Kyk hiér na rotskuns

akkreditasie
Jon Minster
Lus om Boesmanrotskuns te gaan soek? Hier is die argeoloog Tim Forssman se ses gunstelingplekke om rotskuns in Suider-Afrika te besigtig.

Vandag nog word die heeltyd Boesmanrotskuns ontdek – ’n bewys van hoe wydverspreid en spiritueel kompleks dié mense was. Hier is die argeoloog Tim Forssman se ses beste plekke om rotskuns in Suider-Afrika te besigtig.

Daar is iets boeiends aan rotskuns. Miskien het jy op ’n staproete in die Drakensberg die eerste keer ’n perfekte eland in oker skakerings gesien, of dalk het ’n gravure op ’n klip in Namibië jou verbeelding aangegryp.

Dit maak nie saak waar jy die eerste keer rotskuns gesien het nie; jy gaan dit nie sommer vergeet nie.

Maar hoekom fassineer hierdie antieke tekeninge ons so? Dalk omdat dit een van die min bestaande skakels is met dié volk wat aan die uitsterf is?

Of miskien is dit die geskiedenis agter rotskuns – die wete dat daar, lank voordat die Franse of Hollanders of Britte hier aangeland het, reeds mense in dié geweste was.

Om rotskuns werklik te verstaan moet jy na die etnografiese register oor die lewenswyse en tale van die Boesmans gaan kyk.

Hierdie inligting is hoofsaaklik deur navorsers ingesamel wat tussen die jare vyftig en sewentig in die Kalahari gewoon het, asook die Duitse taalkundige Wilhelm Bleek, wat in die negentiende eeu met Dia!kwain, ’n Boesman-gevangene, onderhoude gevoer het in die Breekwater-gevangenis. (Lees Dana Snyman se artikel hieroor.)

As jy al die stukkies van die legkaart bymekaarsit, is dit duidelik dat rotskuns ’n belangrike spirituele rol in die Boesmankultuur gespeel het. Dit maak hierdie tekeninge nóg indrukwekkender – en uiteindelik ook tragies. In Suider-Afrika is ons bederf met die hoeveelheid rotskuns, maar by dié ses móét jy uitkom.

1. Twyfelfontein, Damaraland

Die beste – sonder twyfel!

Dit is ’n avontuur op sy eie net om hier uit te kom, maar Damaraland se rotsagtige landskap huisves een van die indrukwekkendste en rykste konsentrasies rotskuns in SuiderAfrika.Hier is meer as 2000 beelde, en die omvang daarvan is oorweldigend.

By Twyfelfontein sien ’n mens meestal net rotsgravure, en dis ’n enorme versameling diere: daar’s wildebeeste, olifante, leeus, kameelperde, vlakvarke, renosters en selfs flaminke.Die gravure van voetspore is ewe indrukwekkend – hulle is so lewensgetrou en volgens skaal uitgekerf dat jy selfs die spesie kan identifiseer.

GPS S20.595481 E14.372603

2. Tsodiloheuwels, Noord-Botswana

Waar die geeste woon

Die Tsodiloheuwels, vier eensame koppies in die dorre landskap wes van die Okavangodelta, is vir die Boesmans van die Kalahari soos Mekka vir Moslems.

Dis ’n skouspelagtige plek; net die topografie alleen gee die heuwels ’n mistieke atmosfeer – die geesteswêreld voel skoon naby.Heelwat Boesmans glo dit is hier waar die mens ontstaan het.

Volgens hulle geloof is daar twee tydperke: In die Eerste Orde van Bestaan word geen onderskeid getref tussen mense en diere nie – almal het vreedsaam saamgeleef.

Die Tweede Orde van Bestaan het aangebreek toe die gode met die hulp van bonatuurlike kragte patrone op die diere geverf het – soos die strepe van die sebra en die kameelperd se kolle.

Die diere is in ’n spesifieke volgorde met patrone beskilder en na afloop daarvan het die mens en die dier apart verder voortbestaan.

Party glo ook dat |Kaggen, een van die vernaamste gode wat verantwoordelik was vir die ontstaan van die mens, by die Tsodiloheuwels woon.

Die Tsodiloheuwels word beskou as die middelpunt van die Boesmans se geloof. Hierdie plek roer ’n mens en is beslis die moeite werd om te besoek.

Moenie net vinnig verbyry as jy naby die Okavangodelta is nie – sit minstens ’n hele dag opsy om die kunswerke behoorlik te bestudeer.

GPS S18.758666 E21.736924

3. Game Pass-skuiling, Kwazulu-Natal

Ontsyfer die kode

Die rotskuns by die Game Pass-skuiling het wêreldbekend geraak toe foto's daarvan in 1915 in die tydskrif The Scientific American verskyn het. Foto: Jon Minster

In die voetheuwels van die sentrale Drakensberg, hoog op teen ’n helling, is daar ongelooflike skilderye teen sandsteenmure. Dis die Game Passskuiling, sekerlik SuidAfrika se bekendste plek om na rotskuns te gaan kyk.

Dit staan bekend as die Rosettasteen van rotskuns, want net soos dié swart granietsteen gehelp het om die hiërogliewe in Egipte te ontsyfer, het dié rotskuns argeoloë gehelp om die skakel tussen rotskuns en die spirituele rituele van die Boesmans te verstaan.

Veral een beeld het bygedra tot die ontsyfering van die kuns: ’n tekening van ’n sjamaan wat met ’n eland versmelt soos wat hy die geesteswêreld betree.

