Ouer mense kan ook toer!

akkreditasie
Om ’n bejaarde te wees, beteken glad nie jy kan nie meer in Afrika toer nie. Inteendeel, dit strek soms tot jou voordeel. Lees hier die verhaal van vier Suid-Afrikaners wat vir 42 dae lank ’n toer van ’n leeftyd aangepak het.

Om ’n bejaarde te wees, beteken glad nie jy kan nie meer in Afrika toer nie. Inteendeel, dit strek soms tot jou voordeel, skryf Hendrik Gerber.

Ek en my vrou, Daleen, my broer Johan en sy vrou, Koekie, het onlangs ’n 42 dag lange toer na Botswana en Zimbabwe aangepak, hoofsaaklik na dié lande se groter parke. As ek van ons toergroepie praat, verwys ek na ons as “ouer mense” – ek is vanjaar 67 en broer Johan 72. Die vroumense? Kom ons los dit eerder.

Ek sal maar net sê hulle kan ook al bejaarde-afslag by Sanparke kry.

Die langpad roep

Voor ons weggetrek het, het ons baie navorsing gedoen, hoofsaaklik met Google en al my ou WegRy-tydskrifte. Verblyf in die parke is vooraf betaal en die nodige voorbereidings vir ’n toer van sowat 9 000km gedoen.

Vroeg in April was dit tyd om die pad te vat. Dit was ’n fris stuk rywerk van Mosselbaai, waar ons woon, tot by Mabuasehube in Botswana, ons eerste stop. Aangesien dit aan die einde van die reënseisoen was, was die paaie nie té nat nie en het my Prado en Johan se dubbelkajuit-Hilux fluks gedraf. Maar toe ons eers Botswana se parke tref, was dit ’n ander storie. Dié paaie is nie vir sissies nie.

Dink jy ons is nog op die pad?” het ek menige kere vir Daleen gevra. En Koekie se laaste woorde was dikwels “Johan, gaan jy wragtig hier af?” voor sy net haar oë toegemaak en oorgegee het.

Ons het vir vyf nagte by Mabua bespreek en by KTMAB03-kampplek afgesaal. Ons was baie opgewonde, want hier kom die leeus en luiperds sommer tot binne-in die kamp en snags moet jy alles in die voertuie bêre om te keer vir die hiënas, het ons gehoor.

Sommer op die eerste nag het Ta hard gebrul en die volgende oggend sou ons sy spore net ’n entjie van die kamp af kry. ’n Rukkie later, toe ons wil skottelgoed was, sien ons dat ons plastiekskottel, wat ons vol water vergeet het, skoonveld is. Later kom ’n buurman by ons kamp aan en sê ’n hiëna het sy water-jerriekan ook weggedra.

Hy’t dit honderde meters van sy kamp afgekry, het hy gesê, en toe Johan ook daarlangs gaan soek, kry hy sowaar ons skottel, gelukkig nog in een stuk.

Saans as ons gebraai het, het ’n jakkals sy snoet sommer tussen die kole kom  indruk op soek na ietsie. En bedags het die grond-eekhorings ons met hulle streke vermaak.

Ná ’n heerlike vyf dae in Mabua het ons noord gemik na Moremi se Xakanaxa-kamp. Hier was die diere ewe mak.

Ons was nog besig om kamp op te slaan toe ’n groot olifantbul maroelas kom optel en ons moes toe eers naby die badkamers skuil totdat hy padgegee het. Die ou het gereeld tydens ons verblyf kom kuier, veral snags.

Die ding begin

In Savute, Chobe, het die sports behoorlik begin. Dit was ’n vermoeiende, maar opwindende, agt uur se ry om daar uit te kom, met baie olifante op die pad, diep waterkruisings en lekker groot moddergate. Soms moes ons bontspring om uit die ou grotes se pad te bly!

Savute is ook lekker wild, maar die kamp self is gemaklik. Daar is selfs ’n winkeltjie waar ons ’n paar koeldranke kon koop.

Ons volgende stop was Ihaha-kamp. Ons het die oggend voor ons sou vertrek by die kantoor oor die paaie gaan uitvra. Daar is ’n langer een deur die park, het die beampte verduidelik, maar hy’s baie sleg. Dan is daar ’n korter roete wat jou vir 28km deur die park vat, uitgaan en jou weer via Ihaba terugvat kamp toe.

Ons besluit toe op die korter roete, maar hier het ek ’n groot les geleer: Meet jou afstande in ure, nie in kilometer nie. Die 28km het twee uur geneem en net toe ons dink ons kom lekker op dreef buite die park, tref ons ’n verkeersophoping waar een voertuig gebreek het en ’n ander vasgeval het toe hy dit wou verbysteek.

