Deel

Ry op SA se naashoogste pas

akkreditasie
As jy nog nooit die Naudésnekpas in die Suidelike Drakensberg gery het nie, moet jy ’n plan maak. Dis nie net vrek hoog en deksels mooi nie, maar sy geskiedenis is ewe interessant.

Foto's: Ronel Steyn

Die Sanipas is dalk ’n raps hoër, maar die storie agter Naudésnekpas is vir my mooier. Ek het dié pas – Suid-Afrika se naashoogste – op ’n mooi herfsoggend van Rhodes se kant af oorgesteek en uiteindelik aan die Wildekus gaan draai.

By die eerste aftrekplek aan die voet van die pas net duskant Rhodes, reg langs die Bellrivier, is ’n piekniekplek wat op 20 Desember 1967 deur die Naudé-gesin ingewy is. Die Naudés boer vandag steeds in die omgewing.

By die piekniekplek is ’n gedenkplaat was as volg lees: “Ter nagedagtenis aan Stefanus David Naudé en Gabriël Naudé. Die twee stoere boere het in die jaar 1896 teen die steil hange van hierdie berg met hul perde uitgery en op hul spore is die penne ingeslaan waarlangs hierdie kronkelpad met pik, graaf en skotskar gebou is. Die Naudénageslag bring hiermee hulde aan hulle vir die dapper en onuitwisbare daad.”

Voor 1896 was dit ’n hengse ompad van Rhodes af tot by die veemarkte aan Maclear se kant van die berg, en die twee broers het ’n kortpad gesoek. Hulle het geweet hulle perde gaan ’n beter roete kies as enige mens. Hulle het al op die diere se spore gevolg, dit uitgemerk en later teruggekeer om die pad met die hand uit te kap.

Die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog in 1899 het bouwerk aan die pas onderbeek, maar dit is ná die oorlog se einde in 1902 hervat. Die huidige pad is in 1910 deur die padingenieur George Mandy voltooi, met die hulp van die Naudé-broers.

Die 30 km lange kronkelpas is inderdaad ’n “onuitwisbare daad” en die feit dat jy hom vir die grootste deel van die jaar met ’n gewone sedanmotor kan aandurf, getuig van die broers (en hulle perde) se vernuf. As jy die dag gelukkig is, sal jy naby die hoogste punt van die pas (2 590 m volgens my GPS) baardaasvoëls tussen die valleie sien sweef.

In die lente en somer is die wêreld rondom jou smaraggroen en die uitsigte na Rhodes én Maclear se kant roep jou tot stilstand en woordelose oordenking. In die laatherfs begin die aalwyne vlamvat, maar pasop vir die winter… moet eerder nie die pas in jou Citi Golf pak as dit sneeu nie!