book-icon Uitgawe Desember 2017

Pure Bosveldbederf

akkreditasie
Raak die lewe net té gejaag? Dan is Kazi Mingi se intieme klein kampplek nét die regte medisyne vir jou.

Foto's: Helenus Kruger

In die Mootvallei net noord van Modimolle, tussen die Waterberg en Swaershoekberg, boer Kobus en Trudi Nel op die plaas Kazi Mingi met onder meer avokado’s, koejawels, pekanneute en macadamias.

Hulle plant ook ’n paar kontantgewasse, maar dié loop gewoonlik deur onder al die bobbejane in die omgewing. In Oktober, wanneer die koejawels begin ryp word, hang die tropiese geur van dié vrugte in die boord.

Langsaan begin die macadamias van groen na bruin verkleur terwyl die pekanneutbome die eerste blare uitstoot. Trudi is oorspronklik van Kenia – vandaar die plaas se Swahilinaam, wat “harde werk” beteken. Hier het sy ’n klein en intieme boskamp tussen die inheemse Bosveldbome gevestig met net vyf staanplekke. En elkeen van hulle het genoeg privaatheid om te sorg dat die Bosgevoel nie verlore gaan nie.

Trudi se liefde vir dié projek is duidelik sigbaar.

Trudi is oorspronklik van Kenia – vandaar die plaas se Swahilinaam, wat “harde werk” beteken.

Die kampplek is goed uitgelê, pynlik netjies en die klein goedjies kry aandag. Kyk maar na die pittige name: Die swemplek heet “Doopvont”, die gemeenskaplike braaiplek “Kuierkraal” en die buitestort “Loergat”. Elke staanplek het ook ’n naam wat op ’n klip geverf is. En dan is die badkamermure netjies versier met Afrikakuns terwyl die spieël ’n raam van doringdraad het.

Wanneer jy by Kazi Mangi aankom, moet jy eers by Trudi-hulle se huis stilhou. Ná die groetery en ’n geselsie neem hulle jou na die kampterrein sowat 1 km van die huis af. Op pad soontoe ry jy verby die boord waar die rye koejawel-, neut- en avokadobome staan. Ná die boord kronkel die paadjie ’n kort entjie deur Bosveldbome tot by die Meriti Mingi-kamp waar Ronnie, die renosterbeeldjie, jou welkom heet.

As jy met jou woonwa kom, moet jy versigtig wees op dié paadjie, want hier is ’n klompie skerp draaie met bome baie na aan die pad. Meriti Mingi beteken in Swahili “baie bome”, en sommer met die intrapslag sien jy hoekom. Dit lê teen ’n klipkoppie en die Bosveldbome staan só ruig dat jy nie al die staanplekke kan sien nie. Van uitgestrekte groen grasperke waar woonwaens soos sardientjies ingeryg word, is hier g’n sprake nie. Van geraas ook nie: Die Nels laat geen musiek toe nie en jy moet te alle tye die geraasvlakke laag hou en jou bure in ag neem.

Tuis tussen die varke

Met al die bome is die kamp en omgewing ’n uitstekende plek om jou verkyker nader te trek en voëls te soek, veral in die somer wanneer al die trekvoëls tuis is. En as jy vinnig ’n hele klomp bome wil uitken, hoef jy net ’n kort entjie om die kamp te stap.

Hier groei wildesering, lekkerbek, bergbas, krinkhout, maroela, doppruim, stamvrug en raasblaar, om net ’n paar te noem. Vra vir Kobus om jou ’n bietjie rond te wys.

Hy ken die bome asof dit sy kinders is. Die vyf sirkelvormige staanplekke is deur die kamp versprei en tussen die bome uitgelê met veldgras tussenin. Die staanplekke is ver genoeg van mekaar sodat jy nie die heeltyd in jou buurman hoef vas te kyk nie. Soveel as moontlik van die bome is behou toe die staanplekke skoongemaak is, en daarom het elkeen in die somer vir ’n groot deel van die dag heerlike koelte.

JOU EIE KOLLETJIE. Hier is net vyf staanplekke, maar hulle is só ingerig dat jy en jou buurman nie op mekaar se tone sal trap nie. Al soek ’n mens rus en vrede vir die siel, is hier plek waar die kinders saam met die ander maatjies kan speel: van die swembad tot swaaie en ’n trampolien.

Die staanplekke is almal genommer en na die een of ander vark genoem. Die naam is netjies op ’n groot klip by elke staanplek geverf. Jy kan kies of jy by Bosvark (nr. 1), Vlakvark (nr. 2), Krimpvark (nr. 3), Ystervark (nr. 4) of Aardvark (nr. 5) wil tent opslaan.