Die sjamane het geglo hulle kan met behulp van kuns en beswymings dié magtige dier se gees beheer en sodoende siektes genees, die wild se bewegings bepaal, die reën laat kom en bose geeste wegjaag.

Sketse van elande kom by rotskunsterreine reg oor Suid-Afrika voor en is dikwels baie realisties, maar dis eers toe hierdie beeld sowat ’n eeu gelede by Game Pass ontdek is dat navorsers die simboliese betekenis van dié dier kon begryp.

GPS S29.39505 E29.64617

4. Kaoxaskuiling, Limpopo

Plek van die sprinkaan

Foto: Tim Forssman

Die Kaoxaskuiling is geleë op ’n plaas naby die Mapungubwenasionale park. Dit val binne ’n sandsteenkoppiegordel wat deel vorm van die rand van die platorand wat tot onder by die Limpoporivier loop.

Boesmans het dié gebied tot 10000 jaar gelede bewoon, en meer onlangs (sowat 2 000 jaar gelede) het vroeë landbouers en veeboere inbeweeg – en dit het gelei tot die stigting van die Mapungubwekoninkryk, ’n feodale staat en eerste vorm van die dertiende eeuse Zimbabwekoninkryk.

Uiteindelik het dié gemeenskap én die jagterversamelaars uit die gebied padgegee, en daar is geen bewyse dat die Boesmans daarna ooit weer teruggekeer het nie.

Hier is ongeveer 200 verskillende tekeninge by Kaoxa waarin nie minder nie as 40 verskillende dieresoorte, waaronder hiënas, leeus, seekoeie, kameelperde, renosters en dwergmuishonde uitgebeeld word.

’n Paar geverfde sprinkane teen die klip maak hierdie skuiling die enigste plek in die land waar dié insekte uitgebeeld word.

Die naam, Kaoxa, beteken “sprinkaan” en verwys na die Boesmans se bedrieërgod watdikwels in die vorm van dié gogga verskyn het.Hier is ook prente van termiethope en plante. Die Boesmans het geglo alle lewende wesens spruit uit dié soort hope of bome.

GPS S22.24899 E29.30365

5. Boesmanskloof, Wes-Kaap

Die Sederberg se geheim

Hierdie private reservaat in die Sederberg het die meeste Boesmantekeninge op een plek in SuiderAfrika.

Daar is ongeveer 130 verskillende terreine met rotskuns, en elkeen het ’n groot rol gespeel in die bestudering van die Boesmankultuur.

Die tekeninge sluit in uitstekend geverfde sjamane wat vooroor buig (asof hulle in ’n beswyming is), vroue met graafstokke en selfs tekeninge van nette. Hier is ook verskeie tekeninge van diere soos kameelperde, elande, klein wildsbokkies en voëls.

In een skuiling word die ingewikkelde ritueel om reën te maak – en die rol wat ’n sjamaan daarin speel – uitgebeeld.

Wanneer ’n sjamaan in die geesteswêreld inbeweeg, probeer hy ’n reëndier vang en lei hom dan deur die hemele tot waar die reën moet val. As die reëndier ’n wyfie was, sou die sjamaan haar melk, en as dit ’n mannetjie was, het die sjamaan hom geslag.

Die geslag van die dier het dan ook die soort reën bepaal: ’n swaar reënbui het soos die melk van ’n wyfie geval, en ’n kwaai storm was soos die druppende bloed van ’n mannetjie.

GPS S32.11674 E19.10779

6. White Ladyskuiling, Namibië

Maar ís dit ’n vrou?

Die White Ladyskuiling mag dalk bekend wees, maar om die verkeerde redes. By die 1 800m hoë Brandberg is daar meer as ’n duisend groeperings van rotskuns, en ’n verstommende 45 000 tekeninge in totaal! 

Maar dit is die een van die sogenaamde wit vrou wat toeriste die maklikste kan bereik en die graagste besoek.

Foto: Sam Reinders

In die middel van die twintigste eeu het ’n Katolieke priester en argeoloog, Henri Breuil, tot die gevolgtrekking gekom dat dié wit mensfiguur ’n Europese besoeker uitbeeld, omdat dit ooreenstem met die atlete wat in Kreta geverf is.

Later is hierdie gevolgtrekking verkeerd bewys – dit is eintlik ’n man, en hy lyk nie veel anders as die ander sjamaanagtige figure nie. In daardie stadium, en tot ’n mate steeds vandag nog, het party mense geglo die tekening en die nabygeleë klipmure is deur buitelanders gemaak.

Dít is nooit as korrek aanvaar nie, en die totale gebrek aan bewyse dui eerder daarop dat dit die werk van plaaslike kunstenaars en klipmesselaars was.

Breuil se flater het nietemin daartoe gelei dat die White Lady in die geskiedenisboeke opgeteken staan, en mense besoek haar vandag nog gereeld.

Nog beelde in die skuiling sluit in dié van sebras, gemsbokke, rooihartbeeste, klein wildsbokke en ander sjamaanfigure.

Dis maklik om by die White Lady uit te kom, maar as jy na die ander rotskuns in die omgewing wil gaan kyk, sal  jy ’n begeleide staptoer van 35 dae moet aandurf.

GPS S21.093569 E14.675993


Hierdie artikel het oorspronklik in Weg #90 (April 2012) verskyn. Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite en geite kon sedertdien verander het – laat weet gerus by digitaal@weg.co.za as jy so iets raaksien.