Die skare het die ou uiteindelik weer aan die gang gekry, maar nie lank daarna nie, sit ons wéér in ’n verkeersknoop – dieselfde ou wat dié keer in ’n watergat vasgeval het!

Van daar was dit die een moddergat ná die ander. Een het my self amper gevang, met die water wat oor die Prado se enjinkap tot amper teen die ruit gespoel het. Daarna moes ons nog sowat 17km se sand baasraak, só dik dat die Prado geklink het soos ’n trekker wat ploeg! Maar dit was beter as die moddergate.

In Botswana se parke moet jy ook koes vir die takke. “Hier het jy altyd ’n keuse – jy kan besluit watter kant van die voertuig jy wil krap,” het Johan naderhand geskerts.

Dit word egter alles die moeite werd wanneer jy inry by Ihaha, ’n mooi kamp op die rivier, met olifante wat in troppe op die oewer wei. Die nag het ’n groot trop olifante verby ons kamp getrek, met sommige wat reg langs ons daktent uit die boomtoppe gevreet het terwyl ons doodstil binne lê.

Die enigste slegte ding was dat die badkamers nogal ver was en jy weens al die wilde diere nie daarheen kon loop nie. Ons moes dus elke keer die daktent opslaan om daarheen te ry. Wees maar bedag hierop as jy ook met ’n daktent kamp.

Zim se grotes

Ná 21 dae in Botswana was dit tyd vir Hwange en Manapoele in Zimbabwe. Waar die diesel in Botswana R2 goedkoper as in Suid-Afrika was, moes ons nou R5 meer per liter opdok. Wees voorbereid vir ’n duurder brandstofrekening elke keer wat jy dié kant van die grens volmaak. Die Prado het 1200 liter diesel oor die toer gesluk en elke rand ekstra het saak gemaak.

In Zimbabwe soek ondernemings ook net Rand in kontant of Amerikaanse dollar.  Zim-dollars? Nee, hulle weet nie meer wat dit is nie.

By Hwange se Sinamatella-kamp was ons egter die enigste kampeerders vir vier nagte en het ons lekker gekamp, met ’n uitsig oor die plato en leeus wat snags brul. Donald, die kampopsigter, het elke dag genoeg hout vir ’n lekker kampvuur gebring en die donkie vir warm water gestook.

Ons het in Hwange ook nie só baie diere gesien nie, maar toe ons een nag weer na die leeus sit en luister, sien ons ’n luiperd deur die kamp stap. Goed, dit kon ’n hiëna ook gewees het, maar niemand het aangebied om nader te stap en seker te maak nie!

By Manapoele het ons reg op die wal van die Zambezi-rivier gekamp, met ’n pragtige uitsig. Dis ’n mooi park met opwindende roetes. Een aand het ’n seekoei ons weer laat spaander na die daktent. Daleen was besig om die botter weg te pak toe sy iets hoor. Sy vra my toe om my flits in die rigting van die klank te laat skyn en daar staan ’n vet seekoei se oë toe en blink.

Ons was nogal hartseer om Manapoele te verlaat, nie net omdat dit so lekker ondervinding was nie, maar ook omdat dit ons laaste park op die toer sou wees.

Amper in die tronk

Dis seker algemene kennis vir die meeste oorgrensreisigers dat ’n mens moet kyk na die stempel in jou paspoort wanneer ’n grensbeampte dit vir jou teruggee. Maar ons was nie onder daai “meeste” nie. Laat ek dié wat dit ook nie geweet het nie dus waarsku – Zimbabwe skryf ’n in- én ’n uitdatum in jou paspoort. En die feit dat ons dit nie opgemerk het nie, het amper groot probleme veroorsaak.

Johan en Koekie se vakansie het vroeër as ons s’n geëindig en hulle is vooruit grens toe. Johan laat weet toe ons moet kyk wat die uit-datum op ons stempel is en daar sien ons dat ons s’n klaar verby is. Maar ons besluit toe ons maak ons beplande toer eers klaar en bekommer ons later oor die stempel.

By Kuimba Shiri-voëlpark buite Harare (wat ek terloops sterk aanbeveel) het die eienaar, Gary Stafford, sommer ’n kragwoord geuiter toe hy die datum sien. Maar by Norma Jeane’s Lake View Resort (wat ek ook aanbeveel), het hulle gemeen die owerhede sal dit waarskynlik nie eens raaksien nie.

Met effens geruste harte besluit ons toe om ’n laaste nag in die Matobo Nasionale Park deur te bring. Maar toe dit laatmiddag net ons twee en ’n klomp bobbejane in die kamp is, besluit ons om in die pad te spring om die Plumtree-grenspos, wat sesuur toemaak, te probeer haal.