Vlakvark en Ystervark lê die naaste aan die ablusiegeriewe, boma en swembad, terwyl Bosvark, Krimpvark en Aardvark ’n entjie verder weg is met meer veld en bome rondom. Met die uitsondering van Vlakvark is al die plekke sowat nege treë in deursnee.

Die ovaalvormige Vlakvark is die grootste en lê die naaste aan die ingang. Hier is plek vir twee of selfs drie waens of tente, en as jy aan weerskante van die groot wildeseringbome in die middel van die staanplek opslaan, kan jy lekker kuier in die skaduwee van die ou twee grotes.

Jy kan vooraf vir ’n spesifieke plek vra, maar Vlakvark word vir groepe eenkant gehou. Alleenkampeerders mag egter hulle tente hier opslaan as die staanplek nie deur ’n groep bespreek is nie. Bosvark lê langs Vlakvark, sowat 20 treë weg.

Jou uitsig op die bos strek hier amper reg rondom jou, en as jy jou wa se rug na die kamp toe draai, gaan jy nie jou bure sien nie. Ystervark lê min of meer in die middel van die kamp, tussen die twee ablusiegeboue. Met die voetpaadjie na die ablusiegeriewe, swembad en uitkykdek wat teen dit verby loop, het dié staanplek die minste privaatheid. Maar ’n mens moet onthou hier is net vyf staanplekke in die kamp en dit behoort nie só besig te raak dat dit ’n steurnis gaan wees nie. Swaai maar jou wa weg van die paadjie af en sorg só self vir ’n bietjie meer privaatheid.

Krimpvark lê verder weg van die bedrywighede en het, soos Bosvark, ’n wye uitsig op die veld langs dit.

Die goue medalje vir privaatheid gaan egter aan Aardvark. Dié staanplek lê heel aan die einde van die kamp en word omring deur veld en bome. Dit is ook die verste van die ablusiegeriewe, maar as privaatheid vir jou belangrik is, sal die kort stappie stort toe ’n klein prys wees om te betaal. Al vyf die staanplekke is gelyk en het LM-gras en baie skaduwee. Hier is ook ’n kragpunt (gewone sok) by elkeen (Vlakvark het twee), ’n kamplig wat jy kan afskakel, ’n kraan, vullisdrom én ’n drom vir jou kampvuuras.

Om die vuur

Elke staanplek het sy eie klein boma wat groot genoeg is sodat ’n gesin lekker kan kuier. Die vierkantige rooster se hoogte kan nie verstel word nie, maar die rooster is groot genoeg om ’n klompie Bloubul-steaks op een slag te braai – wel, genoeg vir die hele gesin én nog ’n hand vol mense.

Hier is ’n driepoot waarop jy jou eie toeknyprooster kan sit asook die ysterstaaf om kole te krap. Jy kan van die droë houtjies by die boma gebruik om jou vuur aan die gang te kry, maar bring jou eie braaihout.

As jy saam met jou bure wil braai, kan julle oorskuif na die Kuierkraal, ’n groot boma oorkant Vlakvark. Dié boma, met die sterre as dak, het plek vir ’n goeie 17 stoele om die vuur en die braaiplek (met roosters) is amper 2 m in deursnee. Hier is genoeg werkoppervlakke om bykosse te maak en vleisbakke en eetgerei neer te sit.

Binne die boma is ’n betontafel met ’n geteëlde werkoppervlak. Hier is ’n lig, kragpunt, kraan en vullisdrom. As die weer sleg raak, kan die kospotte na die onderdakdeel by die ingang van die boma geskuif word.

Hier is genoeg werkoppervlakke om bykosse te maak en vleisbakke en eetgerei neer te sit.

Dié afdakkie is aan drie kante met latte toegemaak en het ’n werkoppervlak, wasbakkie, kragpunt en lig. Verder af in die kamp, langs die verste badkamer, is ’n tweede onderdakkuierplek. Hier is ’n ronde tafeltjie met vier stoele, ’n veerpyltjiebord (bring jou eie veerpyltjies) en selfs ’n podium indien oom Kosie skielik ’n heildronk wil instel. Vir diegene wat nie wil kamp nie, is hier ’n permanente tent en ’n boshut ’n entjie van die kampplek af.

VLAMME OMHOOG. Elke staanplek het sy eie klein boma, en ’n mens kry kans om jou mense se geselskap te waardeer en in die vuur te staar.

