Vanderkloof in die Noord-Kaap was nooit veronderstel om ’n dorp te wees nie.
In die jare sewentig het die departement van waterwese ’n klomp opslaanhuise opgerig vir die werknemers wat die P.K. le Roux-dam (nou die Vanderkloofdam) moes bou.
Toe dié damwal, op 108 m die hoogste in Suid-Afrika, uiteindelik in 1977 voltooi word, was baie van die werknemers al na aan aftree-ouderdom. Hulle het só lekker gebly dat hulle nie wou trek nie.