
Ons ry ou Kammiesberg dat sy sing!” roep Sakkie Pretorius bo die trok se dreuning. Dit is net ná vier op ’n Dinsdagmiddag.
My rit saam met Sakkie in Kammiesberg, ’n Scania R420 met 12 ratte, 22 wiele en 2 tamaai trekkers agterop, het so pas begin.
Ons val in die pad by Cato Ridge, sowat 50 km buite Durban, langs die N3. Ons bestemming is 650 km verder wes, by ’n koöperasie in Bloemfontein.
Daarna gaan ons weer al die pad terugry Cato toe.Sakkie, wat vroegoggend al twee trekkers in Bloemfontein afgelaai en weer tot hier gery het, noem sy werkswyse “laai en draai”.
Geen tyd vir ginnegaap nie. Of, soos hy dit stel: “Hier word geroer, Pappa!”
Ons vrag is nie vir sissies nie. “Die hele voertuig weeg 47 500 kg; dit is wat ek nou hier in my hande het,” sê Sakkie trots terwyl hy vorstelik agter die stuurwiel sit.
Duidelik ’n man vir detail.Sakkie is 55 jaar oud en ’n gróót kêrel – iets tussen Kojak en ’n klubrugbyslot.
En hy is ’n óú hand in die bedryf, met byna 20 jaar se ervaring en letterlik ’n paar miljoen kilometer op sy kerfstok.
Dalk was dit Over the Top, Sylvester Stallone se trokdrywer-armdrukfliek in die jare tagtig, of al die kilometers wat ek al – helaas dikwels swetsend – agter vragmotors aangekruie het, maar ek was nog altyd baie nuuskierig oor die lewe van ’n trokdrywer.
Het hulle almal teddiebere op die paneelbord? Hoe voel hulle oor ’n ongeduldige motoris?
En wat van versoekings langs die pad – hoe eensaam raak dit op die langpad?
Om te keer dat wedersydse stilstuipe ná net 50 km intree, het ek een van die groot geselsers op RSG se destydse gewilde laatnaginbelprogram Siele op Wiele om ’n saamrygeleentheid genader.
Trokdrywers landwyd het weekliks in na dié program ingebel om staaltjies te deel, mekaar moed in te praat en te klets.Buiten ’n trokdrywer is Sakkie ook ’n lekeprediker – “daar’s nie van geleer nie, dis ’n gift of God daai” – en in Siele op Wiele-kringe bekend vir sy bemoedigende boodskappe.
Hy vertel my gou van ’n CD met 12 gebede (vergesel van agtergrondmusiek met ’n country-twang) en ’n liedjie, “Oppietrokkie”, wat hy opgeneem het.
“Ek het net genoeg CD’s verkoop om die opname se koste te dek en dis al wat ek die Here gevra het. Ek het ook gevra vir een siel, maar die CD het reeds 11 siele se lewe verander.”
Iemand flikker sy ligte agter ons. “Jy kan nie glo hoeveel karre challenge hierdie groot stuk yster nie. Liewe land, waar wil hy hê moet ons ry?” vra Sakkie, half retories. “Ons het ook inbors, ons het ook gevoelens...”
Om die pad te lees
Kammiesberg dreun verby Pietermaritzburg en Howick – die wêreld is mooi groen aan weerskante van die grou en bedrywige snelweg. Dalk is ek meer bewus daarvan omdat ek op die ideale wildkykhoogte binne-in een sit, maar die N3 is ’n volslae trok-Serengeti.
Hoeveel trokke ry op hierdie oomblik op ons landspaaie, wonder ek hardop. Sakkie gee ’n lang fluit. “Baie, weet jy... miljoene.”
Selfs terwyl Sakkie gesels op sy selfone – hy het drie – loer vir boodskappe of rondvroetel vir iets te drinke (“ ’n Koeldrank wat ek nogal baie drink, is ’n Stoney”), fokus hy steeds intens op die pad.
“Ek moet my pad vooruit lees. Hierdie is nie ’n kruiwa met ysterwiele wat dadelik gaan staan as jy hom neersit nie. Kyk, daar links by die kruising staan ’n kar – ek moet hom dophou.”
Tussen my en Sakkie is ’n koffiefles, ’n paar piesangs en Tupperware-bakkies met suiker, gemmerkoekies, Eat-Sum-Mor, nartjiegeur water en los lekkers.