Tyd vir skoonkom

Kazi Mingi het twee ablusiegeboue. Die een die naaste aan die kamp se ingang het ’n badkamer (vir mans én vroue se gebruik) met ’n stort, twee wasbakke en ’n lang bankie waarop jy kan sit terwyl jy jou skoene aantrek.

Elke wasbak het ’n spieël met ’n rakkie en hier is hake langs die stort om jou handdoek te hang, én ’n rakkie binne-in die stort vir jou seep. ’n Stortgordyn keer dat die vloer nat word. Die vloer, storthokkie en mure is geteël en die plek netjies. Die toilet is apart van die badkamer en het sy eie toesluitdeur.

Langs die toilet aan die kant van die gebou is ’n klein kombuis met ’n skottelgoedwasbak en ’n werkoppervlak aan weerskante, ’n gemeenskaplike vrieskas en ’n kragpunt. Buite, aan die agterkant van die gebou, is ’n enkelklerewasbak met ’n kouewaterkraan. Die ander ablusiegebou is verder af in die kamp, skuins oorkant Ystervark.

PLEK VIR ALMAL. Vir die aantal staanplekke is hier voldoende badkamers. Hier is twee ablusiegeboue, wat beteken niemand gaan staan en wag nie.

Hier is ’n aparte badkamer vir mans en vroue. Elke vertrek het ’n stort, wasbak, bankie, tydskrifrakkie, vullisdrom en toilet. Hier is ’n spieël bo die wasbak, hake teen die mure en ’n rakkie in die stort.

Swem en speel

Teen die koppie aan die regterkant van die staanplekke is ’n plaspoel, speelparkie en buitestort. Die swembad is met houtpale afgekamp en het ’n groot grasperk waar jy op leunstoele in die son kan ontspan. Die speelparkie het ’n swaai en trampolien.

Voor die buitestort – of Loergat – is ’n latskerm, maar hier stort jy net in koue water. Dis ’n wenner as jy in die somermaande wil afkoel, hoewel jy tot donker gaan moet wag voor jy stort, want die latte het spasies tussenin en die skadunet wat rondom gespan is, gaan nie juis keer dat jou bure vir jou loer nie...

Daar gaan die son

Langs Ystervark is ’n kort klippaadjie wat tot by die uitkykdek loop. Van bo af het jy uitsig oor die ganse omgewing om jou: Voor jou lê die Mootvallei uitgestrek, aan die oorkant die Waterberg, en agter jou hou die Swaershoekberg wag. Neem vir jou iets te drinke en ete saam; jy gaan tyd hier wil bestee terwyl die son die boomtoppe goud inkleur.

Koop bokmelkkaas

Op pad huis toe kan jy by die bokmelkkaasplaas Geluksfontein stilhou en ’n kasie vir die huis koop. Bestel sommer ’n kaasbord in die restaurant of eet iets ligs. 

Vat kortpad deur by die Alma-bord, 7 km van Kazi Mingi af, regs te draai eerder as om reguit teerpad toe te ry soos wat jy gekom het. Ná 13 km draai jy links op die R33 – die plaas is 9 km verder links.

GPS S24.501494 E28.233075

Weg Ry & Sleep sê Kom geniet die stilte in ’n intieme kampplek waar jy oor genoeg privaatheid het.

Kortliks: Kazi Mingi

Kampplek 5 staanplekke met gras en baie inheemse bome vir koelte in die somer.

Ablusiegeriewe Skoon, netjies en met alles wat jy in ’n badkamer nodig het.

Prys R155 p.p.p.d. (R110 vir pensioentrekkers en R100 kinders van 6-12 jaar; o.6’e kamp gratis).

Kontak 083 255 7590; kazimingiguestfarm.co.zakaziboskamp@gmail.com

Hoe lyk die pad? Snelweg tot net voor Modimolle, daarna smal teerpad vir 16 km, met die laaste 23 km tot by die plaashuis ’n slegte grondpad met baie sinkplaat en plek-plek oopgespoelde klippe. Dis nie geskik vir ’n gewone woonwa nie; bring eerder jou boswa of tent. Jou sedan, tensy dit een van daai luukse modelle is met ’n baie lae grondvryhoogte, sal dit maak mits jy stadig ry. Van die grondpad af is daar ’n tweespoorpaadjie tot by die kampplek.

Naaste dorp Modimille 39 km.

GPS S24.457998 E28.347577


Hierdie artikel het oorspronklik in November 2017 verskyn. Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite en geite kon intussen verander het – laat weet gerus by digitaal@weg.co.za as jy iets raaksien.