Leser vertel: Plan B maak plek vir die Shingwedzi-ekoroete

akkreditasie
Uit die argief: Die plan was om die Shingwedzi-ekoroete van die Krugerwildtuin af na Mosambiek te ry, maar Moeder Natuur het ander planne gehad, vertel die leser Amanda van Blerk.

Die Shingwedzi-ekoroete is al talle kere aan my beskryf as een van die lekkerste ekoroetes in Suid-Afrika. Dit begin by Pafuri in die Krugerwildtuin se piekniekplek en gaan verby Crooks’ Corner, uit by die Pafuri-grenspos en dan neem jy die pad na Mosambiek. 

Op die roete stop jy by die Koorsboomwoud en Limpopovallei, drink Mosambiek-bier by Mapai en kamp by die Mambapan.  

Ons wou graag die noorde van Mosambiek gaan verken en het ons plek op dié roete bespreek. Maar minder as ’n week voor ons vertrek, verspoel die grenspos by Pafuri. Ons sou dus nie meer die oorspronklike roete kon ry nie.

Plan B

Ons groep van ses voertuie kom vroeg by Pafuri-hek in die Kruger- nasionale park byeen. Die toerleier, Hennie East (vir Oosthuysen), groet en sommer gou word sy kenmerkende “bon voyage” en “safari njema” oor die tweerigtingradio deel van die roete.

Die pad Mosambiek toe is 200 km. 

Omdat die Pafuri-grenspos in die slag gebly het met die verspoelings, kies ons ’n pad deur die Krugerwildtuin na die grenspos by die Giriyondo-hek. Dit gaan stadig, die spoedbeperking in die Kruger is 50km/h op teer en 40km/h op grondpaaie.

Die kans om die noorde van die Krugerwildtuin te verken is egter ’n onverwagte bonus. Die verkeer is min maar die voëlbevolking oorvloedig. Ons sien seldsame spesies sommer vlak langs die pad en die park wemel van die neushoringvoëls. Soos ons verder suid beweeg, sien ons meer seekoeie en olifante, groot troppe buffels, kameelperde, duisende rooibokke, koedoes en sebras.

Die grensoorgang by Giriyondo verloop glad, maar die stof- en sinkplaatpad na Machampane se kampplek (sonder heinings) gaan met stof tussen die tande gepaard. Dis die hoofroete na die Massingirdam en is erg uitgery. Kyk, ’n slegte viertrekroete is een ding, maar ’n uitgeryde sinkplaatpad ….

Ná sowat 30 km en met die son wat al begin water trek, stop ons uiteindelik by Machampane en skop letterlik die olifantmis weg om plek te maak vir tente en tafels! 

Die moed is dun ná die sinkplaat-stofpad, maar die geknetter van die kampvuur maak dinge gou weer beter.

Die groep wat die toer onderneem het, is (van links): Gert en Girieda du Plessis van Johannesburg; Cobus en Annatjie Redelinghuys van Rayton; Ina en Lance Sapsford en hul seun Richard van Welkom; Deon en Babs Wentzel van Centurion; en Bees van Blerk van Clarens. Amanda, sy vrou, staan agter die lens.

Nuwe dag, nuwe krag

Die goeie nagrus verrig wondere. Ná ontbyt doen ons Machampane-safarikamp aan en kry ons te doen met die eerste viertrek-uitdaging van die onbekende roete; ’n tweespoorpadjie deur ’n uitgekalwe droë loop. 

Die ouens met sleepwaentjies sukkel behoorlik en moet telkens uitklim om die regte lyne te kry. Dis uitdagend, maar nie sieldodend nie, en toets die bestuurders se vermoëns sonder om gemoedere af te breek. 

Aanvanklik beweeg ons op ons spoor terug na die sinkplaatpad soos ons gekom het, maar geleidelik verander die roete na ’n sagte tweespoor-sandpaadjie.

Dié onbekende wêreld voel soos ware wildernis. Plek-plek is dit ongerep, met net die pad wat deur mopanieveld kronkel. Selfs vir die toerleier is die omgewing nuut. Hy doen nie gereeld hier aan nie en ná die vloede is die deel ongekende bos.

Ons vorder stadig en die stof wurg ons, maar ’n sandpad is beslis beter as die grof-geryde gruispad. 

Teen twaalfuur voel dit al asof die grens van Mosambiek en Zimbabwe naby moet wees, maar helaas, ons ry ompaaie want paai in die noorde van Mosambiek het ook verspoel en saam met gerugte van onrus, moes die noorde eers vermy word.

In die wildtuin word die Steenbokskeerkring duidelik aangetoon, maar hier aan die Mosambiekse kant moet jy ’n ingeligte raaiskoot waag, met een oog op die GPS. Ons stop baie na aan dié “lyn” in ’n woud van tambotie- en koorsbome - rustig, stil, groen en amper koel. 

Halfdrie die middag kom ons by die Shingwedzirivier aan. Die roete het tot dusver al langs die magtige rivier geloop maar skielik swenk dit water toe. Die oorgang is breed en klipperig, met min water want dis nou buite die reënseisoen. Dit bly egter ’n waterkruising en ’n uitdaging, maar almal kom gelukkig sonder probleme ander kant uit.