Agter ons sitplekke is Sakkie se bed. Die gebleikte duvet het blommotiewe op. Die kajuit is netjies, en op die paneelbord is geen teddies nie; net ’n verestowwer.
“Nee wat, ek noem die teddies stofopgaarders,” verduidelik hy.
“Tel maar ’n ou se teddies en kyk hoe lyk daai dashboard. Hierdie is my woonstel, en soos my woonstel lyk, so lyk my hart en my lewe binnekant.”
’n Stem kraak oor die radio. “Tolla, waar trek jy nou?” vra Sakkie opgewonde. “Jy weet mos, ou Sakkie is so gewillig soos ’n perd met sewe sterte, stokstyf,” sê hy skertsend voordat hulle ’n paar spoedlokvalle langs die pad bespreek.
“Dankie vir die inkom. Arriewarrie, baai!”
Dit is byna sononder. Ons ry steeds op die N3, nou verby Estcourt.
“Kammiesberg vat nou hard hoor,” sê Sakkie, soos ’n ruiter wat tevrede is met sy perd.
Vir Sakkie is die band selfs nouer. “Jy trou amper met die trok. Al verskil is ’n regte vrou eet die geld en moan oor alles. Maar Kammiesberg gee die geld en is so gewillig soos wat ’n donkie nie kan wees nie.
“As jy die sleutel draai, dan sê sy: ‘Kom Pa, laat die vrag kom.’ ”
Sakkie voel ongemaklik in ’n vreemde trok. “Jy moet ’n nuwe trok eers gewoond raak, maar hierdie een trek ek aan soos ’n skoen – sy fit my lekker.”
Diesel in die are
Sakkie het ’n trokdrywer geword nadat hy sy werk in die Spoorweë verloor het. ’n Verdere terugslag was toe sy hele pensioen van sy vorige werk in die berugte Krion-piramideskema op Vanderbijlpark voete gekry het.
Hy glo jy word ’n trokdrywer gebore. “Jy moet diesel in jou bloed hê. Dit is ’n snaakse lewe en ’n eensame werk. Jy’s 99% van jou lewe alleen en min by die huis. Dit is waarom ek die burgerbandradio ingesit het. As ons trokdrywers sit en gesels, dan lóóp die pad.”
Sy werk is onvoorspelbaar. Sakkie weet selde waarheen sy volgende vrag op pad is: die een dag Standerton, die ander dag die Kaap.
En soms wag hy tot 13 uur in die hawe voor hy toestemming kry om te laai. “ ’n Mens kan nie beplan nie – dis deel van transport. Ek noem dit tranesport,” sê hy.
Sakkie het al alles vervoer: beesmis, bone, mielies, chroom, staalkonstruksies, papier, en selfs die duiselingwekkende verhoog vir verlede jaar se U2-konsert. (Sakkie oor die konsert: “Dit was orraait; dis nou nie my kind of pudding nie, maar die mense kan áántrek!”)
Sommige vragte, soos tabak en sigarette, is vanweë moontlike kapings baie gevaarlik. “Ek was gelukkig tot nou toe, maar hulle het nou die dag vir Jan Pens buite Sasolburg ge-hijack.”
Kort-kort terwyl ons ry, groet iemand oor die radio. Elke keer antwoord Sakkie entoesiasties.
Sy gesprekke is vol sêgoed (“Praat jy wat lip het!”) en hy skiet dikwels ’n teksvers of twee uit die heup.’n Paar jaar gelede is Sakkie en sy vrou ná ’n huwelik van 36 jaar geskei (“Dit was nie die trokke nie.”).
Sakkie dra egter steeds sy trouring, “want ék het nie die belofte met God gebreek nie”.
Dieselfde dag dat sy hom vertel het sy wil skei, het Sakkie die lirieke van “Oppietrokkie”, op die wysie van die boeremusiekliedjie “Lente op die eiland”, geskryf.
Hier op die N3 sing Sakkie luidkeels saam met die opname op sy selfoon. ’n Bietjie Briels, ’n bietjie Groep Twee:
Ek ry nou hier in my ou trokkie ja ek wonder hoe gaan dit nou met jou maar ek weet dat jy my ook baie liefhet en ek bemin jou met my hele hart
Nadat Sakkie en sy vrou uitmekaar is, het hy 11 maande in Kammiesberg gewoon, meestal by die maatskappy se depot op Heidelberg.
