Die Klein-Tafelberg-opleiding-en-avontuursentrum – voorheen Klein-Tafelberg-4x4 – is in 2015 begin, maar die roete is gegrond op ’n veel ouer veldryroete wat toentertyd deur boere gebruik is.
Soos jy uit die naam Sandveld kan aflei, is die wêreld hier rond erg sanderig, en jy moet viertrekvernuf gebruik om selfs by die ontvangsgebou uit te kom. Des te meer so vir die roete.
By ontvangs ontmoet jy vir Elize en Dolf Botha. Hulle bestuur die kampplek en konferensiegeriewe en Dolf sal jou ook op die roete begelei. Vroeër jare, toe die plaas deur Stephen Burger besit is, kon jy die roete slegs oor naweke ry, en hy was altyd aan die voorpunt van die konvooi.