Ons het die reën hoor kom. ’n Deursigtige grys gordyn het oorkant die Okavangorivier verskyn en vinnig die groot jakkalsbessies daar versluier, toe die riete in die vlak water, en toe het dit in ons rigting beweeg.
Die klank is gemaak deur die druppels wat op blare val, op die grond ook, maar veral op die rivier.
Dit het geklink soos ’n fyn applous wat ’n crescendo bereik, en dan konstant word soos die soort geluid waarvan jy later vergeet: ’n Lister-enjin wat in ’n buitekamer dreun.