Deesdae het hy ’n nuwe vrou in sy lewe, Santie (“ ’n Engel van God gestuur”), by wie hy in Vereeniging woon. Sy bel hom ’n paar keer elke dag; hulle koer soos twee jong verliefdes.Ons ry nou naby die Van Reenenspas.
’n Engelse trokdrywer bel Sakkie. “There were an accident near Howick,” sê Sakkie. “I don’t get any speedtraps. I thank you very much. Thanks a million, have a nice journey. Arriewarrie. Bye!”
Sakkie grinnik. “Ek praat beter Sotho as Engels.”
‘Siele op wiele’
Net voordat Kammiesberg in die donker teen Van Reenenspas begin klim, ry ons verby ’n dooie koedoe met ’n driedraaihoring in die middel van die pad.
Sakkie brom oor die ratte. “Hierdie ratkas wat so sukkel tussen 8 en 9 laat my sommer ’n kleintjie kry. Kleinhond se ma!”
Deur Siele op Wiele het hy baie nuwe vriende gemaak. Sakkie tel een van sy selfone op. “Kyk, ek het 1 323 contacts só opgebou. Dit is trokdrywers en manne en dames en oumensies en sekuriteitswagte. Jy kan nie glo hoeveel seer daarbuite is nie.”
Die meeste van Sakkie se Siele-pêlle en kollegas het byname. Hy rits ’n paar af: Pienktongetjie, Trol (“Hy lyk soos ’n trol en hy’s so vuil soos ’n trol”), Voorrysindroom (“Hy wil altyd voor wees.”), Jan Kakebeen, Kallie Snuif, Mielie, Suutjiespoep, Naartjieneus, Velle, Veldmuis…Die trokdrywers het ook ’n paar eiesoortige woorde wat hulle op die lug gebruik, vertel Sakkie. Soos “lappe trap” (slaap), “platkop” (volspoed) en “Jy moet mooi maak” (lekker ry).
Ons ry al meer as vier uur sonder stilhou. En ons is nog ’n ent weg van die padwerke voor Kestell, waar ek ’n draai wil loop. “Ek roer hom sommer so in die ry. Ek stop nie; daar’s nie ’n manier nie,” sê Sakkie.
Ek kyk hom vraend aan. “Jy glo my nie – hier’s my piepiebottel,” en hy bring ’n plastiekwaterbottel te voorskyn. “Min ouens kan só in die ry piepie, hoor. Ek kan ook koffie maak so in die ry.”
Sakkie eet ook in die ry. “As jy elke keer by ’n winkel moet kos koop, sal jy nooit jou pay maak nie. En van die kos by die truck stops is nie meer wat dit was nie. Ek belê eerder in blikkieskos.”
Honger is die beste kok, en ek en Sakkie eet so in die ry aandete: twee blikkies Weenseworsies-en-bone in tamatiesous, en ’n paar snye droë bruinbrood.
’n Motoris agter ons is weer lastig met sy ligte. “Ek is nou so kwaad ek kan ’n krokodil borsvoed!” brul Sakkie, voordat hy uitbars van die lag.
“Sien, ek maak die job vir my ’n plesier, anders het jy ’n Langpoppie-gesig. As ons nie lag nie, raak ons oud. Die lewe is ’n lied, síng hom, síng die ding!”
Versoekings en ’n trok-vuvuzela
Anderkant Harrismith drentel ’n vrou langs die pad in ’n rokkie wat weinig aan die verbeelding oorlaat.
“Nee, dit is nou maar so,” sê Sakkie stemmig, “party ouens kuier met hulle saam. Hulle stop by die truck stop, hy doen sy ding, sy klim uit en gaan haar gang. Ek het my hele lewe deurgegaan sonder hierdie dinge. Ek het selfs my dans afgegee. En ek en sigarette is nie getroud nie, drank nóg minder.”
Gelukkig is die padwerke hanteerbaar en ons wag nie lank nie. Die dorpies langs die N5 meld hulle een-een in die verbygaan aan: Kestell, Bethlehem, Paul Roux.
By Senekal maak ’n trokdrywer, ene Werner, kontak op die burgerbandradio. Hy het vroegoggend uit Mariental in Namibië weggetrek en ry nou al byna 20 uur.
“Ou Sakkie,” sug hy, “dit gaan maar so tussen die boom en die bas. Satan is listig.” Sakkie begin dadelik onderskraag. Senekal se KFC glimmer links van ons.
“Ons moenie toelaat dat die versoeking ons hart betree nie, ou broer... Seën en voorspoed en vrede en liefde vir jou. En bly maar positief, my ou broer, want onthou, dít wat mooi is, is altyd positief, hoor jy?”