Met die horlosie se kort wyser wat presies op ses staan en die lange op 12, ry ons toe by die grenspos in. Dis al donker toe ons ons paspoorte oor die toonbank stoot en ek hoop vir ’n oomblik hulle stuur ons gou deur. Maar ek kan aan die amptenaar se gesig sien hier kom moeilikheid.

“Die boete is ’n duisend,” sê sy. ’n Duisend wat? vra ek en my vrou gelyk en hoor by die beampte ons foutjie gaan ons ’n duisend rand kos, per persoon! “Maar ons het nie tweeduisend rand nie,” protesteer ek.

Toe sy na haar deur beduie en sê ons moet inkom, sien ek al hoe slaap ons in Bulawayo se tronk. Die beampte vergesel ons hoër op in die grenspos-hiërargie.

Weer pleit ons onkunde. En boonop is ons arme oumense, voeg ek by. Wéér gaan ons ’n trappie hoër en ná wat voel soos ’n ewigheid, kom ’n senior beampte by ’n stel trappe af. Dis nou óf Bulawayo-gevangenis óf huis toe. “Stempel maar,” sê sy vir haar kollega en gee die paspoort oor die toonbank terug. Ek hoef seker nie veel uit te brei oor hoe lekker ons dié aand in Francistown geslaap het nie.

Van moeilikheid kom gasvryheid

Dis nie enigeen wat kan sê hy het al ’n drukkie by ’n immigrasiebeampte gekry nie, maar dit was wat die volgende dag by Pontdrift op ons gewag het.  As jy van Francistown oor Serule na Pontdrift ry, is dit net oor die 300 km. Ons ry rustig, min wetende dat die grenspos vieruur smiddae sluit. By die grens aangekom, is die hek gesluit en is daar nie ’n mens in sig nie.

Ons draai om en probeer ’n ander pad wat ek gesien het. Weer kom ons by ’n geslote hek, maar dié keer darem beman deur ’n man met ’n boek. Ons vul die boek in, ry deur en kom kort daarna by nog ’n hek en nóg ’n man met ’n boek aan. Die pad raak al slegter, maar gelukkig is die grenspos in sig en ons maak dit voor toemaaktyd.  

Selfvoldaan stoot ons die paspoorte oor die toonbank. Die dame aan die anderkant lig haar stempel, maar voor sy hom kan neerslaan, sê ’n senior beampte agter haar iets vies in Tswana. Ek verstaan net twee woorde: “South Africa” en “closed”. Net daar laat sak sy die stempel.

“Wat nou?” vra ons, asof dit haar probleem is. Dit lyk asof die beampte ons jammer kry en sy verduidelik dat, as ons 100 pula elk betaal, sy iemand aan die Suid-Afrikaanse kant kan vra om ons te kom help.

Ons het net een dollar en 30 pula by ons, want voor die grens probeer jy mos uitgee wat jy oor het. So ek speel weer die kaart wat ons nou al ’n paar maal gebruik het: “Ons is twee ou mense,” sê ek. “Waar gaan ons nou slaap?” En daar doen die grensbeampte iets wat ek nooit verwag het nie – sy sê ons kan ons daktent in haar erf opslaan.  

Ietwat uit die veld geslaan kyk ek en Daleen vir mekaar. Ons besluit ons het nie juis ’n keuse nie. En buitendien, dis baie bedagsaam van haar. So spandeer ons toe ons laaste aand rustig en veilig agter ’n grensbeampte se huis in ons daktent. Ons kon darem ook vir die dame, Makgoa Ramgoma, die $1 en 30 pula gee vir haar gasvryheid, en nog ’n paar rand kontant wat ons gehad het.

Die volgende oggend word ons paspoorte sommer vinnig gestempel. En toe doen Makgoa nog iets wat ek nooit van ’n grensbeampte sou verwag nie – sy stap om die toonbank en gee ons elkeen ’n drukkie.

Sien, ouer mense kan dit ook doen en ’n mens is inderdaad nooit te oud om te leer nie. Want nou weet ek daar is ’n fyn lyn tussen avontuur en onverantwoordelik wees.

Henk se top-wenke vir ouer reisigers

1 Doen goeie voorbereiding en navorsing (oor verblyf, grensposte, afstande ens.) sodat jy weet wat om te verwag. Ons ouer mense hou mos nie altyd van verrassings nie.

2 Vat dit rustig. Dis ’n vakansie, nie ’n resies nie.

3 Ken jou vermoëns en vaardighede. Beplan dan altyd daar rondom en tree daarbinne op.

4 Daar is dikwels iemand in ’n kamp wat die volgende dag dieselfde roete as jy gaan ry. As dit ’n moeilike roete is, vra hulle om in konvooi te ry.

Hierdie artikel het oorspronklik in Maart 2017 verskyn. Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite en geite kon intussen verander het – laat weet gerus by digitaal@weg.co.za as jy iets raaksien.