Roete: Longtompas

akkreditasie
Foto: Roné Mc Farlane
Foto: Roné Mc Farlane
Die Longtompas – selfs ou Jock het hierlangs gedraf.

Die Longtompas net buite Lydenburg (deesdae Mashishing) in Mpumalanga is een van die mooiste en hoogste passe in die land. Dié pas was in die ou dae deel van ’n handelsroete tussen die ZAR en die hawe by Lourenço Marques.

Dit was ’n gevaarlike pad en menige waens van gouddelwers en handelaars het hier onklaar geraak. 

Sir Percy Fitzpatrick en sy bekende staffie, Jock, het ook ’n paar keer langs hierdie pas gereis terwyl Fitzpatrick as transportryer gewerk het. Vandag loop hier ’n breë teerpad (langs omtrent dieselfde roete as destyds), en die waspore wat nog langs die pad te sien is, herinner aan die dae toe jy nie na die uitsig gekyk het terwyl jy hierlangs gery het nie. 

Die 54 km lange pas begin net buite Lydenburg op die R37 en vat jou langs die Drakensbergplatorand tot by Sabie. Die pad het ’n paar skerp draaie en soms hang die mis hier dik – vat dit stadig.

Waar kom die naam vandaan?

Dié pas is genoem na die 155 mm-kaliber Creusot-kanonne wat die Boere tydens die Anglo-Boereoorlog gebruik het. Die vier kanonne is uit Frankryk ingevoer en die Engelse het dié gevreesde grofgeskut met hulle lang lope sommer gou “Long Toms” gedoop. 

In September 1900 was generaal Louis Botha en 2000 man op die plaas Paardeplaats (met ’n goeie uitsig oor Lydenburg) toe die Engelse dié dorp binnegeval het.

Hulle het skaars tyd gehad om “God Save the Queen” te sing, toe vuur die Boerekommando hulle twee Creusot-kanonne af. Botha en sy manne het dié dag ontsnap en, hoewel die oorlog nog 20 maande sou duur, was dit een van die laaste plekke waar die kanonne teen die Britte gebruik is. 

Toe al die koeëls op was, het die Boere die vier kanonne vernietig sodat dit nie in Britse hande kon beland nie.