp klippe te vermy.

Avontuursoekers. Jy sukkel om selfs met die beste foto vir iemand te wys hoe pragskoon dié deel van die wêreld is. Dit is een van daardie dinge wat ’n mens self moet beleef, sê Johan en Elmare. Nadat hulle aanvanklik gemaan is om die Ou Posroete nie alleen aan te durf nie, het hulle elders gehoor hulle behoort nie enige probleme te ervaar nie. Buiten ’n effens senuagtige waterkruising, het hulle uitstappie sonder voorval verloop.

Hou asem op in die water

Ondanks ons kommer oor die sterk riviere, kruis ons die Tra-Tra- en Doringrivier byna droogvoets. Weens die droogte is daar net klein stroompies oor die klipbanke, maar dit is steeds ’n welkome rusplek om middagete te geniet langs ’n stroompie in die Karoo.

Ons verkyk ons aan die vele lusernlanderye en pragtige ou geboue by Elandsvlei en ry dan verder na die lang R355-grondpad. Vir sowat 40 km ry ons in die rigting van Calvinia en verlustig ons in die gemak waarmee die ou Samurai die grondpad kafdraf.

Ons draai links, terug na die Biedouwvallei, en kort nadat dié lekker pad die grens tussen die Noord- en Wes-Kaap oorsteek, sak ons skerp af na die Doringrivier.

Vir sowat 40 km ry ons in die rigting van Calvinia en verlustig ons in die gemak waarmee die ou Samurai die grondpad kafdraf.

Dié water is ’n perd van ’n ander kleur. Die rivier vloei nie sterk nie, maar hy is breed. Hier is nie ’n betonblad nie en waar die pad deurgaan, is die water dieper as wat ons verwag.

Ek loop dus eers deur om die diepte te peil – by tye moet ek my kortbroek se pype optrek om dit droog te hou. Ek pak ook eers ’n klipbaken om seker te maak ek tref nie ’n gevaarlike klip onder die oppervlak nie.

Terug by die bakkie sien ek die wiele sal vir ’n groot deel van die kruising heeltemal onder die water wees en die onderkant van die deure sowat 300 mm onder die oppervlak. Die water vloei egter stadig en ons ry teen ’n bestendige, stadige pas deur die rivier.

Daar was seker nooit werklik ’n gevaar nie, maar ek hou nie daarvan om die voertuig so te dompel nie, en ek moet sê ek was nogal bekommerd toe ek hoor hoe die waaier se lemme onder die watervlak ingaan. Die masjien was taamlik nat gespat, maar geen water het in die voertuig of die laaibak ingeloop nie.

Later, tuis by ons kampplek, steek ons ’n vuurtjie aan, gooi ’n vleisie op die kole en sluit ’n baie geseënde dag gesellig af.

Terug huis toe

Vrydagoggend pak ons op. Die terugtog is oor die steil Hoek-se-Berg en deur die Pakhuispas, Clanwilliam langs. Die nuwe N7 ry baie lekker, maar nadat ons lemoene en nartjies by ’n padstal gekoop het, draai ons weer af op die Algeria-grondpad.

Ons kruis die Olifantsrivier waar daar net ’n klein stroompie vloei en kies dan die ou grondpad terug na Citrusdal. Op Piketberg rond ons die uitstappie af by die Spur en kies dan koers huis toe.

Ons het 74 l diesel gebruik vir ons tog oor 793 km. Selfs met ’n aanpassing van 10% vir die onakkurate odometer is die verbruik steeds ’n baie goeie 10,3 l/100 km.

Vir die baie gemaklike rit oor rowwe terrein en baie bergpasse in ’n gerieflike dubbelkajuitbakkie met ’n viergang- outomatiese ratkas is dit vir my heel aanvaarbaar. Soos gewoonlik is daar ook geen verrassings van onverwagte herstelkoste nie. 

Ons kan net weer dankbaar wees vir nog ’n baie genotvolle uitstappie in ons mooie Suid-Afrika.