Sandalo is ’n aangename verrassing. Die kampplek is pynlik netjies en mooi versorg. Daar is nie lopende water nie, en ons kan nie die ablusiegeriewe gebruik nie, maar die tamaai sirkelvormige vuurmaakplek vergoed hiervoor. Die groep is in elk geval selfversorgend.

Hennie ry verder noord om die roete te verken na Gaza en Ngwenya, eertydse ontwikkelde kampplekke wat onder hewige vloedskade gely het. Hy het die groep taamlik blindelings na Sandalo gelei, maar moet homself eers gaan vergewis of die pad verderaan begaanbaar was. 

Hy keer eers ná sononder terug, met die nuus dat die roete na Ngwenya-kamp nie geskik is vir sleep nie.

Ons maak kos by die geboude sirkel en die vlamme skiet op na die naghemel. Braaigeure vul die aandlug en ons eet soos konings – braaivleis en vars mieliebrood met konfyt en regte botter.

Vloedslagoffer

Die pad Gaza toe is ’n stowwerige nagmerrie, en die kamp self ’n erge teleurstelling. Die vloed het die eens gesogte kampplek in ’n spookplek verander, en niks was met ons besoek herstel nie. Inteendeel, wat wel oorgebly het, is deur wind en weer verniel tot net enkele houtstellasies en net ’n verrinneweerde baksteengeboutjie het nog gestaan. 

’n Dapper blommetjie pronk pienk en wit en ’n televisieskottel sit onvanpas teen die oorblyfsels van ’n muur. Meegesleurde bome lê langs die rivier soos die waterhand van die magtige Shingwedzi hier alles in sy stroom saamgevat het.

Niemand is spyt om Gaza agter te laat nie. Ons draai suid en kruie op ons spore terug na Sandalo, waar ons die waentjies gelos het. 

’n Luukse kaya

Mbona Kaya is luuks in vergelyking met Gaza. Hier is selfs ’n ekovriendelike-toilet, wat lyk soos ’n kruising tussen ’n puttoilet en ’n spoeltoilet. Volgens Hennie was daar ook ’n stort op die wal van die rivier, maar dié is vermoedelik ook met die rivier êrens heen. Ons staan twee dae hier, was die stof behoorlik van ons lywe af en verken die omgewing.

Hier is nie veel water nie maar die vloedskade is orals te sien. Die Shingwedzi se vloedbed is op groot gedeeltes al droog en ruik na die see. Hier is sowaar skulpe en ’n mens kan nie help om te wonder oor die verband nie tussen rivier en see hier in die binneland.

Ook hier is die vloedskade duidelik sigbaar. Die Shingwedzi het hom nie aan die kronkels in die rivierloop gesteur nie en sommer reguit koers gekies. Opdrifsels vertel die droewige verhaal. Die twee dae hier is ’n goeie verposing voor die pad na die Massingirdam. 

Ons versien voertuie, raak van die ergste stof ontslae, deel stories en staaltjies en eet heerlik.

Na Massingir

Vroeg op die derde oggend, val ons in die pad. 

Maklik is dit beslis nie, maar die stof word genadiglik deur die reën in bedwang gehou. Die hoofpad na die dam toe is hard en uitgery. Hier word afstand nie in kilometer gemeet nie, maar in ure. Die 100km na Massingir is drie ure se ry.

Deur die loop van die oggend hou dit op met reën en gou warrel die stof weer onder die bande uit. By die dam reën dit egter weer en bly die res van die dag bewolk en koel. Ons maak ook ’n draai in Massingir-dorp, koop gebakte pães (heerlike broodrolle) en Mosambiekse bier en dwaal by die kleurryke mark rond.

Massingir is ’n treffende voorbeeld van die soort platteland wat ’n mens verder noord in Afrika aantref. Stofstrate, bokke, hoenders en varke wat vreet-vreet straatop stap. Hier en daar is takkrale agter ’n baksteenhuis opgerig en oraloor is daar nuwe baksteenhuise in aanbou. 

Op die pad terug na die Machampane-wilderniskamp waar ons die eerste aand gekamp het, kras die radio nie kort-kort om die een of ander interessante opmerking oor die pad of omgewing te maak nie. Die toer staan einde se kant toe en niemand is juis opgewonde om terug te gaan huis toe nie.

Oral op die pad terug kamp toe is daar afdraaipaadjies wat vorentoe weer by die grootpad aansluit. Ons neem hierdie kortpaadjies deur die ruigtes met bande wat stof en klippies opjaag.

Die vraag op almal se lippe, maar wat nie regtig gevra word nie, is of die ‘regte’ Shingwedzi-roete anders sou gewees het. Ons sou nie by Mbona Kaya aangedoen het nie en ook nie Massingirdam, die mark óf die dorpie nie.

Ons almal wou graag die ekoroete, die Koorsboomwoud sien en by Mapai bier drink, maar dit het nie so uitgewerk nie. Gelukkig het ons ’n ervaring gehad wat min ander mense seker al beleef het. 

Laatmiddag is ons groep terug by die kamp en vir sommiges sou die volgende dag vroeg begin met lang ritte huiswaarts.

Die aand maak ons oorskietkos warm en verorber dit met pães. En so sal ons bly wonder hoe die ware Shingwedzi-ekoroete sou wees.


Hierdie artikel het in WegRy #66 (November 2014) verskyn. Ons probeer nuwe inligting bywerk maar feite en geite kon intussen verander het – laat weet gerus as jy so iets raaksien.