Sleep sonder swaai

akkreditasie
Uit die argief: Op YouTube is ’n klompie video’s waarop ’n mens kan sien hoe ’n swaaiende woonwa só erg buite beheer raak dat dit omslaan én die sleepvoertuig ook sommer omruk.

Dit is een ding om dit te sien as daar geen ernstige beserings of lewensverlies is nie, maar die wêreld se nuusargiewe is ook vol berigte van sulke ongelukke wat mense se vakansie tragies laat eindig het.

Ons lesers wat amper in swaaiongelukke was, sê jy wil nie in daardie sleepvoertuig wees as die wa buite beheer raak nie. Op ons Facebookblad het Johan Naudé van Newcastle geskryf: “Dit is skrikwekkend...jou sleepvoertuig word rondgeruk en die agterwiele lig op.”

Jan Kruger van Mosselbaai sê hy was een slag op pad Krugerwildtuin toe toe hy so ’n noue ontkoming gehad het: “Dit was ’n kwessie van die stert wat die hond swaai... Al wat jy kan doen, is om spoed te verminder en jou kombinasie in die regte rigting te probeer hou, hom stabiel probeer kry. Ek het in dié situasie beland weens die woonwa se bande wat te pap was. Van toe af sleep ek met die woonwabande wat met stikstof gepomp is – in die somer tot 3 bar en in die winter 3,5 bar. Dit werk vir my.”

Johan sê ná sy ontkoming het hy van sleepvoertuig verander. Sy kar was te lig in die broek vir sy wa. “Die krag en gewig van die voertuig speel ’n rol in stabiliteit.”

JY REM NIÉ

Wat doen jy die dag as jou wa hier agter jou erg begin swaai en jou kar begin rondruk?

Die woonwa- en sleepkenners Hans Koekemoer van Pretoria en Pieter Crous van Kaapstad sê Jan het die regte ding gedoen deur spoed te verminder en alles moontlik te doen om sy sleepkombinasie weer stabiel te kry.

Die raad wat sommige mense gee dat jy na ’n laer rat toe moet terugval en dan lepel trap en vetgee as jou wa erg agter jou begin swaai, is die verkeerdste raad nóg. Jy slaan ook nie remme aan nie. Dit is doodsake.

Hans sê: “Jy slaan nié remme aan nie. Jy haal jou voete van die pedale af, jy hou die stuurwiel vas en jy konsentreer om op koers te bly. Jy laat jou voertuig teen die omwentelinge spoed verloor.”

Pieter beklemtoon dit ook: “Jy los alles uit. Jy rem nie, jy gee nie vet nie en jy wag om weer beheer te kry. Veel meer kan jy nie doen nie. Ek het dit al oorgekom en praat uit ondervinding.

“Die enigste tyd wat jy wel ’n bietjie kan vetgee, is as dit teen ’n taamlike steil opdraande gebeur. Teen ’n afdraande kan jy liggies rem, maar dit moet báie liggies wees. Jy moet glad nie in só ’n situasie gaan staan en doodrem nie.”

DOEN DIT REG

Die twee sleepkenners sê deur ’n paar dinge van die begin af reg te doen kan jy keer dat jy in ’n swaaipenarie beland.

LAAI HOM MOOI

As jy jou wa reg pak en die gewigsverspreiding is reg, is die kans skraal dat jou woonwa buite beheer kan raak, sê Pieter. “Verkeerd laai is seker die grootste rede vir die swaaiprobleme – die grootste probleem is dat slepers te veel goed agter in die wa pak.”

Hans stem saam: Hy sê die geheim van woonwa pak is om te onthou neusgewig is stabiliteitsgewig en stertgewig is swaaigewig.

“As jy te veel in die stertkant pak, gaan jy ’n pendule-effek kry. Jy begin van die as af swaarder laai vorentoe en jou neusgewig moet verkieslik in die omgewing van 70 kg wees. Hoe nader jy aan die perk van 100- 110 kg kan kom, hoe beter.

