Klein Tafelberg-4x4 is geleë op ’n plaas naby Redelinghuys – omliggende dorpe sluit in Velddrif, Aurora en Elandsbaai. Die roete en kampterrein is ontwikkel deur die eienaar, Stephen Burger, maar word deur sy bure Alfie en Gezie Louw bestuur.
Met die aankomslag is daar ’n kort en kragtige inligtingsessie waar jy ook jou tweerigtingradio kry. Geen alkoholiese verversings word op die roete toegelaat nie en by elke hindernis moet elke voertuig wag tot hy deur die gids geroep word. Normale konvooireëls geld ook, en daarom wag jy by elke kruising of afdraai vir die voertuig agter jou.
Die eerste hindernis heet Milkshake, wat kort ná die begin oor jou pad kom. Jy ry eers ’n paar draaie deur die sand en wag dan vir die gids om deur ’n klomp skerp draaie tot bo-op die heuwel te ry.