Hulle groet. Sakkie sug. “Die ou klink maar nie lekker nie. Die oomblik as dit gebeur, dan tree die profeet van God in. Jy kan nie ’n ou net so los nie. Jy moet onmiddellik optree en ondersteun.”
Die laaste paar kilometer luister ons musiek op Sakkie se MP3-speler (“Hier is 837 liedjies op my stokkie”).
Iewers tussen Credence Clearwater Revival se “Have You Ever Seen the Rain?” en die Campbells se “Cotton Fields” raak ek aan die slaap.
Mpwaaap! Sakkie blaas die lugtoeter – dit klink nes ’n vuvuzela – en ek ruk wakker. Sakkie kraai van die lag. “Ek sien jou water loop laag, ou broer. Jy moet lekker visvang in die trok! Ek het my tweede asem gekry; nou’s ek reg, ons kan maar stoot.”
Bloemfontein se liggies doem net voor middernag op. Ek het vanoggend in Kaapstad wakker geword, middagete gehad op Durban se lughawe, en ry nou Bloem binne in ’n trok – dit voel vreemd, om die minste te sê.
Gelukkig gaan ons nie nou dadelik “laai en draai” nie, en stop in die parkeerterrein voor die koöperasie. Twee ander trokke staan ook hier. Sakkie kruip in sy bedjie in; ek sit sommer in die sitplek.
Buite rumoer die petroljoggies, en ’n span werkers vee Bloemfontein se strate skoon onder die lamppaalligte. Tyd vir lappe trap.
Elke sport het sy beserings
Ek skrik halfses die volgende oggend wakker. Sakkie is reeds aan die werskaf agterop die lorrie. (“ ’n Trokdrywer wat meer as vyf uur slaap, is skuldig aan ballas bak.”)
Sakkie laai die twee trekkers af en die werkswinkelbestuurder, Andries van Schalkwyk, kan skaars glo hy sien Sakkie twee maal binne 24 uur in Bloemfontein.
“Gelukkig pas hy nou die trekkers op en nie ek nie,” sê Sakkie toe ons wegtrek.
Dieselfde 650 km wat ons tot hier gebring het, lê nou voor. Ons luister radio en klets oor die wel en wee van ’n trokdrywer.
Op Bethlehem koop ek vir Sakkie ’n laatontbyt by die BJ’s. Hy mors nie tyd aan tafel nie.
“Ek’s ’n trokdrywer, alles moet gou klaar en vinnig. Die lewe is ’n gejaag,” verklaar hy al kouende.
Steeds “lees” hy die pad, en dikwels gesels hy met Kammiesberg (“Jy moet vat, Suster, jy moet vat”) en met ander voertuie (“As jy voor Sakkie indraai, gaan ons woorde hê”).
En elke keer as die radio kraak of ’n selfoon lui, kry hy ’n huppel in sy stem.
Soms is daar net stilte op die radio. “Hallo, Ouboet, wat sê jy? Kakebeen, waar is jy?” vra Sakkie. Geen antwoord nie.
“Niksmakie, hy wil nie met my praat nie...”
Kort duskant vieruur die middag trek ons weer in by Cato Ridge. Ons was presies 24 uur byna heeltyd in Kammiesberg.
Ek het nie eens bestuur nie, maar ek voel gedaan.
“Bestemming bereik,” sê die vrouestem op die GPS. “Dankie, Tannie, ek is so bly om dit te hoor,” antwoord Sakkie droogweg.
Dan raak sy stem opgewonde as hy die werk sien. “Daar staan my trekkers klaar reg! Daai wat neus vorentoe wys, is myne.”
Ek pak af en dra my sakke na die gehuurde motor toe.
Wanneer ek vir Sakkie wil groet, sien ek hom nêrens nie. Iemand beduie in die trekkers se rigting. Hy is al klaar besig om die volgende vrag te laai.
Nóg ’n dag, nóg ’n vrag. Bestemming voorlopig onbekend. Alleenheid oppietrokkie gewaarborg. Kammiesberg moet sing.
Elke sport het sy reëls, belonings én beserings. Só ook tranesport.
Arriewarrie, Sakkie.
Hierdie artikel het oorspronklik in Mei 2017 verskyn. Feite en geite kon intussen verander het – laat weet gerus by digitaal@weg.co.za as jy iets raaksien.