Wanneer die lus jou beetpak om ’n slag in die Bosveld te kom, is daar werklikwaar ’n magdom keuses – van leeuwêreld tot besige warmbronoorde. Daar is iets vir elke smaak.
Die Abba-wildlodge is geleë net anderkant Modimolle, in ’n deel van die wêreld wat ’n mens sekerlik die hoofsetel van wildplase kan noem. Hier kan jy nie net die saligheid van die bos se stilte inasem nie, maar jy gaan ook ’n hele paar wilde diere sien – selfs tussen die staanplekke deur wei troppies rooibok en springbok. Boonop is hier ’n warmwaterswembad en minigholfbaan, en van die staanplekke het elk sy eie badkamer.
As jy Vrydagmiddag kort ná middagete by die huis in Pretoria wegspring, kan jou braaivleisvuurtjie vóór skemer brand en jy en die gesin kan gereed maak vir ’n Bosveldnaweek vol vrede.