“As jou wa aangehaak staan, moet die neus effens boontoe wys, maar as jy wegtrek, moet dit gelyk wees. Mense maak ook die fout om alles agter te pak as die neus te veel afwaarts wys en dan kry hulle daardie pendule-effek.”

Pomp daai bande

Hans en Pieter sê Jan was in die kol met die besluit om sy woonwabande 3 bar te pomp. Hulle pomp ook albei hulle waens se bande 3 bar en dit werk. Bande wat te pap is, is een van die grootste oorsake van waens wat onnodig en erg aan die swaai gaan.

“As die remme nie reg gestel is nie, vat hulle skeef, trek na die kant toe en jou wa gaan dan swaai. Padwaardigheid is ongelooflik belangrik.”

Hans sê deesdae se bande met hulle sagte sywande absorbeer van die skok en verplaas gewig met sywaartse rolbewegings. As jou wa se bande egter nie behoorlik gepomp is nie, is dié rolbewings te erg en dit lei daartoe dat jou woonwa swaai.

Deur die bande tot 3 bar te pomp beperk jy dié rolbewegings. Jy moet ook seker maak die een band is nie stywer as die ander een gepomp nie.

Sulke oneweredigheid lei ook tot swaaiprobleme. Dit is ’n fout om vir jou wa bakkiebande met harde sywande op te sit vir stabilitieit, maar dit dan te sleep met ’n voertuig waarop sagtewand- of laeprofielbande is.

Die rolbeweging van die voertuigbande word dan te veel oorgeplaas na die wa. Die Kaapse woonwadokter Johannes Knipe sê woonwabande wat nie hard genoeg gepomp word nie, het ’n groter kans om te bars.

Dit geld ook vir wabande wat nog nuut lyk omdat hulle min gebruik word, maar eintlik reeds daarmee heen is. Jy kan ’n duur prys betaal daarvoor: jou wa.

PAMPERLANG DIE REMME

Hans sê slepers wat selde die remme van hulle waens en sleepvoertuie laat nagaan, maak ’n groot fout. “As die remme nie reg gestel is nie, vat hulle skeef, trek na die kant toe en jou wa gaan dan swaai. Padwaardigheid is ongelooflik belangrik.”

WAT VAN ’N STABILISEERDER?

Hans sê die hedendaagse woonwaens word só gebou dat hulle nie werklik stabiliseerders nodig het nie. “’n Stabiliseerder is nie die Alfa en Omega van veilig sleep nie. Dit help wel met die verplasing van gewig en om jou sleepkombinasie meer stabiel te maak.”

PASOP VIR DIE LORRIE

Een ding wat jy nooit moet doen nie, is om op ’n afdraande teen ’n spoed by ’n vragmotor verby te gaan, sê Hans. “Daardie suigkrag wat jy voel wanneer jy ’n vragmotor verbysteek, is sterker teen ’n afdraande. Slepers maak dan foute. Sodra hulle voel hulle word deur die suigkrag nader getrek, probeer hulle dit regstel en dan kry jy woonwaswaai teen daardie afdraande af.” Teen ’n opdraande is dit wel veilig om verby te steek, sê hy.

EN MOENIE JAAG NIE

Seker die heel belangrikste aspek van sleep is om nié te jaag nie, sê Hans. “Nooit nie. Die beste bly maar om niks vinniger as 110 km/h te sleep nie, en dan ook net as dit ooppad is en die omstandighede dit toelaat.

Ek hoef nie vir enigiemand wat al gesleep het te vertel van dwarswinde wat die wa skeef druk nie. “Jy kan nie teen 140 km/h gaan staan en jaag met ’n woonwa op die haak nie. As ’n sterk dwarswind jou dan vang, gaan dinge lelik skeef loop.” 


Hierdie artikel het oorspronklik in Oktober 2017 verskyn. Feite en geite kon intussen verander het – laat weet gerus by digitaal@weg.co.zaas jy iets raaksien.